Landbou
Moenie goeie saak belemmer
Deur MANIE

'n Mens kon kwalik vir 'n meer nugtere siening van die kommersiële landbou vandag in Suid-Afrika vra as die onlangse kongres van die TLU SA in Pretoria.

Soos Manie dié manne ken, draai hulle nie doekies om nie. Hulle praat reguit én hard. Maar juis daarin kan ook slaggate skuil.

Vir Manie is die belangrikste aspek van dié kongres die klem op ekonomiese beginsels - oftewel die spelreëls vir die plaaslike en internasionale landbou. Dit het die hoofmanne daar goed toegelig. Immers is dit slegs dié spelreëls wat jou boerdery maak of breek. Jy kan ekonomiese kragte eenvoudig nie flous nie.

So, dis goed as Paul van der Walt (voorsitter), Willie Lewies (adjunkvoorsitter) en Bennie van Zyl (hoofbestuurder) fundamentale sake, soos private eiendomsbesit en boere se veiligheid, aanraak. Dit het 'n impak op boere se oorlewing en dus die landbou-ekonomie.

Die landbou se winsgewendheid is 'n saak wat aandag moet geniet, sê Paul byvoorbeeld. En daaroor kan niemand met hom stry nie.

Maar nou weet ons mos ook ons sou die spelreëls byna foutloos kon nakom as dit nie was vir daardie tikseltjie politiek wat dié reëls so opgeur nie. En dis hier waar mense begin verskil oor hoe sake benader, beredeneer en uitgevoer behoort te word.

Die TLU SA se leiers het reg as hulle sê die Regering het 'n bepaalde denkrigting, oftewel ideologie, oor hoe hy sake hanteer. Dis niks nuuts nie. Gegewe die Regering se benadering tot sake, maak die TLU SA tog verskeie goeie voorstelle.

Dit is so dat enige moderne regering - in Afrika of elders - kritiek van sy burgers ontvang. Dis 'n wêreldwye verskynsel in lande wat meen hulle volg 'n demokratiese stelsel.

Maar dis nie vir Manie die belangrikste punt nie. Moet 'n mens nie eerder vra nie: Gegewe só 'n situasie, hoe maak ek seker ek dra my boodskap duidelik en doeltreffend oor? Dat dit daar tref waar dit saak maak?

Manie gee nie voor hy is welleerd om die landbou se probleme op te los nie. Allermins. Maar as om 'n bydrae gevra word, is hy meer as gewillig. Daarom, dink Manie, het 'n boodskap trefkrag as jy vir die Regering sê hy doen só en só verkeerd en hoekom jy so dink. Ook hoe jy dink dit gedoen behoort te word.

Maar die trefkrag daarvan verswak as jy in dieselfde asem jou siening oor raspolitiek wil deel. Of as jy prontuit sê jy erken hom nie. Dit bemoeilik sake.

Trouens, Manie wonder of dieselfde beskuldiging oor 'n bepaalde ideologie wat gehuldig word, nie sommer net so summier teruggeslinger kan word nie ...

NOORD: Was dit Otto von Bismarck, staatsman van die 19de eeu en eerste Duitse kanselier, wat gesê het 'n mens moet investeer wanneer die kanonne bulder en onttrek wanneer die viole speel?

Nouja, Manie het anderdag aan dié gesegde gedink toe hy Maties se prof. Nick Vink by die TLU SA se kongres hoor praat oor moontlikhede vir boere in verskeie lande noord van ons. Nie dat die kanonne steeds bulder in 'n klompie lande op die vasteland nie, maar daar's 'n geleentheid vir boere om hul mark uit te brei.

Kleinboere in verskeie lande op die vasteland kan nie in die behoefte na voedsel via supermarkte voorsien nie. Daar is 'n kans vir Suid-Afrikaanse boere. Maar korrupsie, swak private eiendomsreg, ensovoorts, in verskeie Afrika-lande maak dit vir boere moeilik om daar te gaan boer.

Vir Manie blyk een logiese oplossing om hier te produseer met die visie om dit uit te voer. Is dit nie dalk 'n saak waaraan boere aandag behoort te gee nie?

WILLIE: Een van die georganiseerde landbou se groot geeste het pas sy uittrede aangekondig. Ná 33 jaar as lid van die TLU SA se algemene raad en 27 jaar as lid van die uitvoerende komitee het Willie Lewies die tuig as adjunkvoorsitter neergelê. Klaarblyklik het 'n hoenderhaan bygedra tot die gewigtige besluit om uit te tree. Vir diegene wat nie die storie ken nie, dit het só verloop:

Verlede jaar het hy 'n weerbarstige hoenderhaan op sy plaas gejaag. Ongelukkig het hy op sy eie sweep getrap, gegly en sy voet gebreek. Dié ongeluk het sy beweeglikheid beperk en hy het besluit dit is tyd vir 'n jonger man om in sy plek by die TLU SA koning te kraai.

Hy is egter nie heeltemal vir die organisasie verlore nie. Hy sal steeds by belangrike kwessies, soos grondsake, betrokke bly. Hy is immers een man wat altyd weet wat in 'n vergadering aangaan (al staan hy die helfte van die tyd buite en rook).

Vir sy jare lange diens word 'n platinumknopie met lourierkrans (die organisasie se hoogste eerbewys) aan hom toegeken. Daarbenewens het sy eie Noordstreek hom met 'n opgestopte hoenderhaan by die TLU SA se jaarlikse kongres beloon.

Willie, Manie weet jy gaan steeds bedrywig wees, maar laat Manie net toe om dit te sê: Jy't jou merk gemaak, ou grote.

BESIT: Die bekendstelling van die omstrede verslag oor buitelandse grondbesit is op 'n interessante manier gedoen, vertel Manie se kollega. Eers is dit gedoen, wel, en toe ook nie.

Hoe nou, sal menige leser seker vra. Op die dag van die bekendstelling, enkele weke gelede, wag 'n groot aantal gaste in die Sheraton-hotel in Pretoria. Baie het van ver gekom. En almal het gewag vir Landbouminister Lulu Xingwana om die vonkelwyn se kurk te trek.

Maar terwyl die gaste die horlosie dophou, word hulle meegedeel dat die minister nie gaan opdaag nie. Die bekendstelling is uitgestel.

Hoewel die gaste dié verwikkeling gelate moes aanvaar, het joernaliste (Manie se kollega inkluis) ongesteurd voortgegaan en hul berigte geskryf. Toe kom die verskoning van Stoncey Lebethe, die Departement van Grondsake se skakelpersoon: Die verslag moet nog eers in ál elf amptelike tale vertaal word.

Maar Manie verstaan ook die Regering was nie heeltemal te vinde vir die blykbaar afgewaterde bevindings in die verslag nie. "Die bevindings moes beleidsformulering beïnvloed. Daar sal seker weer ondersoek ingestel moet word," sê een hooggeplaaste in die Regering vir Manie.

En die verslag lig die gebrek aan betroubare statistiek duidelik uit. Hieroor is die paneel van ondersoek duidelik.

Nou lyk dit of daar gewerk gaan word om juis betroubare statistiek te kry.

Landbouweekblad, 28 September 2007