Blaarslaai en komkommer het wel hul plek, maar in die winter verkies ons slaai met 'n ietsie meer om die lyf...
Vinnige winterslaaie
Gemarineerde murgpampoentjies: Verhit 30 ml olyfolie en soteer 1 gekapte ui en 4 fyn gedrukte knoffelhuisies stadig tot sag. Voeg 500 g gesnipperde murgpampoentjies by en soteer vir 1 minuut tot gaar, maar steeds bros. Voeg 'n handvol tiemieblare by en laat afkoel. Wanneer koud, voeg 45 ml balsamiese asyn en 100 g gekrummelde feta- of bloukaas by.
Spesery-blomkool: Voorverhit die oond tot 200 °C. Stoom of kook 1 groot blomkool (in blommetjies gesny) tot half-gaar. Dreineer en laat staan 'n rukkie om droog te word. Smelt 160 ml botter en giet in 'n oondpan. Voeg 10 ml paprika, 4 ml komyn, 4 ml koljander, sout en peper na smaak by die botter. Voeg die kool by en meng deur. Sorg dat al die blommetjies met die speserybotter bedek is. Oondrooster vir 'n paar minute tot goudbruin en gaar. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.
Beet-en-salmslaai: Sny 'n paar gaar bete in stukke en rangskik op 'n bord met roket. Rangskik 'n paar gerolde stukkies gerookte salm tussen-in en skep 'n paar lepels crème fraiche oor. Maak 'n slaaisous van wit balsamiese asyn, olyf-olie en sjerrie. Geur met sout en peper en sprinkel oor die slaai. Kap 'n paar okkerneute en grasuie grof en sprinkel oor. Sit voor met brood.
Warm tamatie-en-soetrissieslaai
Maak dié resep sommer dubbeld - geroosterde groente is die volgende dag nóg lekkerder en die moontlikhede daarmee is eindeloos.
90 ml olyfolie
2 rooi soetrissies, ontkern en in repe gesny
2 groen soetrissies, ontkern en in repe gesny
Twee handevol kersietamaties
12 vet knoffelhuisies, met skil en al
30 ml balsamiese asyn of suurlemoensap
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Handvol gekapte pietersielie of geskeurde basielblare (indien beskikbaar)
2 wiele fetakaas, in blokkies gesny
Voorverhit die oond tot 200 °C. Giet die olyfolie in 'n oondbak en voeg die soetrissierepe by. Oondrooster vir ongeveer 5-7 minute. Voeg die knoffelhuisies en tamaties by en oondrooster vir 'n verdere 10-15 minute tot die soetrissies se punte begin donker raak en die tamaties oopbars. Sprinkel die asyn of suurlemoensap oor en geur na smaak met sout en peper. Voeg die kruie en kaas by, roer deur en sit warm voor met geroosterde Italiaanse brood.
Idees en variasies
Maak 'n maaltyd hiervan deur dit op gebotterde lintnoedels, soos tagliatelle of pappardelle, te skep. Drup ekstra olyfolie oor en rasper of skaaf parmesaan oor, indien verkies.
Enige oorskiet kan met gestoomde koeskoes of bruinrys gemeng word. Klam aan met 'n soeterige slaaisous en sit voor met geroosterde vis of vleis. Sit 'n handvol ontpitte calamata-olywe by vir ekstra lekkerte.
Wortel-en-botterskorsieslaai
Komyn en koljander gee 'n Marokkaanse geur aan dié vullende slaai. Sit nog brand-rissie by as jy die slaai meer byt wil gee. Dit kan louwarm of teen kamertemperatuur voorgesit word. Roket verlep gou. Meng dit dus nét voor ete met die res van die slaai.
6-8 wortels, skoongemaak en kleiner gesny
1 middelslag-botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
125 ml olyfolie
30 ml komyn
10 ml koljander
1 rooi brandrissie, gekap
Growwe sout en vars gemaalde swartpeper
100 g calamata-olywe, ontpit en gehalveer
Handvol elk vars koljanderblare en pietersielie, grof gekap
Vars roketblare om op te dien
Skeut balsamiese asyn
Voorverhit die oond tot 200 °C. Kook die wortels en botterskorsie vir ongeveer vyf minute in soutwater. Dreineer goed en gooi in 'n oondpan. Giet die olyfolie oor en meng deur. Sprinkel die komyn en koljander, brandrissie, sout en peper oor en meng deur. Oondrooster tot die groente gaar, maar steeds ferm is. Haal uit die oond en voeg die olywe en kruie oor. Skep die warm slaai op roketblare, sprinkel asyn oor en sit voor met geroosterde lamsvleis en vars brood. Genoeg vir 6-8 mense.
Oorskiet? As daar te min oorgebly het vir almal om nóg 'n keer saam te eet, rek die orige slaai deur dit met gestoomde, gebotterde koeskoes te meng. Voeg 'n paar grof gekapte amandels en ekstra vars koljanderblare by.
Sprinkel 'n eenvoudige slaaisous (soos 'n basiese vinaigrette) oor, laat staan 'n rukkie en sit voor saam met gebraaide lam of hoender.
Peer-en-okkerneutslaai
Dié slaai is ideaal om saam met vark of hoender te bedien wat oor die kole gaargemaak is. Verál as die vleis effens met mosterd gegeur is, komplimenteer die soet van die pere dit perfek.
60 ml sonneblomolie
30 ml wit druiwe-asyn of verjuice
5 ml Dijon-mosterd
Sout en vars gemaalde swartpeper
3 ferm pere, met skil en al in wiggies gesny
45 ml botter, gesmelt
15 ml bruinsuiker
100 g gekerfde blaarkool, geblansjeer OF gemengde slaaiblare
100 g okkerneute, gerooster en grof gekap
50 g bloukaas, gekrummel
Klits die olie, asyn of verjuice en mosterd saam en geur met sout en peper. Hou eenkant. Meng die pere met die gesmelte botter en bruinsuiker en braai in 'n warm pan tot gekarameliseer. Gooi die slaaisous oor en kook vinnig deur. Skep die warm pere uit op die geblansjeerde kool, meng liggies deur en sprinkel die okkerneute en stukkies bloukaas oor.
Genoeg vir ses mense.
Eet vyf-'n-dag vir goeie gesondheid
Ons almal weet dit is noodsaaklik om vrugte en groente by jou dieet in te sluit. Dit is propvol vitamiene en minerale wat help om jou immuunstelsel op te bou, laag in vet, veselryk en bekostigbaar. Maar (verál in die winter) eet ons dikwels te min groente en vrugte. Daar is eintlik vele maklike maniere om - ook op koue dae - jou kwota te eet. Volg dié maklike riglyne en wend so 'n daadwerklike poging aan om jou liggaam van al die noodsaaklike vitamiene, minerale en vesel te voorsien.
Kleurvolle kos: 'n Bord kos met 'n verskeidenheid kleure lyk beslis lekkerder as 'n vaal, doodgekookte ete. Die Five-a-Day-beweging noem dit die verkeerslig-effek: Sorg dat jy elke dag minstens een geel (bevat betakaroteen, bv. wortels, pampoen, mango en papaja), een rooi (bevat likopeen, bv. kersies, tamaties, aarbeie, waatlemoen of koejawels) en een groen (bevat lutien, bv. groen kool, ertjies, groenbone en avokados) groente of vrugte by jou etes insluit. Eet dan nóg twee ander tipes van jou keuse.
Sorg vir verskeidenheid: Onthou dat daar baie is om uit te kies. Rou, gaar én gedroogte produkte tel. Wissel dit af en etes sal nooit vervelig raak nie.
5 Augustus 2005