Al hoe meer stemme gaan op dat Suid-Afrika 'n soortgelyke roete met watervoorsiening as met kragvoorsiening kan loop. Soos sake nou staan, kan boere uitgesonder word as sondaars in die debat oor groter doeltreffendheid met betrekking tot waterverbruik.
Verskeie kenners maan al lank dat alles nie wel is met Suid-Afrika se watergehalte nie. Dit hou implikasies in vir volhoubare watervoorsiening aan boere wat byvoorbeeld van besproeiingswater afhanklik is vir voedselproduksie.
Pas het 'n senior amptenaar in die Departement van Waterwese en Bosbou gesê boere sal soos ander watergebruikers gehanteer word. Maar omdat die landbou volgens hom 60% van alle beskikbare water gebruik en "net" 2% tot die ekonomie bydra, lyk dit of die staat boere wil uitsonder. Volgens die amptenaar is die oogmerk 'n regverdige bedeling ten opsigte van die land se water. Die georganiseerde landbou betwis wel dié siening.
In die loop van Nasionale Waterweek is verskeie interessante syfers bekend gemaak: Altesaam 98% van Suid-Afrika se beskikbare water is reeds toegeken. Ongeveer 82% van ons riviere is as bedreigde ekostelsels verklaar en sowat die helfte van die land se vleigebiede is onherstelbaar beskadig.
Kommersiële boere sal waarskynlik dink hierdie is net nog 'n aanslag om hul mededingendheid te belemmer. Hierdie ontwikkeling is waarskynlik vir die hele landbou 'n dilemma - en dit sal opkomende boere waarskynlik veel erger tref. Opkomende boere gaan sukkel om hulself ekonomies te bemagtig. Boonop het dié boere in sommige gevalle ook nie 'n sterk politieke stem nie.
Afgesien van lomp regulering, bied klimaatsverandering ook 'n uitdaging. Die georganiseerde landbou moet optree. Die korrekte inligting - of ten minste 'n gebalanseerde begrip - behoort by die staat gekweek te word oor die landbou se waterverbruik. Dit moet spoedig en suksesvol gedoen word. Anders bestaan die moontlikheid van beleidsaanpassings wat groter voldoening - en dus ekstra uitgawes - van watergebruikers gaan eis. Só 'n ontwikkeling kan boere se mededingendheid verder onder druk plaas.
Landbouweekblad, 4 April 2008