Landbou
Gunstige reaksie is verrassend
Deur MANIE

Manie was op Graan SA se kongres 'n paar weke gelede aangenaam verras toe hy verneem het hoe gunstig die terugvoer oor die ondersoeke in die koringbedryf ervaar is. Julle onthou mos, daar is twee ondersoeke deur die Mededingingskommissie en die nasionale Bemarkingsraad aan die gang. Aan die een kant kyk die kommissie na die bemarkingskant én die insetkant en moontlike samespanning. Koringboere sê mos lank reeds die probleem met prysvorming is die beperkte aantal kopers.

En aan die ander kant kyk die Bemarkingsraad na die gebrek aan inligting wat meebring dat 'n koringboer nie 'n deurdagte besluit kan neem nie. Daar word veral gekyk na prysvorming op Safex - en of daar moontlik 'n vorm van manipulasie is.

Nou-ja, Manie weet daar is manne wat sê waar 'n rokie trek, moet 'n vuurtjie wees. Maar só eenvoudig is dit nie.

Hierdie ondersoeke is ingewikkeld. En om 'n punt te bewys, reg of verkeerd, is makliker gesê as gedaan. Die doel is boonop nie om 'n heksejag teen wie ook al te begin nie. Hoewel Manie kan verstaan dat sommige koringboere dit dalk sou wou sien. Die doel is eerder om 'n billike stelsel vir die koringboer daar te stel. En as daar op ongerymdhede in die stelsel afgekom word, moet dit blootgelê word.

Manie wag in spanning op die bevindings van die ondersoeke.

Hoog tyd:'n Mens sou seker wil sê dit is hoog tyd dat sulke ondersoeke gedoen word. Hoekom moet daar nou, meer as 'n dekade ná deregulering, steeds vrae wees oor betrokkenes in die waardeketting wat hul posisie misbruik. Kyk maar wat het in ander sektore van die ekonomie gebeur . . .

Die koringboer kan nie vir die meulenaar voorskryf hoe om te handel nie. 'n Mens kan mos nie jou kliënte vervreem nie. Maar daar skort niks met die strewe na 'n billike bedeling waar billike winste vir almal moontlik is nie. Die mededingingsowerhede se mense praat juis van "korporatiewe gulsigheid".

Maar Manie stel veral belang in die nuus dat 'n groter verskeidenheid koringkultivars vorentoe geplant kan word - hopelik reeds in die 2009-planttyd. Die kultivars word nou met die oog op die nuwe koringjaar beoordeel.

Vir lank is aan koringboere voorgeskryf watter kultivars hulle mag plant. Nou kry hulle 'n groter keuse, wat groter opbrengste en wins kan meebring.

Manie vermoed die vinnig veranderende prentjie van voedselvoorsiening in die wêreldkonteks het baie hiermee te make. Dis moeiliker om sommer nou 'n boot met koring iewers oorsee te laai. Noudat die koringboer iets van 'n magsbasis het, moet hy tog slim werk - trek byvoorbeeld die verbruiker as 'n bondgenoot nader.

Onstoke: En daar stel die garsprys toe teleur. Afgesien van die prys, verstaan Manie die manne is eintlik ongelukkig met SAB wat nie die "koringafgeleide formule" bekend gemaak het nie. Dié formule, wat koring as basisprys gebruik, kan aan garsboere die geleentheid bied om hulself in die mark te verskans. Dit doen dan eintlik weg met die vaste prys wat Charles Coe en sy span nou aangebied het.

Soos Manie verstaan, is die bietjie vertroue wat garsboere in SAB het, nou verder geknou. Maar daar is natuurlik diegene wat glo dat die brouery wel met die formule vorendag sal kom - en dat dit straks gunstig ontvang kan word.

Nuwe liefde?: Terwyl daar soveel ongelukkigheid is met hoe SAB die garsboere hanteer, is daar 'n nuweling op die horison. Nou wonder Manie of Leon Groenewald van die Overberg, voorsitter van die Garsbedryfskomitee, al vlerk sleep by Heineken wat sy teenwoordigheid in die biermark wil versterk. Dalk vind die garsboere 'n nuwe liefde?

Die vraag is natuurlik of Leon darem al 'n ontmoeting met die manne van Heineken gehad het . . .

Manie verstaan Heineken is tevrede met die Suid-Afrikaanse gars. Hy onderneem 'n massiewe belegging - ongeveer R3 miljard - in Gauteng. 'n Aanleg word in die suide van Johannesburg, tussen Vereeniging en Alberton, op sowat 80 ha opgerig. Na verwagting sal die aanleg einde volgende jaar voltooi wees. Daar bestaan ook die moontlikheid van 'n tweede aanleg oos van Johannesburg.

Die liewe minister: Soos Manie vir sy kollegas sê, hierdie is 'n landboutydskrif en daarom word net verslag gedoen oor sake wat relevant is tot die landbou. Maar, ja, Manie moet bieg, die mense wat die landbou moet beskerm, maak dit op talle maniere moeilik. Vat nou die voorbladberigte in drie van ons nasionale dagblaaie. Ja, ek praat van die storie oor die minister en een van haar senior werknemers se beweerde onbetaamlike verhouding.

Manie se eerste reaksie was reeds soveel mense glo die sektor sukkel om sy huis in orde te kry. Nou sal dieselfde mense sê dit is omdat die mense wat moet leiding gee, hulle met ander goed besig hou. Toegegee, die bewerings van 'n buite-egtelike verhouding tussen die minister en die vorige waarnemende hoof van die Land Bank en adjunk-DG in haar kantoor, dr. Phil Mohlahlane, is in dié stadium slegs 'n bewering. Die feit dat Phil se vrou wel wil dagvaar en dit só in hofdokumente aangedui word, laat wel 'n rokie trek.

En dan het die minister se kommunikasie- span op die dag van die berigte oor die beweerde verhouding 'n lang mediaverklaring uitgereik. Manie moet bieg, hy kan nie onthou dat die minister se kantoor al ooit só breedvoerig en spoedig bewerings ontken het nie. Wat die nuusmedia natuurlik verder laat wonder.

Ja, en weereens blyk dit 'n geval te wees van die mense wat die beeld van die sektor moet uitbou, dit die grootste skade berokken. Ai.

Die ander kant: Steeds by die minister en die werknemer. Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat hier pure moedswilligheid ter sprake is. Nou-ja, Phil het al by geleentheid genoem dat daar manne (en dalk vroue) binne die Land Bank is wat hom graag sal wil sien ondergaan. Daar is natuurlik ook die bewerings dat die minister skoonmaak binne die bank en dat sommige van die senior amptenare nie daarvan hou nie. Of dit waar is, kan Manie nie sê nie. Wat Manie wel al geleer het, is dat daar 'n ander kant van die saak is . . .

Landbouweekblad, 4 April 2008