Landbou
Grond: SA moet weet
Deur JEAN DU PREEZ

Die Regering het vir homself 'n ingewikkelde, maar noodsaaklike debat oopgekrap met die verslag oor buitelandse grondbesit.

Afgesien van die debat oor die vraag of buitelanders wel grond in Suid-Afrika mag besit, is daar 'n aanbeveling wat vir groot reaksie gaan sorg: Huidige en voornemende Suid-Afrikaanse burgers moet hul ras in eiendomstransaksies bekend maak.

Enige land, veral 'n ontluikende ekonomie soos Suid-Afrika, het die ekonomiese steun van buitelanders nodig. Buitelanders bestee geld in die land, hulle doen beleggings en help werkgeleenthede skep.

Tog is die Regering bekommerd dat buitelanders grond opkoop wat die plaaslike inwoners geleenthede kan ontneem. Daarby kan volgehoue buitelandse belangstelling selfs plaaslike eiendomspryse só verhoog dat dit 'n verdere nadeel vir die plaaslike inwoners is.

Die verslag meld dat swart én wit burgers hul kommer hieroor in voorleggings aan die paneel oorgedra het.

Die uitwerking van buitelandse belangstelling op plaaslike grondpryse kan nie bevestig word nie, die inligting is min. Tog lyk dit of verhuringsooreenkomste 'n oplossing kan wees.

Dan is daar die netelige aangeleentheid van ras. Die paneel sê in sy verslag hy moes talle afleidings maak. Daarby het belanghebbendes se voorleggings swaar gesteun op persepsies.

Die paneel meen 'n koper se ras moet gemeld word. Dit is glo om te bepaal of grondbesit werklik aan die verander is. Só 'n aanbeveling kan die aktiewe grondmark benadeel.

Maar dalk moet gevra word of dit nie tyd is om werklik te meet hoeveel grond wit boere en hoeveel grond swart boere besit nie. Ja, grondbesit alleen waarborg nie sukses as kommersiële boer nie. Tog kan 'n gebrek aan geloofwaardige inligting vir meer regstreekse ingryping in die grondmark sorg. Dit word veral moontlik as die Regering nie kan toon hoe hy met grondhervorming vorder nie.

Sou dit sin maak dat 'n grondeienaar se ras bekend gemaak word? Om te meet, is immers om te weet.

Landbouweekblad, 14 September 2007.