Landbou
Proe aan poeding
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Wat is lekkerder op 'n koue dag as 'n warm gebakte poeding met dik vla of 'n skeppie roomys? Hier is vier gunstelinge uit ons toetskombuis.

Volgens my maak Franse brood, of - as jy regtig oordadig wil wees - croissants, die beste broodpoeding. Franse brood sorg vir 'n effense taai korsie en 'n romerige, sagte middel. Die geheim is dat jy die poeding lank genoeg moet laat staan voor dit gebak word sodat die brood soveel moontlik van die romerige eiervla kan absorbeer. Bak broodpoeding altyd in 'n warmwaterbad, aangesien die eiermengsel maklik kan skif as dit té warm kry.

2 klein Franse brode, in skywe van 2 cm gesny
200 g donker sjokolade, fyn gekap
5 ekstra-groot eiers
125 ml strooisuiker
10 ml vanieljegeursel
500 ml room
250 ml volroommelk
90 ml whisky

Rangskik die helfte van die broodsnye in 'n gesmeerde oondbak. Sprinkel die helfte van die sjokolade oor. Pak die res van die broodsnye bo-op en sprinkel die orige sjokolade oor. Klits die strooisuiker, vanieljegeursel, room en melk saam en voeg die whisky by. Giet oor die brood en sjokolade. Druk die brood met jou hande af sodat die eiervla ook in die boonste laag brood kan intrek. Laat staan vir sowat 1 uur. Druk kort-kort die boonste broodlaag weer in die vla met jou hande. Voorverhit intussen die oond tot 180 °C. Sit die bak binne-in 'n groter oondbak waarin 'n bietjie water is en bak dan vir sowat 1 uur tot die poeding ferm is en die rante donkerbruin begin raak. Haal uit die oond en laat die poeding vir 15-20 minute afkoel voordat dit voorgesit word.
Genoeg vir 6-8 mense.

Sitruspoeding
Dié poeding vorm 'n dun korsie bo-op en het 'n dik laag romerige suurlemoensous onder-in die bak.

310 ml suiker
60 ml koekmeelblom
Knippie sout
250 ml karringmelk
4 ekstra-groot eiers, geskei
125 ml vars lemoensap
125 ml vars suurlemoensap
60 ml botter, gesmelt
5 ml gerasperde lemoenskil
5 ml gerasperde suurlemoenskil

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n ronde oondbak van ongeveer 35 cm in deursnee. Meng 250 ml van die suiker, die meel en sout saam in 'n groot bak. Klits die karringmelk, eiergele, lemoen- en suurlemoensap, gesmelte botter, en die sitrusskil saam en klits dit dan by die suiker en meelmengsel in. (Die beslag sal baie dun wees.) Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en voeg die orige suiker (125 ml) geleidelik by. Klits aanhoudend tot dik en blink. Vou by die beslag in. Giet in die gesmeerde bak en sit dié bak binne-in 'n groter oondbak met 'n bietjie water in.
Bak vir sowat 40-50 minute of tot die bokant goudbruin en die onderkant verdik is. Laat vir 15 minute afkoel en sit voor met vla of 'n vrugtesous.
Genoeg vir ses mense.

Rolpoeding met vrugte
"Roly-poly" - rolpoeding - is 'n ou staatmaker in menige huis. Dié variasie is propvol vrugte en speserye en smaak vorentoe met vla.

Deeg 500 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
1 ml sout
2 ml kaneel
Knippie gemengde speserye
45 g koue botter, in klein blokkies gesny
1 ekstra-groot eier
100 ml melk
250 ml appelkooskonfyt of fyn marmelade

Vrugtemengsel
1 Granny Smith-appel, geskil, ontkern en gerasper
1 ryp, ferm peer, geskil, ontpit en gerasper
80 ml pitlose rosyne
45 ml bruinsuiker
2 ml kaneel

Sous
250 ml ligte bruinsuiker
45 ml botter
625 ml kookwater

Sif die meel, bakpoeier, sout, kaneel en gemengde speserye saam. Vryf die botter met jou vingerpunte by die droë bestanddele in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Klits die eier en melk saam en voeg geleidelik by die droë bestanddele. Meng tot 'n deeg.
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak van 30 cm x 20 cm met botter. Rol die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak uit tot 'n reghoek van 5 mm dik. Smeer met 'n lagie appelkooskonfyt of fyn marmelade. Meng die bestanddele vir die vrugtemengsel saam en sprinkel egalig oor die deegblok. Rol in die lengte op en sny in skywe van 1,5 cm. Pak die skywe (nie té na aanmekaar nie, want dit rys taamlik baie) in die oondbak.
Roer die bestanddele vir die stroop saam tot die suiker opgelos is en giet versigtig oor die poedingskywe. Bak vir 40 minute tot goudbruin en uitgerys. Laat staan vir 15 minute en sit voor met vla.
Genoeg vir agt mense.

Dadelpoeding
Dié dadelpoeding is klam genoeg om sonder 'n sous te bedien, maar is ékstra lekker met 'n skeppie vanieljeroomys en taai bottertoffiesous.

500 g ontpitte dadels, gekap
500 ml water
7 ml koeksoda
500 ml koekmeelblom
5 ml bakpoeier
3 ml fyn gemmer
2 ml sout
90 ml sagte botter
250 ml ligte bruinsuiker
3 ekstra-groot eiers
100 g (1 pakkie) pekanneute, gekap

Bottertoffiesous
200 ml sagte botter
375 ml ligte bruinsuiker
250 ml room
5 ml vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak van 30 cm x 15 cm goed met botter. Verhit die dadels en water saam tot kookpunt en laat prut liggies vir ongeveer 3-5 minute. Verwyder van die hitte, laat staan vir 'n paar minute en voeg die koeksoda by. Laat staan eenkant vir 20 minute. Sif intussen die meel, bakpoeier, gemmer en sout saam in 'n groot bak. In 'n ander bak, verroom die botter en bruinsuiker tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die meelmengsel by en klits tot net-net gemeng. Roer die dadelmengsel en die gekapte neute by. Skep in die voorbereide bak en bak vir 35 minute tot gaar. Vir die toffiesous: Smelt die botter en suiker en voeg die room by. Verhit verder terwyl aanhoudend geroer word tot die suiker gesmelt is. Prut vir sowat 10 minute tot die sous begin verdik. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by. Sit die poeding voor met die toffiesous en roomys van jou keuse.
Genoeg vir 8-10 mense.

12 Augustus 2005