Om aan die einde van die jaar vir die landbousektor enkele opmerkings te maak oor die gebeure van die jaar en die verwagtings vir die jaar wat kom, is voorwaar nie maklik nie. Die vloei van inligting word ál meer, ál vinniger en die omgewing ál meer kompleks. Besluitneming word 'n hoërisiko-onderneming.
Daar is min twyfel dat mense 'n diepe ongemak ervaar oor die situasie waarin hulle verkeer. Die vraag of daar nog 'n toekoms in die land is, word ál dringender en met groter erns gevra. 'n Mens kry die indruk dat mense nie dislojaal is nie, hulle is eerder lojaal bekommerd.
Bestaande politieke instellings wek nie meer vertroue nie. Was daar al ooit 'n tyd wat mense so a-polities was? Nasiebou het meer 'n politieke oefening geword wat hoofsaaklik deur die SABC bedryf word. Mense onttrek hulle aan die samelewing en doen ál meer hul eie ding. Dit is nie 'n gesonde toestand nie, maar dit is 'n harde werklikheid.
Daarom is dit nodig dat oor bepaalde sake ernstig en reguit gepraat word. Die toekoms is in 'n groot mate die resultaat van vandag se besluite en optrede - of gebrek aan optrede. Die ramp of voorspoed van die toekoms is in die besluite van vandag vervat.
Die politieke debat van vandag is uiters lewendig, maar in baie opsigte eng en eensydig. Dit is 'n debat wat sy neerslag vind vanuit 'n politiek-gedrewe verlede. Die dinamiek van die totale samelewing word vanuit politieke terme verstaan: Die betekenis van die "struggle", die algehele getallemeerderheid in die parlement ten opsigte van wetgewing en die erfenis van apartheid wat vernietig moet word. Op regeringsvlak gee dit die stukrag agter besluite vir vandag en die toekoms.
Die private sektor, en die kommersiële landbou in die besonder, het te doen met 'n besonderse probleem. Daar is 'n dualisme in die politieke stelsel wat 'n interne konflik bedek.
Die huidige ANC-regering het 'n sterk politieke profiel: Hy het drie verkiesings gewen, geniet 'n tweederde-meerderheid in die Parlement en kan enige wetgewing ter tafel plaas.
Dit staan egter in kontras tot die Regering se regeerprofiel: Sy vermoë om wetgewing vanuit die Parlement op die sypaadjie van die samelewing te plaas. Hier gaan dit om dienslewering in die algemeen en die hantering van reg, orde en misdaad, in die besonder vir die kommersiële landbou.
In hoflike kommentaar word dikwels gesê dat die ANC-regering nie sy "politieke mag kan projekteer" nie. Die staat kan wette maak, maar nie sy eie wette toepas nie. Hierdie inherente konflik het belangrike implikasies vir besluitneming binne die kommersiële landbou, want die dualisme kan volgens aanduidings verder verswak.
Die vraag is dus nou hoe die kommersiële landbou dit gaan hanteer.
Hier kom 'n besonderse probleem vir die kommersiële landbou na vore. In landboukringe word dikwels van die Regering verwag om "in te gryp" om sake reg te stel, of om hulp te verleen tydens rampe, of daar is uitsprake soos, ons moet die Regering se hand sterk.
Die grondslag hiervan is 'n bepaalde indruk van die soewereiniteit van die staat, die rofweg histories aanvaarde persepsie - dit is soos dit nog altyd gebeur het. Die implikasie is dat die staat reguleer en dat hy die vermoë het om daardie besluite te projekteer tot op die vlak van die sypaadjie.
Teen 2007 tree 'n ander scenario egter ook na vore. Wat gebeur as 'n staat nie meer sy politieke mag kan projekteer nie? Hy wen die verkiesing, maar kan nie regeer nie. Dit is hier waar dinge deurmekaar begin loop, want nou klop die tradisionele denke nie meer nie.
Dit help nie om vir die minister te vra om in te gryp nie, want hy kan nie.
Die Britte het 'n pragtige uitdrukking hiervoor: "Society becomes governmentally empty." Dit is, terloops, 'n begrip wat ál meer in die buiteland gebruik word wanneer oor Suider-Afrika gepraat word.
As hierdie scenario begin realiseer, sal die kommersiële landbou anders oor die toekoms moet begin dink en besluite neem. Daar is alle aanduidings dat hierdie scenario baie sterk besig is om dominant te raak. Dis nog nie algemeen bekend nie, grootliks omdat dit nie deel vorm van die nasionale politieke debat nie. Tot dusver het die "politiek-korrekte" in 'n groot mate bepaal waaroor gepraat mag word. Dit het egter weinig bygedra tot 'n beter bestuur van dringende sake, soos grondhervorming en reg en orde.
Dit wil voorkom asof die huidige gesprek tussen die Regering en die kommersiële landbou sy rakleeftyd bereik het. Die Regering is nie tevrede met die tempo van grondhervorming nie, die kommersiële landbou is ongelukkig met die wyse waarop dit toegepas word en beklemtoon die feit dat die landbou nie bedryf kan word in 'n situasie waar reg en orde nie gehandhaaf word nie.
Die rede hiervoor kan herlei word na die genoemde inherente dualisme in die politieke stelsel wat nou sterk na vore begin tree. Dit gaan hier om meer as 'n gebrek aan reg en orde; dit gaan om die regeervermoë van die staat. Vanuit sy sterk politieke profiel het die ANC die beleid van transformasie in die staatsdiens op die tafel geplaas. Dit was gou duidelik - ook in uitsprake van pres. Thabo Mbeki - dat dit tot 'n verlies van kundigheid gelei het.
Die probleem lê nie by 'n gebrek aan reg en orde nie, maar by die funksionele agteruitgang van die hele staatsdiens. Dit kom nogal as 'n skok. Dit was nie veronderstel om te gebeur nie, maar dit het gebeur.
Dan kom die vraag: As huidige neigings verder ontwikkel, waar gaan dit die kommersiële landbou laat teen 2010?
Binne die huidige konteks kan 'n substansiële verbetering van reg en orde nie maklik verwag word nie. Dit beteken nie noodwendig dat die situasie op 'n chaos afstuur nie. Alles gaan afhang van die besluite wat nou geneem moet word.
Hierdie besluite is van kritieke, strategiese belang vir die toekoms. Hier is geen grondwetlike of politieke riglyne beskikbaar nie, want ons gaan 'n onbekende omgewing binne. Vanuit 'n toenemend sentralistiese bestuurstyl wil die staat besluitneming ál meer onder sy beheer kry, maar die uitvoering daarvan realiseer nie - die diens op die sypaadjie bly weg.
Die tradisionele oplossing vir die probleem was dat die mense op die sypaadjie die parlement bestorm en oorgeneem het - die resultaat was gewoonlik 'n staatsgreep. In die 21ste eeu met die koms van tegnologiese innovasie werk dinge anders. Die mense loop nie meer die Parlement storm nie, hulle neem die sypaadjie oor en omseil die Parlement. Die Parlement stem en neem nog besluite, maar die mense op die sypaadjie steur hulle nie veel daaraan nie. Die politieke proses word eintlik as irrelevant eenkant toe geskuif.
Hier is 'n proses aan die gang wat heeltemal vreemd, maar tog vernuwend is.
Daar is 'n baie duidelike neiging binne die samelewing dat mense funksioneel begin voorsien in wat die staat nie langer kan voorsien nie. Die feit dat die private sekuriteitsmaatskappye tans drie keer groter is as die amptelike polisiemag sê iets hiervan.
Omdat die staat sy eie regeervermoë gekompromitteer het, begin die samelewing oorneem en dupliseer wat hy nodig het om te oorleef. Op die veiligheidsterrein het dit begin met heinings en honde. Nou het dit 'n vlak bereik waar groot dele van stedelike komplekse besig is om in 'no-go"-gebiede te ontwikkel.
Dit word afgeslote gebiede waar mense toenemend met eie geld en inisiatief in hul eie behoeftes begin voorsien. Wat hier na vore kom, is nuwe alternatiewe strukture, hulle is nie polities nie, maar hulle is funksioneel.
Wie hierdie nuwe neigings miskyk, verstaan nie waarheen Suid-Afrika op pad is nie. Wat hier getoets word, is die tradisionele konsep van die staat se soewereiniteit wat stelselmatig deur iets nuuts vervang word, wat nog nie mooi vorm en lyf het nie.
Hierdie nuwe neiging kan ongemaklike verrassings oplewer aangesien dit die regeervermoë van die staat tot sy maksimum kan toets. Die gebeure in Zimbabwe het 'n vloei van mense - en misdaad - na Suid-Afrika uitgevoer. Die kommersiële landbou op die grens het onder groter druk gekom. Die opskorting van die kommandostelsel is nog nie met 'n werkbare alternatief vervang nie. Suid-Afrika sit eintlik met "oop grense".
Wat op die grond gebeur, is meer kompleks. Dit is al 'n geruime tyd duidelik dat daar 'n stuk niemandsland besig is om te ontwikkel - noord van die Soutpansberg tot by Bulawayo in Zimbabwe. Aan albei kante van die grens is daar 'n gebrek aan reg en orde, toenemende vry vloei van die bevolking ongeag die grens by die Limpoporivier, en die toenemende onvermoë van die regerings om die bevolking te ondersteun.
Daar is geen militêre bedreiging vanuit Zimbabwe nie, maar dit beteken nie dat die ineenstorting van Zimbabwe nie 'n dodelike impak op die Limpopo-provinsie gaan hê nie. Wat nie in Suid-Afrika begryp word nie, is dat die situasie op die grense van die land - en dit geld vir Lesotho, Swaziland, Botswana en Zimbabwe - die afgelope paar jaar dramaties versleg het.
Sake waaroor nie gepraat word nie, is dat die lewensverwagting van volwassenes in hierdie lande die afgelope aantal jare tot 30 jaar gedaal het, hoofsaaklik weens MIV/vigs. Wanneer die lewensverwagting daal, daal die menskapitaal ook met 'n dienooreenkomstige styging van armoede, voedseltekorte en werkloosheid.
Wat Zimbabwe dus na die Limpopo en verder verby na die stedelike komplekse uitvoer, is hoë vlakke van MIV-infeksie. Dié land voer egter nie net sy mensprobleme uit nie, maar ook sy diersiektes.
In 2000 het Zimbabwe 'n gesonde uitvoer van rooivleis na die Europese Unie (EU) gehad. Grondhervorming, met die vrye beweging van vee en vermenging met wild in reservate, het aanleiding gegee dat bek-en-klou-seer in die veestapel versprei het. Die uitvoer van vleis na die EU is summier gestaak. Daarvandaan het die infeksie na Botswana versprei waar die slagplase ook gesluit is - tans staan dit voor Suid-Afrika se deur.
Beesboere in Limpopo berig dat veesiektes wat al dekades lank nie meer waargeneem was nie, begin terugkeer. Wat in Zimbabwe gebeur, begin ál meer deurkom na Suid-Afrika se kant toe. Om dit te keer impliseer die aktiewe behandeling van MIV/vigs met ondersteunende, mediese dienste, genoeg veeartse om bek-en-klou-seer te behandel, die herstel en instandhouing van grensdrade, genoeg troepe om padblokkades te beman en genoeg voedsel om mensbeweging te keer. Die hele streek noord van die Soutpansberg loop gevaar om 'n gebied te word waar weinig regeerfunksies gaan oorbly.
As die Regering van die dag nie hierdie funksies kan uitvoer nie, wat hou dit dan vir die kommersiële landbou in? Dít is die vraag wat nou beantwoord moet word as 'n chaos binne vyf jaar gestuit wil word. As die kommersiële landbou wil oorleef, sal hy die sypaadjie moet begin oorneem. Die Regering gaan bepaald nie daarvan hou nie, want dit gaan sy beheervermoë inperk. Maar vir solank die regering geen diens op die sypaadjie kan lewer nie, watter ander opsies is daar?
Landbouweekblad, 4 Januarie 2008