Agter die bekgeveg van die jongste tyd in die landbou is daar ook bemoedigende ontwikkelinge.
Die belangrikste een is waarskynlik die te stigte komitee wat die Minister van Landbou en Grondsake voortaan oor brandpunte in dié sektor moet adviseer.
Indien reg benut, kán dié komitee tot 'n meer opbouende verhouding tussen die georganiseerde landbou en die minister lei.
Want wat toenemend duidelik word, is dat die twee groepe in totaal verskillende wêrelde leef.
'n Mens wonder nietemin watter rol die CEO-forum dan speel. As die minister hierdie forum nie benut soos sy behoort te doen nie, wat gaan die advieskomitee dan anders maak?
Dié kwessie verdien dus aandag.
Die ander ontwikkeling is 'n omvattende plan om die maatskaplike toestande van plaaswerkers te verbeter. Ook dit klink bemoedigend en spreek van vordering.
Die groot toets vir albei ontwikkelings lê egter in die uitvoering daarvan. Dit was ongelukkig die afgelope dertien jaar die landbou se Achilleshiel: Baie planne, maar min uitvoering. En juis dit, gekoppel aan die feit dat die sektor 'n politieke speelbal geword het, is wat SuidAfrika se landbou tans lamlê, dermate dat beleggersvertroue in die sektor begin wankel.
Ingeligtes sê die landbouwerkgroep se afgelope vergadering met pres. Mbeki het eintlik baie bevredigend afgeloop. Dit is wat die landbou soek: Hoop. Maar dan word die skrapse tekens van hoop wat daar wel is, telkens in 'n onbewaakte oomblik gekelder.
En juis dit maak boere toenemend sinies. Hulle kry nie erkenning vir die opbouende werk wat agter die skerms gedoen word nie, die stille meerderheid wat hervorming steun en dit agter die rug wil hê sodat almal net met hul lewe kan aangaan, se welwillendheid word telkens beproef met politiekery.
Dit is ongelukkig eie aan die huidige politiek. Die bedryf sal sy fokus moet behou, die twee groeperings sal wedersyds tyd en energie móét insit om mekaar te vind. Dit is die enigste opsie wat die landbou vorentoe sal neem.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007