Suid-Afrika se landbou kan nie die uitwerking van internasionale gebeure vryspring nie. Bepaald vir landbou-ondernemings is konsolidasie, ofte wel die samevoeging van besighede, 'n wêreldwye neiging.
Verskeie faktore gee aanleiding tot dié neiging. Dit word veral sterk geprikkel deur die behoefte om kostestrukture só aan te pas dat dit 'n verlaging in koste meebring namate 'n onderneming uitbrei.
'n Goeie voorbeeld van dié neiging is Senwes, van Klerksdorp, se poging om Suidwes, van Leeudoringstad, oor te neem. Senwes het 'n regstreekse aanbod aan Suidwes se aandeelhouers gedoen, maar Suidwes-aandeelhouers het dit afgestem. Senwes sê hy sien 'n groter rol vir homself in die landbou en daarom is groter doeltreffendheid nodig. Sy siening is dus 'n groter onderneming is 'n beter onderneming.
Dit is hier waar die debat oor konsolidasie in die landbou vir 'n wyle behoort stil te staan. Is dit reg dat 'n groter maatskappy 'n kleiner maatskappy oorneem, ook al lewer die kleiner maatskappy 'n aanvaarbare opbrengs vir sy aandeelhouers? Selfs nog belangriker, dié vraag moet gevra word teen die agtergrond van die belangrike rol wat die landbou en bepaald landboumaatskappye op die platteland speel.
Internasionaal gesien, is konsolidasie 'n sterk neiging. Daar is wel ook 'n ander neiging: Die ontstaan van kleiner koöperatiewe ondernemings. Albei bewegings het verdienste.
Landbou-ondernemings in die algemeen is 'n belangrike werkverskaffer, lewer produkte en dienste vir verskeie ekonomiese aktiwiteite in die gebiede wat hulle bedien, en vervul indirek ook 'n belangrike maatskaplike rol.
Om kleiner ondernemings se saak te kan verdedig, moet die vraag gestel word of só 'n onderneming wel die beste opbrengs aan sy aandeelhouers lewer. Daar kan dus gevra word of Suidwes se bestuur wel voldoende waarde vir sy aandeelhouers ontsluit. En of hy dit nie beter sal kan doen in 'n groter, gekonsolideerde struktuur nie.
In dié opsig het Suidwes se aandeelhouers 'n belangrike strategiese besluit geneem. Hul besluit is immers op die lang termyn gemik.
Landbouweekblad, 12 Oktober 2007