Landbou
'n Jaar met teenpole!
Deur MANIE

Vir die landbou was 2007 'n jaar van teenpole: Aan die een kant 'n broodnodige en lang verwagte opbloei in produsentepryse, maar daarenteen, ironies genoeg, 'n laagtepunt op politieke terrein.

Boere bly maar huiwerig om te erken as hulle die slag geld maak, daar's altyd 'n stertjie by: iets soos "ja, maar onthou nou . . ."

Onnodig. Ons het dit mos almal voorspel: Daar was nie 'n manier dat die landbou die verbruiker só lank met lae pryse kon "subsidieer" nie. Die pendulum moes een of ander tyd swaai. Dat hy so fris na die ander kant toe sou swaai, was nogal 'n verrassing, maar nou's dit skeptyd vir die boere.

Dan weer, wat ons nou sien, is 'n wêreldverskynsel, een wat sê goedkoop kos se dae is verby.

Die les? Skat die landbou te lig in die broek en hy byt jou. Daardie waarheid begin die land inhaal. En nó? skielik word met nuwe oë na die bedryf gekyk.

Tot sommer onlangs nog is die sektor as't ware gesien as 'n aangenaaide lap van die ekonomie, maar luister wat sê selfs die die AnC in 'n besprekingsdokument wat pas op sy nasionale konferensie gedien het: Die landbou is van kritieke belang vir die ekonomie van Suid-Afrika.

Uiteindelik het die pennie geval.

Vuurvreter: Maar goed, dis die een kant van die munt. Ongelukkig lyk die ander kant dowwer. Die kreeftegang in die verhouding tussen die kommersiële landbousektor en die Minister van Landbou en Grondsake asook haar adjunk, moet ongetwyfeld een van die laagtepunte in die Suid-Afrikaanse landbou se eietydse geskiedenis wees.

Oor Dirk du toit gaan Manie nie praat nie, sy rakleeftyd is verstreke.

Kom ons kyk dan na die minister. Laas jaar hierdie tyd het landbouleiers nog versigtig optimisties gereageer op haar aanstelling, al was daar van buite die sektor dié waarskuwing: "Sy's 'n vuurvreter, jul moeilikheid is geboek!"

Hierop was die reaksie: Gee haar 'n kans, dalk word sy 'n vuurvreter vir die landbou.

Dit het toe nie gebeur nie. En gemeet aan haar vertoning tot dusver is Lulu Xingwana 'n teleurstelling.

Sy't onnodige polarisasie in die landbousektor kom plant, sy ken die bedryf swak, sy omring haar met mense wat dit óók nie goed ken nie, met die gevolg dat die ekonomiese werklikhede van die landbou versaak word ten gunste van 'n sosiaal-maatskaplike kruisvaart.

Wat ook nodig is. Niemand ontken tog plaaswerkers se situasie moet verbeter nie. Maar die landbou staan nie op daardie been alleen nie. En dit begin die land nou agterkom. Die hoë voedselpryse is maar bloot die mark wat reageer op dié werklikheid: Die Regering het die landbou te lank misken. Die gevolge toon ooreenkomste met wat ons nou by Eskom sien.

Goed, Xingwana het darem ook haar ligpunte gehad. Sy't van een van die vrotste skakels in grondhervorming ontslae geraak: Grondsake-DG Glen Thomas. En dan het sy natuurlik die plaaswerkerkwessie op die nasionale sakelys geplaas - hoewel op 'n hoogs omstrede wyse.

Of sy met grondhervorming gevorder het? Nie juis nie.

Kouesweet: Vermoedelik gaan 'n klompie rolspelers in die sekondêre koringsektor die feestyd met 'n ongemak binne.

Manie verneem die Mededingingskommissie se ondersoek na die koringbedryf tel nou spoed op. Hulle het pas met 'n groep koringboere op die OR Tambo-lughawe by Johannesburg vergader om te hoor wat presies hul kwellinge oor samespanning in die bedryf is.

Dis natuurlik een ding om bewerings oor samespanning te maak, iets anders om dit te bewys. Maar hierdie ondersoek kon nie op 'n beter tyd vir boere gekom het nie.

Die voedselreus Tiger is pas bloedneus geslaan oor 'n gekonkel met die broodprys, en ons weet die ander grotes wag in koue sweet oor wat met hulle kan gebeur. Nou nog hierdie ondersoek óók, terwyl hoë kospryse 'n nasionale brandpunt geword het. Dié dat ingeligtes sê aan verwerkingskant lê die nerwe vlak en gevoelig.

Terloops, wat Herman van Schalkwyk-hulle in die koringondersoek in 2005 aan die broodkant uitgelig het, is nou presies waaroor Tiger skuldig bevind is, né!

Destyds is egter in sekere kringe gesê die ondersoek was onwetenskaplik . . .

Verraad: As bedryfspelers in die biobrandstofbedryf praat van verraad wat gepleeg is met die uitsluiting van mielies, is dit nie sommer net rou emosie nie.

Diegene na aan die besprekings sê tot so kort as drie weke voor die aankondiging is verseker mielies sal nie weens die staat se kommer oor voedselsekuriteit uit die beleid gesluit word nie. Toe word suikerbeet en suikerriet die uitverkorenes.

Die mieliebedryf sluk veral swaar aan daardie een belangrike betrokkene en "vennoot" wat ook téén mielies gestem het - die einste Departement van Landbou.

Ook word gewonder wie is die Kabinetslede wat die res teen mielies geswaai het.

Dan is daar natuurlik ook sinici wat sê mielies kón eenvoudig nie ingesluit word nie, want die grond waarop mielies verbou word, behoort steeds aan wit boere.

Is politiek dan die rede; 'n manier om die landbou te straf vir trae transformasie? Seker moontlik. Ons weet mos die suikerbedryf dans na die Regering se pype.

Pas het 'n staatsinstansie glo aan iemand in die landbou gesê nuwe bedrywe, soos biobrandstof, sal slegs tot die voordeel van voorheen benadeeldes wees.

As dít die staat se eng denkrigting is, gáán "waningeligte" beleidmakers vooruitgang knou.

Kenners meen dis uiters kortsigtig om enige gewas in die beginstadium uit te sluit. 'n Bedryfsleier merk op: "Wat gebeur in elk geval met voedselpryse as mielieboere besluit om dan juis na die alternatiewe gewasse vir biobrandstof oor te skakel?"

Wassery? Wie moet Minister Lulu Xingwana nou eers silwerskoon was voordat die forensiese verslag oor die Land Banksage aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig kan word? "Nuwe inligting" het glo onder haar aandag gekom wat "óf versagtend óf verswarend" kan wees. Nou gaan hulle eers "seker maak" die "korrekte inligting" word versamel voor opgetree word. Dit ruik na 'n toesmeerdery. Ons inligting wys al te veel dis politieke konneksies wat beskerm moet word. Gelukkig weet ons mos al dié goed lek uit, een of ander tyd.

Landbouweekblad, 21 Desember 2007