Landbou
Kersfees - fees van versoening
Deur DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Vir hierdie laaste kommentaar van die jaar, wyk ons van ons normale resep af, dus maak aktuele landbousake plek vir 'n geestelike boodskap deur ds. Kobus van der Westhuyzen.

Dit sal 'n onreg wees aan ons Kersfeesvieringe as die boodskap van versoening nie ook sterk beklemtoon word nie. Hoe kan dit dan ook anders verstaan word as die apostel Paulus in sy tweede brief aan die Korinthiërs skryf: "Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou" (II Korinthiërs 5:18)

Laasgenoemde, naamlik die bedizening van die versoening, wat die Here aan Sy kinders toevertrou het, impliseer twee uitlopers: Die een is om ons in die regte verhouding met God te plaas, en die ander volg die weg na ons naaste.

In alle gevalle staan Christus in die sentrum. Hy is enersyds die Middelaar tussen God en die mens, en andersyds stel Hy my ook in staat om my medemens as 'n mede-broer in Christus te aanvaar. Ja, selfs meer as net aanvaar. Ek moet hom blymoedig omhels as ware "bloed"-familie. Immers bind die bloed van Christus ons saam as een gelowige familie.

Die hart van die Evangelie staan in die nouste verband met hierdie bediening van die versoening. Wat Suid-Afrika nodig het, is dat meer Christene - ja, dat alle Christene - mekaar sal tegemoet loop in hierdie gees en gesindheid. 'n Kersfees-christen wat eindig by die kindjie in die krip en wat nie bereid is om die hele pad na God en die medemens te loop nie, verstaan nie juis waaroor dit eintlik gaan nie. Mag hierdie Kersfees ons opnuut daartoe lei. 'n Geseënde Kersfees word ál die lesers ryklik toegebid.

Landbouweekblad, 21 Desember 2007