Landbou
Meng dan eerder só in
Deur AINSLEY MOOS

Beleidmakers sit met die dilemma dat hulle op die een of ander manier op stygende voedselpryse wil reageer - maar hulle is onseker hoe. 'n Mens kan hulle nie werklik kwalik neem nie.

Kommer heers oor die stygende inflasie. Dit kan die Regering noop om iewers in te gryp. Tog is dit te betwyfel of stygende rentekoerse 'n teenvoeter vir ernstige voedselinflasie is.

Die landbou wek min belangstelling by veral senior staatslui. Die gevolg is bitter min begrip. Soos in 2002 gaan die Regering nou waarskynlik genoodsaak word om 'n plan te maak om hoë voedselpryse die hoof te bied.

Daar is wel goeie landboukennis in sommige regeringskringe - dit is nog net nie goed ingespan nie.

In die eerste plek moet besef word die stygende kospryse is 'n wêreldwye verskynsel. Daarom kan kortsigtige planne wat op die plaaslike situasie gemik is, boemerang.

Dalk moet die Regering eerder besef 'n strukturele verandering wêreldwyd stu die vraag na voedsel. Daarom moet voorstelle vir ingryping omsigtig benader word.

Dit is eerder nodig om die mededingendheid van die landbou in die algemeen te verbeter. Boere wil voedsel bekostigbaar produseer, maar hulle wil ook 'n wins maak om te oorleef.

Hoewel verskeie kommoditeitspryse tans gunstig is, worstel boere met buitensporige stygings in produksiekoste.

Stygings van bykans 100% vir sommige produksiemiddele kan boere dwing om tou op te gooi.

Boere vra nie subsidies nie. Dalk is inmenging van 'n ander soort nodig. Verskeie soorte heffings en belastings bestaan wat boere se besigheidskoste opstoot. Dink maar aan grond- en waterbelasting - asook die skerp stygings in kragpryse wat Eskom nou vra.

Hierdie stygende administratiewe koste belemmer boere se mededingendheid. Soms kan 'n mens nie eens die ekonomiese beweegrede vir sommige heffings verstaan nie.

Die Regering kan help om 'n beter bedeling vir boere teweeg te bring waarin groter mededingendheid kan gedy. 'n Fokus op administratiewe koste is dalk 'n begin.

Landbouweekblad, 11 April 2008