Drie gewilde kosskrywers gee hul gunstelingbeskuitresepte (selfs 'n resep vir 'n poeding wat met beskuitkrummels gemaak word). Jy sal elkeen moet maak - die een is so lekker soos die ander.
Neutbeskuit
Carmen Niehaus se gunsteling beskuitresep is ook 'n Huisgenoot Wenresep. Carmen vertel: "Dié is een van vele Wenresepte van Huisgenoot-lesers wat ook een van my staatmakerresepte geword het. Dis nie net heerlik nie, maar al die sade en neute saam met die gerasperde appel maak dit baie gesond - nét reg as jy jou eetgewoontes volgens die lae Glusemiese Indeks (GI)-dieet wil skik. Hoewel dié beskuit se GI nie gemeet is nie, help die gerasperde appel en sade om die GI van enige gebakte produk te verlaag. Dit het ongelukkig nog heelwat suiker en smeer in, maar jy kan enige tyd minder ingooi - suiker kan maklik tot die helfte verminder word. Sit dan net sultanas, nie rosyne nie, by vir meer soetigheid.
B1 kg bruismeel
B10 ml sout
B10 ml bakpoeier
B500 ml muesli
B250 ml sonneblomsaad
B250 ml pekanneute, gekap
B125 ml klapper
B500 ml semel-ontbytgraanvlokkies
B500 ml bruinsuiker
B2 ekstra-groot eiers
B500 g botter of margarien, gesmelt
B500 ml karringmelk
B1 groen appel, geskil en gerasper
Voorverhit die oond tot 180 grade C en smeer 3 kleinerige broodpanne. Meng die droë bestanddele saam. Voeg ook die bruinsuiker by. Klits die eiers en voeg die res van die bestanddele by. Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Skep in die voorbereide panne, maak gelyk bo-op en bak vir 45-60 minute tot gaar of tot 'n toetspen skoon uit die middel van die beskuit kom. Laat effens afkoel, keer uit en sny in vingers. Plaas op bakplate en droog uit teen 100 ?C. Bêre in lugdigte houers. Lewer sowat 71/2 dosyn beskuit.
Wit karringmelkbeskuit
Die tydskrif Sarie se kosredakteur, Barbara Joubert, vertel: "Dit is die beskuit waarmee ek grootgeword het dié. Ek bak dit in vier broodpanne en sny dit wanneer dit uit die oond kom. Maklik is nie die woord vir dié resep nie!"
B2 kg bruismeel
B10 ml sout
B1 kg botter
B700 g suiker
B1 liter karringmelk
B4 ekstra-groot eiers
Voorverhit die oond tot 180 grade C. Sif die meel en sout saam. Vryf die botter in tot dit lyk soos broodkrummels. Roer die suiker by. Klits die karringmelk en eier saam. Voeg by die meelmengsel en meng goed. Verdeel tussen vier gesmeerde broodpanne en bak vir 50-60 minute op die middelrak van jou oond tot 'n toetspen skoon uitkom as dit in die hoogste deel van die beskuit gesteek word. Keer uit en laat effens afkoel. Sny in stukke en droog vir 4 uur uit teen 100 grade C. Bêre in 'n lugdigte houer. Lewer 12 dosyn beskuit.
Ma Nellie se volgraan-karringmelkbeskuit
Die koskenner en skrywer Ina Paarman vertel dat almal wat by hulle kom kuier het eerste na die beskuitblik gesoek het omdat dit altyd vol was van haar ma, tant Nellie, se heerlike beskuit.
"My ma het ook destyds spesiaal vir haar 'n elektriese broodmes gekoop om die bros beskuit netjies te kan sny, maar die sagte afvalkrummels was altyd vir ons kinders die lekkerste. Sy het ook dikwels die krummels (vars of gedroog) gebruik om 'n soort van gebakte vla-poeding te maak wat absoluut heerlik is! (Sien resep onder).
B300 g botter
B250 ml olie
B500 ml witsuiker
B2 ekstra-groot eiers
B500 ml karringmelk
B250 ml volgraanmeel ("Nutty Wheat")
B750 ml All Bran-ontbytvlokkies
B2 x 500 g pakkies bruismeel
B5 ml sout
Voorverhit die oond tot 180 grade C en smeer 2 broodpanne of 'n oondpan van 360 mm x 270 mm. Voer uit. Smelt die botter, olie en suiker in 'n groot kastrol en klop goed. Voeg die eiers een vir een by en klop goed ná elke byvoeging. Klop die karringmelk in. Voeg nou al die droë bestanddele by en meng goed. Gooi in die voorbereide panne en bak vir 1 uur. Laat effens afkoel, keer uit en sny in vingers. Droog uit teen 100 grade C vir ongeveer 4-6 uur. Bêre in 'n lugdigte houer of koekblik. Lewer 9 dosyn beskuit.
Ina se wenke
"Noudat ek met vandag se oë na die resep kyk, beveel ek beslis effens minder botter (250 g pleks van 300 g) en suiker (11/2 k pleks van 2 k) aan. Vir die mikrogolf - smelt die botter, olie en suiker in 'n groot Pyrex-mengbak, haal uit die mikrogolf en roer nou en dan tot louwarm. Volg die res van die resep, soos hierbo."
Beskuitpoeding
B500 ml melk
B125 ml suiker
BSkil van 1 lemoen en 1 suurlemoen
B1 kaneelstokkie
B2 ekstra-groot eiers
B125 ml volgraanbeskuitkrummels (vars of droog)
B'n Knippie sout
Voorverhit die oond tot 170 grade C. Giet die melk in 'n kastrol en voeg die suiker, skil en kaneel by. Bring tot kookpunt, laat vir 20 minute trek en syg deur 'n sif of moeseliendoek. Klits die eiers en voeg die melk en sout by. Voeg die beskuitkrummels by en giet in 'n kleinerige gesmeerde vuurvaste bak. Bak vir 45 minute tot goudkleurig en ferm. Genoeg vir ses mense.