Hierdie tydskrif ondersteun nie mense wat moontlik betrokke kan wees by misdaad nie. Ook nie mense wat die waardes en sedes van ons samelewing verontagsaam nie. En die tydskrif ondersteun beslis nie politici wat sy lesers vir goedkoop politiek gebruik nie.
'n Mens moet versigtig wees hoe jy mnr. Jacob Zuma, leier van die ANC en moontlike volgende president van Suid-Afrika, se optrede as spreker op Graan SA se kongres op Bothaville vertolk. Zuma het heelwat stellings aan graanboere voorgehou. Boere het van die stellings selfs gunstig ervaar. Die vraag is: Kan 'n mens die man glo? Veral ná die opslae wat hy die afgelope twee jaar in die nuusmedia gemaak het?
Bied Zuma dus werklik 'n geleentheid vir die landbou en veral kommersiële boere? Of speel hy maar net 'n politieke spel? Die antwoord is waarskynlik ja op albei vrae.
Zuma wil die land se volgende president word. Hy wil ook soveel moontlik steun werf vir die volgende algemene verkiesing.
Die ander kant van die muntstuk is dat kommersiële boere vir 'n groot deel van die laaste dekade polities ongewild was. Allerlei beskuldigings is hulle toegesnou. Soms het kommersiële boere wel skuld gehad.
Maar niemand kan die politieke onsekerheid waarbinne die landbou hom bevind, miskyk nie. Dit word nou vererger met 'n onbekwame Minister van Landbou en nuwe politieke leiers.
Dit is heeltemal te vroeg om te sê of hier 'n politieke wending kom wat tot voordeel van kommersiële boere is ? of daar meer sekerheid sal kom.
Wat wel duidelik is, is dat kommersiële boere nie kan wag tot politici finaal besluit hoe hulle die landbou sien nie. Kommersiële boere sal die proses moet probeer beïnvloed tot voordeel van hulself, hul ondernemings en hul werkers. Tans skep boere 'n bietjie asem met die opbloei in kommoditeitspryse. Straks is daar 'n kans om ook aan die politieke kant 'n bietjie asem te skep.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008