Landbou
Alternatiewe krag-plan
Deur AINSLEY MOOS

Die onderbrekings in Eskom se voorsiening van elektrisiteit aan die Suid-Afrikaanse ekonomie - en bepaald die landbou-ekonomie - het die potensiaal om produktiwiteit en mededingendheid jare agteruit te sit.

Die jongste reeks kragonderbrekings het verskeie eienaars en bestuurders van boerderye en ander ondernemings erg ongelukkig gestem. Die verbruiker word ook benadeel omdat noodsaaklike dienste nie na behore funksioneer nie en die onverwagse onderbreking van kragvoorsiening lewensgevaarlik kan wees.

Die tallose ongeskeduleerde kragonderbrekings - anders as wat Eskom voorgee - het nou 'n stortvloed regsaksies ontketen. Dit sluit die algemene publiek sowel as boere in.

Waar dit verwelkom moet word dat boere stappe wil doen teen verliese wat hulle lei, moet daar terselfdertyd gewaarsku word dat só 'n benadering nie die enigste moet wees nie. Die feit dat Eskom waarskynlik 'n stortvloed prokureursbriewe gaan ontvang, gaan die probleme op kort termyn nie oplos nie. Die gebrekkige elektrisiteitsvoorsiening kan vir ten minste die volgende vyf jaar voortduur. Eskom het die Regering gevra om grootskaalse beleggings in nywerhede tot 2013 uit te stel, uit vrees dat die bykomende vraag na elektrisiteit sake verder erg omkrap.

Gevolglik sal boere met alternatiewe planne vorendag moet kom en probeer om selfversorgend te word ten opsigte van hul kragbehoeftes. Die eerste stap sou wees om kommunikasie met Eskom se hoofbestuur te bewerkstellig sodat die omvang van die krisis ten volle verstaan word.

Wat die alternatiewe planne behoort te behels, is enigiemand se raaiskoot. Dalk iets soos minder kragverbruik in 'n bepaalde ketting. Dan kan 'n mens seker met reg vra of volhoubare oplossings op die duur moontlik is.

Wat wel by boere in dié donker tye moet insink, is dat hulle alternatiewe opsies moet vind om hul boerderye aan die gang te hou ten einde produktiwiteit en mededingendheid sover moontlik te beskerm.

Wie die koste vir die ondersoek na alternatiewe gaan dra, is 'n vraag wat ook swaar weeg.

Landbouweekblad, 1 Februarie 2008