Landbou

Broodslaai
Foto: DAVID BRIERS

Vullende, vars slaai
BERNICE VAN DER MERWE

Slaaie wat hulle man kan staan as volledige etes — nommerpas vir ons warm somer, en net so goed as jy jou figuur dophou ná die oordaad van die feestyd.

Snoek-en-appelkoosslaai
1 groot stuk gaar gerookte snoek
10 ryp appelkose, halveer en ontpit
2 groot handevol vars roketblare
40 ml boontjiespruite

Slaaisous
50 ml olyfolie
100 ml suurlemoensap
20 ml pietersielie, gekap
Sout en peper

Vlok die snoek en plaas dit op 'n groot opdienbak. Meng die slaaisousbestanddele en kook die appelkooshalwes in die slaaisous vir 3 minute. Sprinkel roketblare, boontjiespruite, appelkose en slaaisous oor die gevlokte snoek. Sit voor met vars brood. Genoeg vir vier tot ses mense.

Broodslaai
1 Franse brood
250 g spekvleis, in stukkies gesny
1 avokadopeer, geskil en in wiggies gesny
groot handvol vars basielkruidblare
200 g kersietamaties, gehalveer

Slaaisous
50 ml olyfolie
100 ml asyn of Verjuice

Breek brood in stukke en plaas in voorverhitte oond van 200 °C vir sowat 20 minute tot uitgedroog en bruin. Sny spek in stukkies en braai tot bros, hou eenkant. Meng nou die brood, spek, avokadopeer, basielkruid en kersietamaties in 'n groot slaaibak en sprinkel slaaisous daaroor.

Genoeg vir vier tot ses mense.

Koue lamsboudslaai
1 kg lamsboud
50 ml olie
100 ml water
Sout en peper
10 radyse, in skywe gesny
1 pakkie bronkors
2 wiele Fetakaas
250 ml Bulgaarse jogurt
30 ml vars kruisement en koljanderblare gekap

Voorverhit die oond op 160 °C en plaas die lamsboud in 'n vuurvaste oondskottel. Vul die bodem met water en bedruip die boud met olie, geur met sout en peper. Plaas die boud in die oond vir 2 uur of totdat die vleis van die been val. (Jy kan die boud al 'n dag voor die tyd gaarmaak, of gebruik oorskietboudvleis). Sodra die boud afgekoel is, sny die vleis van die been af. Sny dit in stukkies en plaas in 'n slaaibak. Meng nou die radyse, bronkors en fetakaas met die vleis. Meng die jogurt met die vars kruie en bedien saam met die slaai.

Genoeg vir ses tot agt mense.

Gerookte hoenderslaai
4 gerookte hoenderborsies
250 g boontjies
350 g baba-aartappels

Soet mosterdsous
3 eiers
250 ml suiker
250 ml asyn
40 ml mosterdpoeier
5 ml sout
50 ml kondensmelk

Sny hoender in skyfies en plaas in 'n mengbak. Kook die aartappels tot gaar, laat dit afkoel en halveer. Kook die boontjies vir n minuut en meng saam met die hoender. Meng al die bestanddele vir die mosterdsous, behalwe die kondensmelk, saam en klits goed vir 'n paar minute. Plaas die sous in 'n klein kastrol en op die stoof oor 'n baie lae hitte. Roer aanhoudend totdat die sous begin kook. Sodra die sous begin kook, roer die kondensmelk by. Meng nou die bestanddele vir die slaai saam en roer die afgekoelde soetmosterdsous daarby.

Genoeg vir vier tot ses mense.

Spinasieslaai
300 g jong spinasieblare
200 g mozzarella, dun gesny
2 lemoene, geskil en in stukke gesny
1 komkommer, in repe gesny

Slaaisous
50 ml olyfolie
100 ml asyn
1 suurlemoen se sap en skil
Sout en swart peper
100 g neute, grof gekap

Spoel spinasie af onder lopende water, dreineer en kap fyn. Sny kaas in dun skywe en hou eenkant. Skil die lemoene en komkommer en sny in dun wiele. Meng bestanddele vir slaaisous en klits goed. Roer al die slaaibestanddele saam en klam aan met slaaisous. Sprinkel gekapte neute oor slaai voor opdiening.

Genoeg vir vier tot ses mense.

21 Januarie 2005