Landbou
Dit word 'n bitter brood-stryd
Deur MANIE

Breëborstaktiek wanneer dit kom by 'n geskil tussen 'n groot landboumaatskappy en die Regering is nie 'n algemene verskynsel in die landbou nie. of dit wel dié taktiek is wat ons nou sien in die geskil tussen Pioneer Foods, 'n maatskappy in die sekondêre sektor, en die Mededingingskommissie, kan 'n mens net bespiegel. Maar een ding is seker, met die toutrekkery tussen dié twee partye gaan daar 'n verloorder wees. Manie wil nie in dié stadium 'n weddenskap aangaan nie, maar kom ons kyk na die inligting wat beskikbaar is.

Die Mededingingskommissie sê Pioneer is skuldig aan onmededingende praktyke ná sy ondersoek oor die broodprys. Pioneer sê nooit gesien nie, en staan die saak teen. En dan beweer die kommissie hy het nuwe inligting ontvang dat Pioneer se agente steeds konkel. Intussen word vir Manie vertel die kommissie het glo in Desember 'n aanbod aan Pioneer gedoen om skuld te erken en 'n helse boete te betaal. Dan sou daar vrede wees. Pioneer het dit glo van die hand gewys. Maar soos Manie sê, dit is 'n storie wat in sy oor gefluister word. Die kommissie sê hy het nie 'n aanbod gedoen nie.

Nietemin het dit Manie laat dink oor Pioneer se planne om vanjaar op die JSE te noteer. Die mikpunt is glo voor Junie. Die logiese vraag is hoe die geskil met die kommissie sy notering raak. Sjoe, daar word darem 'n helse onsekerheid by voornemende beleggers geskep.

As Manie 'n voorspelling kan maak: Daardie notering gaan eerder vroeër as later plaasvind. Daardie geld kan straks nuttig te pas kom . . .

Hewige druk: Steeds by die mededinging- saak. net soos wat Pioneer gaan seker maak hy het 'n waterdigte saak, kan 'n mens verseker wees die mededingingsowerhede is self agter die skerms hard besig met voorbereiding. Ja, die manne sal beslis nie eier in hul gesig wil hê nie.

Selfs erger, 'n mens kan verwag die Mededingingskommissie is onder groot druk om Pioneer aan die pen te laat ry. As 'n mens net dink aan die reaksie van Cosatu en ander bewegings wat hulle beywer vir die lot van die armes, kan jy verstaan dit is 'n saak wat nie ligtelik opgeneem gaan word nie.

Koöperasiestorie?: Die ou mense het gesê as die Overbergse en Suid-Kaapse boere droëland-lusern in Januarie sny, voer hulle dit in Julie aan hul vee.

Bedoelende 'n droë winter is op pad. of die ou mense reg was, sal Manie nie weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek nog nie droëland-lusern so mooi gesien het soos wat hy nou in daardie wêreld staan nie. Trouens, die hele streek is grasgroen, in skrille kontras met sy gewone windverwaaide, asvaal kleed dié tyd van die jaar.

Goed, somerreën in die Suid-Kaap is nie vreemd nie, maar soos vanjaar? Dit lyk allerweë na 'n rekord. Waar jy luister, praat boere van die gemiddelde reënval per jaar wat dramaties oorskry is - en die meeste daarvan het in November en Desember geval. Dermate dat 'n blote katspoegie in Desember die Suid-Kaapse riviere, wat gewoonlik dié tyd van die jaar staan, sommer bruisend laat afkom het.

Dit lyk kompleet of laas jaar se winter eenvoudig deurgedruk het somer toe. Dis net ronde bale waar jy kyk - en dis nie koringstrooi nie, dis lusern. Trouens, Manie hoor selfs van manne wat gaan lusernsaad oes.

Uit Riversdal se wêreld stuur Franza de Kock 'n e-posfoto wat drup van malse groen in die middel van die somer - en sê in 37 jaar op die plaas het hulle nog nie só iets gesien nie.

En die ou mense se sêding? Hulle was maar lief vir sulke stoepstorietjies voor die koöperasie. Laat ons hoop hulle was nie altyd reg nie. Komende winter sal ons wys.

Want reën dit inderdaad suinig, gaan die koringprys straks verder galop - en is daai R3 500/t waarvan Manie laas jaar hier gepraat het 'n vae moontlikheid . . .

Dán gaan jy darem 'n gekerm uit Regeringskringe hoor.

Doodkry is min: Persepsies word moeilik nek omgedraai - veral persepsies oor rooivleis. 'n Kollega van Manie vertel 'n interessante verhaal. Dit gaan so:

Dr. Michael Bradfield, hoofbestuurder van Breedplan, het die afgelope feestyd met sy mense by vriende in Somerset-Wes gaan kuier. Daar hoor hy dat sy gasvrou ernstig op pad is om 'n vegetariër te word omdat rooivleis dan so ongesond is. Haar siening word onderskryf deur inligting van 'n webblad wat iemand aan haar gestuur het oor cholesterol en ander naarhede wat aan rooivleis toegedig word.

"Só iets los 'n mens nie daar nie. Maar soos my pa altyd gesê het, is dit baie moeilik om iemand wat homself van iets oortuig het, tot ander insigte te bring, " vertel hy. Hy het geweet om haar self te probeer oortuig, sou min help. Hy het egter geweet van 'n deurtastende ondersoek wat in Australië deur 16 vooraanstaande dieetkundiges gedoen is en wat deur 'n onafhanklike paneel nagegaan en deur die Australiese hartstigting onderskryf word.

Dié inligting gee hy haar toe. Dit lui onder meer dat maer beesvleis 'n belangrike rol in die dieet van alle mense speel en dat dit 'n waardevolle bron van bloedyster, sink, vitamien B12, omega 3 en ander noodsaaklike voedingstowwe en anti-oksidante bevat.

Die verslag lui verder dat dit in die dieet van hartlyers ingesluit kan word, min natrium en baie kalium bevat, hoë bloeddruk teenwerk en dat dit veral heilsaam is vir kinders, jong en ou mense. Daar word aanbeveel dat mense maer beesvleis minstens 3 tot 4 keer per week eet.

Maar hy het dit nie daar gelaat nie. Hy is winkel toe en het 'n lekker stuk beeshaas gaan koop en dit die aand vir hulle gebraai. Gedagtig aan hul voorkeure het hy klein porsies aangebied en is gou beloon toe die gesin se vier kinders almal 'n tweede keer gaan inskep het.

Daarna was die gesin bekeer en hoewel hy oortuig was daarvan, het hy by hul vertrek nog so 'n stuk beeshaas gaan koop en dit in hul koelkas gelos om doodseker te maak hul vleistande, wat amper getrek was, groei weer behoorlik.

Wel gedaan, dis hoe 'n mens wat in die bedryf leef en werk, sorg dat vandag se kinders wat môre weer die volgende geslag moet grootmaak, die waarde van beesvleis verstaan en aanhou beesvleis eet.

Landbouweekblad, 1 Februarie 2008