Manie wil vandag semanties met Adjunk-landbouminister Dirk du Toit redeneer, en wel oor die woord hipotese.
Die Verklarende Woordeboek beskryf dit só: Veronderstelling wat as waarheid aangeneem word en as grondslag van 'n redenering dien.
Dirk verwys die laaste tyd gereeld na die afsetting van plaaswerkers, en sê in sy laaste uitbarsting op tV boere is met 'n vorm van etniese suiwering besig.
Dis 'n verskriklike aantyging teen die landbougemeenskap as geheel, want wat hier gebeur, is presies wat die woordeboek beskryf: Veronderstelling wat as waarheid aangeneem word.
Dirk kan klaarblyklik nie verstaan hoekom die landbougemeenskap so in opstand kom hieroor nie.
Wel, Dirk, kom Manie maak dan 'n hipotese op jou van toepassing.
Veronderstel ek is 'n boer. 'n SABC TV-joernalis loop my iewers op 'n boeredag raak en vra my oor jou uit. Ek maak dan die volgende opmerking op nasionale TV: "Ek het nie klinkklare bewyse daarvoor nie, maar ek dink Dirk du Toit worstel met 'n drankprobleem."
Dirk, jy gaan waarskynlik in jou sitkamer op en af spring van woede, jou prokureur bel en my onmiddellik dagvaar vir laster, naamskending en watter klagte jy ook al kan dink, want ek klim mos nou grof in jou karakter in.
Maar dis presies hoe boere voel. Die georganiseerde landbou vra vir bewyse van die aantygings wat jy so gereeld maak, maar hulle beweer hulle kry dit nie, en as hulle kry, is die voorbeelde maar dun.
Jy maak waarskynlik grootliks op die Nkuzi-verslag staat vir jou aantygings oor afsettings, of die rits NGO's vir wie Lulu so lief is, maar kom sê 'n slag op nasionale TV hoeveel uitsettingsake die laaste twee jaar landwyd deur die howe gehanteer is. Nog beter, hoeveel statistieke het jou eie departement (Grondsake) hieroor?
Sê presies in watter distrikte kom die euwel voor, wat is die omvang en - baie belangrik - die presiese aard daarvan, ook die redes, en stel die getalle dan in perspektief tot die totale boeregemeenskap. Dan kry ons mos nou 'n mooi prentjie van hoe wydlopend is die etniese suiwering waarvan jy praat.
Doen ons daardie guns, Dirk, dan hoef ons nie met hipotetiese gevalle te werk soos hierbo nie. Landbouweekblad sal graag ruimte afstaan, al beteken dit ook boere moet hul woorde sluk.
Ten minste praat ons dan syfers, en nie veronderstellings, veralgemenings of dun voorbeelde nie.
VREES HY?: Terloops, die vraag wat natuurlik nou soos 'n veldbrand versprei, is of Dirk nie dalk "eviction" uit die cabinet vrees nie; is hy nie besig met 'n desperate poging om sy profiel te probeer lig nie?
Is dit dalk hoekom hy deesdae al hoe meer soos 'n kloon van PW en John Vorster lyk? Op nou die dag se konferensie het hy sy Engelse r'e darem alte veel soos oubaas John in sy "heyday" gerol. En daai vingertjie wat hy so gretig rondgooi . . . PW uitgeknip.
Daar's bespiegelinge dat Dirk die ergste vrees omdat hy nie meer hoog op die ANC-lys is nie, dat Desember in Polokwane nader kom.
Wat die volgende groot vraag laat opduik: Maak hy hierdie aantygings met Lulu se stilswyende seën? Meer nog, met die President se seën?
Hoekom het Dirk nie die gewraakte uitlatings anderdag tydens die vergadering met pres. Mbeki gemaak nie, hoekom wag net totdat sy gesig vol in die TV-kamera verskyn?
En, terloops, van dié goed gepraat, hoekom wil Lulu nie haar groen lêer met beweerde bewyse van plaasafsettings aan die georganiseerde landbou oorhandig nie? Hoekom is daar net twee voorbeelde, wat toe in elk geval maar nie ware plaasafsettings blyk te wees nie?
Ewenwel, dit klink vir Manie na 'n goeie idee dat Lourie Bosman-hulle 'n slag self en alleen met die President gaan gesels om agter die kap van die byl te kom.
Klaarblyklik is daar reeds só 'n versoek gerig, hoor Manie via die lugreëlaar in die Uniegebou.
STAAN HIER: Van Lulu gepraat: Ek sien sy's nou die onderwerp van 'n nuwe Afrikaanse liedjie op 'n CD wat pas op my lessenaar beland het. Die sanger is Jan Boer, die CD se naam Als Behalwe Vry.
Hier's 'n paar uittreksels uit die snit Lulu:
"Lulu Xingwana, wat doen jy dan nou? Verwag jy dat die boere vir jou moet vertrou? Hey, liewe Lulu, die boer se hart brand; is jy die landbouminister van ons land? Lulu, kan jy dan ooit 'n aartappel plant?
"Ag, ou liewe Lulu, wat struggle jy dan so? Die landbou is besig om sy gat te sien. "
Jan Boer sluit dan af met "Lulu, kom staan liewer hier aan ons kant. "
Dit moet 'n eerste wees - 'n minister van landbou wat die tema van 'n liedjie is. Dit wys maar net hoe wyd kring die geharwar in die landbou uit - selfs daarbuite.
SLAPELOOS?: Kyk, jy kan van die Ficksburgse boer Eddy von Maltitz met sy kenmerkende kamoefleerdrag en die pistol op die heup sê wat jy wil, maar oor die landbou is hy passievol.
Manie kom agter die omstrede Eddy praat nogal gereeld oor landbou op inbelprogramme op die radio. Nou onlangs het hy selfs vir finansminister Trevor Manuel, wat die betrokke oggend die gas was, 'n paar waarhede op SAFM vertel.
Die gesprek het om voedselsekuriteit en die prys van stapelvoedsel gedraai. Toe bel Eddy: "Minister, sir, there is a very important statement that says burn our cities and leave our farms, and tomorrow the cities will bloom again; but burn our farms, sir, and the grass grows in the cities. "
Afrika sterf van honger omdat hy nie voedselsekuriteit het nie, die lande het nie 'n sterk landboubeleid nie, gaan Eddy voort, en sê toe: ". . . voedsel is die grootste wapen waarmee enige land kan spog. "
Manuel het in die loop van die program natuurlik in wese met Eddy se siening oor voedselsekuriteit saamgestem toe hy gesê het ons moet diep gaan dink of ons stapelvoedsel, soos mielies en koring, vir biobrandstof moet gebruik. Wat 'n mens natuurlik laat verstaan hoekom die Regering so talm om sy beleid vir biobrandstof afgehandel te kry. Manie vermoed die voedselkwessie is inderdaad besig om beleidmakers toenemend te laat wakker lê.
PLAT BORS!: Wat het die All Blacks en die Wonderbra in gemeen? "Lots of support, but no cup . . . "
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007