Landbou
Plantsyfers verras nie juis
Deur MANIE

Gegewe die sterk stygings in graanpryse die afgelope jaar, verstaan Manie die nasionale Oesskattingskomitee se jongste syfers was nie veel van 'n verrassing nie. Dit was glo min of meer te wagte.

Die skatting is die eerste indrukke wat 'n mens kry oor hoeveel graan boere wil plant. Hoewel dit nou eers die begin van die planttyd is en die prentjie weliswaar kwaai kan verander, gee dit nietemin 'n goeie idee van hoe sake nou staan.

Met betreklik gunstige pryse het boere nie juis 'n ander aansporing nodig nie. en, onthou ook, kwaai stygings die afgelope jaar in kommoditeitspryse het voedselpryse laat toeneem - wat natuurlik die wenkbroue laat lig het by verbruikers en die Regering. Swak toestande hier, maar ook internasionale ontwikkelings, soos krimpende voorrade, groter verbruik en die vervaardiging van biobrandstof, het graanpryse laat styg.

Die meeste van die komitee se syfers is na aan dié wat Graan SA vroeër vanjaar op sy inligtingsvergaderings aan boere gewys het. Byvoorbeeld, waar Graan SA boere aanbeveel het om 1,285 miljoen hektaar wit mielies te plant, praat die komitee van 1,595 miljoen hektaar. Vir geel mielies was die aanbeveling 1,156 miljoen hektaar - die komitee noem 1,074 miljoen hektaar.

Daar is moontlik kommer oor die oppervlakte vir sojaboon-aanplantings. Graan SA het gesê 225 000 hektaar produksieruimte bestaan, maar dit lyk of boere slegs 150 000 hektaar wil plant. Dit is 'n daling van 18 % teenoor verlede jaar se 183 000 hektaar.

Dalk het die swak gehalte van die vorige oes boere ontmoedig? Die droogte het die gehalte só laat daal dat die oes moeilik bemarkbaar was. Of is daar dalk fout met die Oesskattingskomitee se steekproef in die opname? Manie wonder sommer net.

Is daar nie geleenthede vir uitbreiding nie?

ANDER TEKEN: Toe Manie verlede week die nuus ontvang het dat Senwes se poging tot 'n vyandige oorname van sy buurman Suidwes deur Suidwes-aandeelhouers afgestem is, kon Manie nie help om te wonder wie volgende in Senwes se visier gaan kom nie. Dalk is daar reeds elders in die land gesprekke aan die gang? Onthou, Senwes soek daardie ekstra bietjie lyf voor hy sy buiging op die JSE maak...

Soos dit vir Manie lyk, het Senwes se direksie nie gedink Suidwes-aandeelhouers sal so reageer nie. Om die waarheid te sê, Manie dink Suidwes se direksie het óók nie gedink Suidwes-aandeelhouers sal só reageer nie. Suidwes se hoofmanne is verras deur die oorweldigende stemming én die goeie bywoning van die jaarvergadering.

Manie verstaan vorige jare het die direksie soms oor te min verteenwoordiging gesukkel om 'n besluit deur te voer. Maar vanjaar se jaarvergadering was anders. Die faksmasjiene het behoorlik geraas soos die volmagvorms ingestroom het.

Ja, die duidelikste teken van vertroue is in Suidwes se direksie gestel. "Ons het die laaste paar jaar goeie opbrengste vir ons aandeelhouers gegee. Ons is 'n mooi meisie - die ouens wil met ons dans," sê 'n Suidwes-hoofman oor die belangstelling in sy maatskappy.

Maar, ja, enkele mense het vir Manie laat weet Senwes moes dalk vriendeliker in sy oornamepoging gewees het. Oornamepogings deur byvoorbeeld Afgri 'n paar jaar gelede het boere toe ook aan die praat gehad - en dit was destyds ook duidelik dié klas oornames in die landbou kry moeilik aandeelhouers se steun.

HULP: Die hele land gaan gebuk onder droogte. Ja, daar's natuurlik die een groupie boere wat meen dit is erger by hulle as by ander - en dit kan so wees. En daar mag selfs stemme opgaan wat vra of Gauteng werklik 'n droogte beleef.

Wat Manie nie kan verstaan nie, is dat droogtehulp teen 'n verskriklik stadige pas in werking gestel word. En dis nie net Manie wat so sê nie, kêrels, die Regering noem dit self.

Die man in beheer van rampsake in die Departement, Ikalafeng Kgakatsi, vertel hy het in Mei by die Tesourie aansoek gedoen om R200 miljoen se droogtehulp.

Toe kom die brande in veral Mpumalanga en KwaZulu-Natal en oorstromings in die Wes-Kaap. In September doen hy toe weer aansoek vir R400 miljoen se hulp.

Nou-ja, dit is 'n taamlike bedraggie en in die konteks van die afgeskaalde beskerming wat die Regering in die algemeen aan die landbou bied, moet die hulp verwelkom word. As Manie vir Ikalafeng reg verstaan, word daar vandeesmaand eers somme gemaak in die Tesourie en dan sal die nodige geld goedgekeur word. Trouens, hy sê voorstelle vir 'n aangepaste weergawe is nou in die pyplyn. En een van die belangrikste aanpassings wat hulle aanroer, is geld.

Die lang tydsverloop tussen die ramp en hulpverlening pla en hulle wil dit graag regstel. Dit sal een gróót voordeel wees.

Soos Manie dit het, is provinsiale departemente van landbou in 'n beter posisie om 'n doeltreffende rol ten opsigte van hulpverlening te vervul. Die probleem is hulle het nie altyd die nodige hulpbronne om boere in tye van nood te help nie. Hopelik sien ons gou 'n verbetering.

AUSSIE-DROOGTE: Dis nie dat Manie moedswillig is en die Australiërs altyd by elke saak wil betrek nie; dit bly interessant hoe soortgelyke situasies verskillend gehanteer word. Van droogte gepraat, Manie sien in Australië het die staatshoof, John Howard, gesê die droogte daar is so erg dat mense hulle moet begin voorberei op 'n voedseltekort. En in dieselfde asem sê Howard verbruikers moet hulle staal vir hoer voedselpryse.

Dis 'n werklikheid, sê hy. Tog glo hy die droogte sal nie 'n beduidende getal boere van hul plase afjaag nie.

ONGELUKKIG: Manie verstaan sommige lede van die TLU SA is nie gemaklik met wat twee weke gelede in dié rubriek geskryf is nie. Dit was opmerkings na aanleiding van die organisasie se jongste nasionale kongres. Daar's blykbaar lede wat sê: Manie kan nie sê die TLU SA erken nie die Regering nie. Of dat die TLU SA hom met ras-politiek ophou nie.

Kêrels, dié soort ding is deur van jul mede-kongresgangers van die vloer af gesê. Dit weerspieël dus sommige kongresgangers se mening. Dié sienings is weliswaar nie die organisasie se amptelike standpunt nie en die voorsitter plaas nie sy stempel hierop nie.

Maar is dit nie positief nie? Dat 'n TLU SA-hoofman die telefoon optel en vir Manie skakel om te sê dié organisasie distansieer hom van sulke kommentaar deur van sy lede.

Landbouweekblad, 12 Oktober 2007