Landbou
'n Koel Kersfees
ARINA DU PLESSIS

Dis so half tradisie dat ons Kerstafels kreun onder stomende bakke gekookte kos - al vier ons Kersfees in die middel van ons warm somer. Vanjaar doen ons dit anders met 'n koue Kersmaal en 'n koel kleurskema - dis nét so feestelik en boonop hoef niemand agter 'n warm stoof te sweet op Kersdag nie!

Kies dié Kersfees 'n koel, somerse kleurskema en dra dit deur - van pakkies oortrek tot jou tafel - vir 'n stylvolle alternatief op die winterkleure wat so dikwels gebruik word.

tafel
Wit droë takkies met akrielverf af en kombineer dit met silwer balletjies, silwer sterre en prettige klokkies op 'n sagteturkoois tafeldoek vir 'n dromerige, koel tafel. Lê die takkies en versierings in die middel van die tafel neer óf druk die takkies in konfytflesse wat met growwe sout gevul is en hang en knoop dan die versierings aan die takkies. Druk of skryf Kersverse of gepaste woorde in silwer op turkoois- of silwerkleurige papier en knoop die repe papier met fyn koord aan die takkies vas vir ekstra detail. Gebruik verkieslik wit breekware en dek jou mooiste eetgerei vir dié feestelike geleentheid. Gebruik eenvoudige papier-Kersbome (uit turkoois papier geknip) om sitplekke aan te dui.

Wenk
Gebruik die witgewaste takkies en versierings om die Kersgevoel, nie net op die tafel nie, maar ook op jou koffietafel en kaggelrak, verder weer te gee.

Thaise hoenderhappies

Dié lekker happies se geur verbeter as dit vir 'n dag in die yskas staan en smaak heerlik koud.

4 hoenderborsies, fyn gekap
1 groen soetrissie, fyn gekap
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
60 ml fyngekapte pietersielie
2 rooi brandrissies, ontpit en gekap
Sout, peper en speserye na smaak
1 ekstra-groot eier, geklits
75 ml vars witbroodkrummels
10 ml fyngerasperde suurlemoenskil
3 grasuie, geka
Koekmeelblom
Olie, vir braai

Verwerk hoender, soetrissie, knoffel, pietersielie, brandrissies, geurmiddels, eier, broodkrummels, suurlemoenskil en grasuie saam in 'n voedselverwerker tot gemeng. (Moenie te lank meng nie, dit sal pap word.) Vorm bolletjies met meel bestrooide hande en druk effens plat. Braai in vlak olie tot goudbruin en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en laat afkoel. Sit voor op roket met soet rissiesous. Lewer 18 happies.

  • Nota: Soetrissiesous is by alle supermarkte beskikbaar. Soek daarvoor by die blatjangs en souse.

    Verglansde ham
    Maak die ham tot vier dae voor die Kersete en sit koud voor.

    5-8 kg ham
    10 ml droë mosterd
    2 lourierblare

    Glansmengsel
    250 ml appelkooskonfyt
    15 ml aangemaakte mosterd
    30 ml wit druiwe-asyn
    30 ml olie

    Ingelegde appelkoossuurtjies, om mee voor te sit

    Voorverhit die oond tot 160 °C. Vryf die ham in met mosterd en sit op 'n groot stuk foelie neer. Sit die lourierblare bo-op die ham en vou die hele ham met foelie toe. Bak vir ongeveer 3 uur (rofweg 15-25 minute per 500 g vleis). Laat effens afkoel en sny die swoerd af. Sny soveel van die vet af as wat jy verkies. Meng die konfyt, mosterd, asyn en olie vir die glansmengsel en skep die helfte oor die ham. Bak vir 45 minute of tot goudbruin en gaar. Bedruip gereeld met die glansmengsel. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel.

    Genoeg vir 12 mense.

  • Nota: Vervang die appelkoossuurtjies met oondgeroosterde pynappelskywe, indien verkies.

    Varkterrien
    250 g repiespek
    1 kg varkworsies
    1 ui, gerasper
    2 knoffelhuisies, fyn gedruk
    45 ml vars pietersielie, gekap
    45 ml vars salie, gekap
    2 eiers, geklits
    125 ml room
    30 ml brandewyn
    3 ml neutmuskaat
    Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

    Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer 'n broodpan uit met die spekvleisrepies sodat die kante oor die rant van die pannetjie hang. Druk die worsvleis uit die worsderms en meng met die gerasperde ui, fyn knoffel en kruie. Klits die eiers, room, brandewyn, neutmuskaat en geurmiddels saam. Skep in die pan, maak gelyk bo-op en vou die spekvleisrepies oor die vulsel sodat dit heeltemal bedek is. Bedek met foelie. Sit die broodpan in 'n groter oondbak wat half-vol water gemaak is en bak vir 1-11/2 uur. Laat staan vir 15 minute. Vul 'n leë, effens kleiner, broodpan met droë bone of iets wat as gewig kan dien en sit dit bo-op die terrien om so af te koel (dit verseker 'n kompakte terrien wat nie breek as dit gesny word nie). Laat staan tot afgekoel en verkoel dan oornag. Sit koud of teen kamertemperatuur voor met mosterdmayonnaise of soet mosterdsous.

    Genoeg vir 8-10 mense.

  • Nota: Die terrien vries goed, dit kan dus al 'n tydjie voor Kersfees gemaak word.

    Oondgeroosterde beesfilet
    2 kg beesfilet
    60 ml Cajun-speserymengsel
    30 ml olyfolie
    45 ml sojasous

    Vryf die filet met die speserymengsel in en drup 15 ml van die olie oor. Laat staan vir 15-30 minute. Verhit die res van die olie in 'n pan tot baie warm en braai die filet daarin tot bros en bruin aan die buitekant. Giet die sojasous oor en braai tot gekara-meliseer. Laat rus vir 'n paar minute en sny in dun skyfies. Die vleis sal nog pienk wees aan die binnekant. (As jy van jou filet meer gaar hou, bak dit verder in die oond (teen 180 °C) tot gaar na jou smaak). Laat rus vir 10 minute, sny in baie dun skyfies en sit koud voor met klein geroosterde tamaties en 'n romerige kruiesous.

    Genoeg vir 10 mense.

    Drie soorte slaai
    1. Geroosterde soet groente met vars gemmer
    2 groot patas, geskropv 1/2 botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
    2 rooi uie, in wiggies gesny
    6 wortels, geskrop en gehalveer
    6 cm stuk vars gemmer, geskraap en in skyfies gesny
    45 ml olyfolie
    60 ml heuning
    sout en peper na smaak

    Voorverhit die oond tot 200 C. Sny die patats in blokkies en meng met die botterskorsie, uie, wortels en gemmerstukkies in 'n oondbak. Sprinkel die olie oor en meng deur met jou hande. Drup die heuning oor en meng deur. Geur na smaak met sout en peper. Bedek die bak met foelie en bak vir 20 minute. Verwyder die foelie en bak oop vir 20-30 minute of tot die groente sag en die punte gekaramliseer is. Laat afkoel en sit voor teen kamertemperatuur.

    Nota: Om die slaai verder te rek, sit die groente op koeskoes voor.

    2. Groenslaai met sitrussous
    Die sitrusgeur van dié slaai pas perfek by die geur van die ham.

    500 g jong groenboontjies, skoongemaak
    300 g gemengde groen slaaiblare
    150 g suikerpeul-ertjies ("sugar snaps")
    1 pakkie grasuie, gesnipper

    Slaaisous
    15 ml gerasperde ui
    10 ml Dijon-mosterd
    3 ml heuning
    5 ml fyngerasperde suurlemoenskil
    3 ml fyngerasperde lemoenskil
    30 ml suurlemoensap
    30 ml lemoensap
    60 ml olyfolie
    15 ml wit asyn

    Stoom die groenboontjies tot gaar en dompel vinnig in yskoue water. Laat afkoel en meng met die slaaiblare, peul-ertjies en grasuie. Klits die gerasperde ui, mosterd, heuning, suurlemoen- en lemoenskil, suurlemoen- en lemoensap, olie en asyn saam. Sprinkel oor die slaai, rond af met boontjiespruite en sit voor.

    Genoeg vir 8 mense.

    3. Appel-en-bloukaasslaai
    Heerlik saam met die varkterrien.

    Slaaisous
    50 g romerige bloukaas
    60 ml olyfolie
    30 ml room
    15 ml suurlemoensp
    30 ml vars pietersielie, gekap

    Slaai
    6 klein rooi appels, ontpit en dun gesny
    30 ml suurlemoensap
    50 g bloukaas, gekrummel
    100 g okkerneute, gerooster en gekap

    Vir die slaaisous: Verwerk die kaas, olyfolie, room, suurlemoensap en pietersielie saam tot glad. Besprinkel die appelskywe met suurlemoensap en giet die slaaisous oor. Meng deur. Skep op 'n bord met slaaiblare en sprinkel die bloukaas en okkerneute oor.

    Genoeg vir 8 mense.

    Volkoring-grasuibroodjies
    500 g koekmeelblom
    500 g volkoringmeel
    1 pakkie grasuie, gesnipper
    1 pakkie (10 g) kitsgis
    10 ml sout
    10 ml suiker
    625 ml louwarm water
    45 ml botter
    60 ml olie
    100 ml neut-en-saad-kruiemengsel

    Meng die mele, grasuie, gis, sout en suiker. Meng die water en botter saam en voeg bietjie vir bietjie by die droë bestanddele terwyl aangemaak word tot 'n hanteerbare deeg. Knie vir 10 minute tot glad en elasties. Sit die deeg in 'n geoliede mengbak, bedek en laat rys op 'n warm plek tot dubbeld in volume. Knie af en verdeel in twaalf ewe groot bolletjies. Smeer 'n muffinpan en voer uit met stukkies bakpapier wat bo die muffinholtes uitstaan. Voorverhit die oond tot 190 °C. Sit 'n bolletjie deeg in elke muffinholte en laat rys weer vir 20-30 minute of tot goed uitgerys. Smeer elke broodjie se bokant met olie en besprinkel met die kruiemengsel. Bak vir ongeveer 20-30 minute of tot goudbruin en gaar.

    Lewer 12 broodjies.

    Feestelike roomyskoek
    Só 'n roomyskoek bly een van my gunstelingnageregte. Dis doodmaklik en vinnig om te maak en is so deftig of eenvoudig, groot of klein soos wat jy dit verkies. Boonop kan dit al 'n maand voor Kersfees gemaak word en wat ook al oorbly, kan net weer gevries word vir later.

    2 liter toffieroomys, effens sag gemaak
    1 groot grondboonbroslekker ("Peanut snack"), gekap
    60 ml Amarula-roomlikeur
    250 ml vrugtekoekmengsel
    45 ml brandewyn
    2 liter vanieljeroomys, effens sag gemaak
    100 g gemmerkoekies, fyn gedruk
    80-100 ml botter, gesmelt

    Smeer 'n groot brood- of koekpan en voer goed uit met kleefplastiek. Maak seker dat die rante van die kleefplastiek 'n hele ent oor die kante van die pan hang. In 'n groot mengbak, maak die toffieroomys lekker sag met 'n houtlepel. Roer die grondboonbroslekker en Amarula-likeur by en meng goed. Skep in die uitgevoerde pan en sit in die vrieskas vir 20 minute. Verhit intussen die vrugtekoekmengsel en brandewyn saam en kook tot die vrugte sag is. Laat afkoel, meng met die sagte vanieljeroomys en skep op die toffieroomyslaag. Vries tot hard. Meng die botter en koekiekrummels en druk op die vanieljeroomyslaag vas. Vou die kleefplastiek toe om die roomyskoek en vries tot wanneer nodig.

    Genoeg vir 12 mense.

    16 Desember 2005 aduplessis@landbou.com