Landbou
Jacob Zuma en die graanboere
Deur MANIE

'n Mens kan sekerlik die toespraak en teenwoordigheid van die ANC-leier, mnr. Jacob Zuma, op Graan SA se afgelope kongres as geskiedkundig beskou. Ja, 'n mens moet versigtig wees om te gou te wil geskiedenis maak, maar hier lê vir Manie soveel aspekte in opgesluit dat 'n mens dit nie sommer ligtelik kan opneem nie. Kom ons kyk na 'n paar van die aspekte.

Eerstens is dit die eerste keer dat só 'n senior ANC-lid Graan Suid-Afrika se kongres toespreek. Onthou, kongres is 'n belangrike gebeurtenis vir graanboere, want dit is waar besluite vir die volgende twaalf maande gedebatteer en geneem word.

Tweedens kon graanboere van die mees senior ANC-lid - en moontlik Suid-Afrika se volgende president - direk hoor wat hy van die landbou in die algemeen en in besonder wit, kommersiële boere dink. (Of al die goed wat hy gesê het amptelike ANC beleid verteenwoordig, kan nie sommer aanvaar word nie.)

Maar dalk was daar iets meer geskied-kundig aan Zuma se besoek. En dit het waarskynlik begin toe Zuma vir die graanboere vertel hoe tuis hy tussen hulle voel. Hulle is mos mense van landelike gebiede en hy kom ook mos van daar. En hoe hy hulle bedank het vir die blote feit dat hulle kos op talle mense se tafels plaas. En hoe dankbaar hy is dat boere dit hul verantwoordelikheid maak om die nasie te voed. Die graanboere het hande geklap. Was dit die eerste keer dat iemand van die regerende party só met hulle identifiseer?

Zuma het selfs gesê hy is bekommerd oor veiligheid, met nóg 'n applous van boere. En dat die ANC aandag gee aan die landbou omdat dit belangrik is.

Nouja, hierdie uitsprake is eintlik maar heuning om graanboere se mond. Mooi woorde van 'n ervare en selfs uitgeslape politikus.

VERSKIL: Vir Manie het die verskil gekom in die tema van Zuma se gesprek. Dat as mense nie met mekaar gesels nie, daar indrukke oor mekaar ontstaan. En dié indrukke (eintlik maar 'n wanindruk) word later die waarheid in jou kop. Dis hoe Manie die man verstaan het.

Manie weet ook Zuma het vooraf gesê hy kom lewer sy toespraak en dan is hy weer vort. Niks vrae nie, asseblief, het hy glo vooraf laat weet. En Manie het ook van 'n vertroueling verstaan dat Zuma skyt-bang was toe hy daar op Bothaville opgedaag het. Hy het nie geweet wat om te verwag nie.

En gegewe die ervare politikus wat hy is, kon hy die gehoor lees en het toe besluit om wel vrae toe te laat. En dit is hier waar die verskil werklik ingetree het.

'n Wit graanboer staan op, stap na die mikrofoon en vertel vir Zuma in Zoeloe hoe belangrik dit is dat na die werker én die boer gekyk word. Zuma luister aandagtig en knik instemmend.

En toe daar seker maklik vier swart opkomende boere hul pos agter die mikrofoon inneem en vir Zuma min of meer dieselfde storie vertel: Die organisasie (Graan SA) het ons al die vaardighede geleer, maar waar is die grond. Julle (die Regering) het gesê julle gaan ons help met grond. Daar waar grond wel beskikbaar gemaak word, is die burokratiese prosesse so lomp en uitgerek dat ons eenvoudig nie op die grond kom nie. En dat die Regering, veral op provinsiale vlak, min ondersteuning bied.

So, as Manie gevra word wat nou eintlik so geskiedkundig aan die gebeure was, moet 'n mens seker sê die moontlikheid dat daar uiteindelik by die ANC, of ten minste by Zuma, die punt gemaak is dat boere verbind is tot die land, om kos te gee en om nuwe, swart toetreders te help. Zuma het van swart boere gehoor wat hulle van die Regering se steunprogramme dink. Zuma was onder die indruk die programme werk, maar dit is nie die geval nie.

WAT DOEN HULLE? Zuma het deurentyd in sy toespraak klem gelê op indrukke en dan natuurlik wanindrukke. En Manie dink hy het waarskynlik self voordeel getrek uit sy eie filosofie: Moenie in jou kop menings vorm oor mense nie. Praat met mekaar sodat jy weet wie die ander party is. Manie meen Zuma het 'n wanindruk van boere en die landbou. Te oordeel na sy opmerkings en liggaamstaal wil dit voorkom asof hy dalk nou 'n beter indruk het. Maar dit laat Manie ook wonder: Het ons liewe landbouminister 'n wanindruk van wit, kommersiële boere? Dié was nog nie eens op 'n Graan SA-kongres gewees nie.

En dan natuurlik laat dit Manie wonder wat die drie landbou-LUR'e doen wat in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) dien. Ja, daar is seker nie veel vergader sedert hul verkiesing in Desember nie, maar Manie wonder darem of hulle die landbou se saak op daardie belangrike vergaderings aanvuur. Onthou, die NUK is die hoogste besluitnemingsarm van die ANC. Dit bepaal die politieke leierskap en rigting van die organisasie (en mos eintlik maar vir Suid-Afrika).

Maar as Zuma voor Graan SA se kongres 'n bepaalde indruk van die landbou en wit, kommersiële boere gehad het, wonder Manie maar net wat die drie LUR'e doen wanneer oor landbousake gepraat word.

Zuma se indruk van dié boere word dalk nou ná die kongres ietwat aangepas en die vraag is: Hoeveel het die LUR'e daarmee te make?

MAKLIK: Daar staan Charl Senekal, suikerboer van KZN, en die man wat Zuma by die graanboere uitgebring het, toe spontaan op nadat Zuma klaar gepraat het en sê vir die kongres: "Gebruik vandag. Ek dink ons het die regte man aan ons kant." As Manie Charl reg verstaan, vra hy eintlik graanboere om voort te bou op wat daardie dag gebeur het. Die vraag is "hoe?". Manie sou reken Graan SA het die man tog genooi en nou moet hulle dit vir Zuma maklik maak. Behou die momentum.

Groot maatskappye se knoeiery met voedselpryse bied straks vir die georganiseerde landbou 'n kans om na vakbonde uit te reik. Soos Prof. Herman van Schalkwyk van Kovsies op die koringwegbreeksessie op die kongres gesê het: "Hier is 'n geleentheid." Te oordeel na hoe katvoet Zuma is vir kritiek van Cosatu, is dit dalk nie 'n slegte skuif nie. Maak dit maklik vir die man.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008