Landbou


Ete vir twee
ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Bederf die een wat jy liefhet met 'n geurige ete op Valentynsdag.

SPYSKAART
Vonkelwynkelkie
Caeserslaai
Gevulde hoenderdye
Aartappel-en-suurlemoenslaai
Sjokolade-kollewyntjies
Koffie

Caeserslaai
'n Slaai waarvan die manne ook sal hou.
3 repe spekvleis, gesnipper
3 dun snytjies Franse brood
olie
gemengde slaaiblare
kersietamaties
sout en swartpeper
Parmesaankaas

Slaaisous
1 eiergeel
10 ml Dijon-mosterd
1 knoffelhuisie, fyn gekap
10 ml suurlemoensap
1 ansjovisfilette, gekap
30 ml fyngerasperde Parmesaankaas
60 ml olie
Voorverhit die oond tot 180 °C. Braai die spekvleis tot bros en plaas op kombuispapier tot afgekoel. Rangskik die brood op 'n bakplaat, besprinkel met 'n bietjie olie en bak vir 10—15 minute tot bros en goudbruin. Breek in stukkies en hou eenkant. Vir die slaaisous: Verwerk of klits die bestanddele goed saam tot romerig. Hou eenkant tot benodig.
Om voor te sit: Meng die spek, blare en broodstukkies saam. Geur met sout en peper en maak dun skaafsels Parmesaankaas met 'n groenteskiller vir bo-oor.
Bedruip mildelik met die slaaisous en sit dadelik voor.

Gevulde hoenderdye
Dié hoender is ewe lekker, warm of koud.
2—4 hoenderdye
2 wiele fetakaas, gekrummel
3 songedroogde tamaties, gekap
125 ml vars witbroodkrummels
vars tiemie, gekap
vars gemaalde swartpeper
Verwyder alle sigbare vet van die hoender. Voorverhit die oond tot 160 °C en hou 'n gesmeerde oondbak gereed. Meng die fetakaas, tamatie, krummels, kruie en swartpeper na smaak. Maak die vel van die dye versigtig los met jou vingers en skep van die vulsel onder die vel in (dit vorm 'n sakkie). Pak in 'n oondvaste bak en bak vir 1 uur tot goudbruin en gaar.
Bedruip met die pansouse. Sit die hoender voor met aartappelslaai
en bros blaarslaai. Rond af met 'n paar vars tiemietakkies.

Aartappel-en-suurlemoenslaai
2-3 groot aartappels, in die skil gekook
Sous
sout en peper
60 ml suurlemoensap
100 ml suurroom
3 grasuie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
fyngerasperde suurlemoenskil, na smaak
vars gemaalde swartpeper
Trek die aartappels se skille af en sny in skywe. Meng die bestanddele vir die slaaisous goed saam en meng versigtig met die aartappels. Draai swartpeper oor. Sit voor met die hoender.

Sjokoladekollewyntjies
Die beslag wat ek hiervoor gebruik, is eintlik vir bruintjies, maar dit maak klam, ryk kollewyntjies.
Kollewyntjies
150 g sagte botter
250 ml strooisuiker
2 ekstra groot eiers
180 ml kakao
250 ml bruismeel
'n bietjie melk, opsioneel
Ganache
200 g donker sjokolade, gekap
200 ml room
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n muffinpan uit met papierkoppies. Verroom die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiers by en klits goed. Sif die kakao en bruismeel oor die bottermengsel en roer tot gemeng. (As die beslag te droog lyk, voeg 'n klein bietjie melk by.) Skep die papierkoppies driekwart vol en bak vir 10—15 minute tot gaar, maar steeds effe sag in die middel. Laat goed afkoel. Vir die ganache, smelt die sjokolade en room oor lae hitte saam tot glad. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel tot benodig. Klop die mengsel tot lig en donsig en smeer oor die kollewyntjies. Rond af met sjokoladesprinkels en silwer balletjies.
Lewer 12 kollewyntjies.

Liefdeskelkies
Sit bessies of 'n kersie onder-in twee sjampanjeglase. Giet elk driekwart vol vonkelwyn en voeg 'n skeut bessielikeur of -sap by. Sit yskoud voor.
Maak rooibostee met 2 teesakkies en 500 ml kookwater. Laat trek tot sterk. Geur met suurlemoensap en heuning na smaak. Verkoel tot yskoud. Voeg 500 ml koue gemmerlim by. Giet 'n sopie Grenadine onder-in elke glas en vul met fyn ys. Giet die ystee oor.

13 Februarie 2004