Landbou
Paasgebak uit verre lande
ARINA DU PLESSIS

Vul jou huis met die heerlike geure van tradisionele speserygebak wat dwarsoor die wêreld sê: Dis Paasfees.

Italiaanse speserykoekies
Dié bros beskuitjies word Piparelli genoem en is 'n gunsteling wat net ná die vastyd oral in Italiaanse koekwinkels verskyn. Dit word met naeltjies gegeur en die heuning in die deeg karameliseer terwyl die koekies bak en verleen 'n besonderse geur.

90 ml sagte botter
60 ml klam bruinsuiker
250 ml heuning
2 eierwitte
750 ml koekmeel
7 ml koeksoda
1 ml sout
4 ml gemaalde naeltjies
5 ml fyn gerasperde lemoenskil
250 ml gesplinterde amandels

Voer 'n bakplaat met bakpapier uit. Smeer die papier liggies. Verroom die botter, bruinsuiker en heuning goed. Voeg een van die eierwitte by en klits goed tot gemeng. Sif die meel, koeksoda, sout en naeltjies saam en voeg by die bottermengsel. Roer deur, voeg die lemoenskil en amandels by en maak aan tot 'n deeg. Deel in drie ewe groot stukke en verkoel tot benodig (of vir minstens 30 minute).
Voorverhit die oond tot 180 C. Rol elke stuk deeg tussen jou hande om drie rolle te kry en sit op die bakplaat. (Los genoeg spasie tussen elkeen.) Klits die ander eier-witte tot skuimerig en verf oor elke rol deeg. Bak vir 20-25 minute tot deurgebak en gaar, maar steeds effens sag. Haal uit die oond en laat afkoel vir 15 minute. Verlaag die temperatuur tot 150 °C. Sny die drie gebakte stukke deeg oorlangs in stukkies en pak (met die gesnyde kante na bo) op die bakplaat.
Droog uit vir 15-20 minute tot die koekies bros is, maar nie te donker nie. Laat afkoel en bêre in 'n lugdigte houer.
Lewer ongeveer 45 koekies.

Papawersaad-brosbrood
Die papawersaad lyk nie net mooi in hierdie Russiese koekies nie, dit sorg vir 'n interessante tekstuur.

250 ml sagte botter
125 ml suiker
5 ml vanieljegeursel
1 ml sout
500 ml koekmeel
80 ml papawersaad

Verwerk die botter, suiker en vanieljegeursel in 'n voedselverwerker. Voeg die sout en koekmeel by. Pols 'n paar keer tot byna gemeng. Voeg die papawersaad by en werk deur tot 'n deeg vorm. Draai in kleefplastiek toe en verkoel vir 30 minute. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n bakplaat met bakpapier uit. Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak tot ongeveer 4 mm dik. Druk vorms uit en pak op die bakplaat. Bak vir 15 minute tot liggoudbruin teen die kante (die koekies sal nog sag wees). Laat effens op die plate afkoel en dan verder op draadrakke. Sif versiersuiker oor en bêre in 'n lugdigte houer. Lewer ongeveer 60 koekies.

Russiese vlegselbrood
Dié heerlike, ryk brood (in Russies 'n Kulich) se tekstuur herinner effens aan mosbolletjies. Dit word tradisioneel in blikke gebak om 'n hoë, ronde brood te verkry. Die Russe bedien 'n soet smeerkaas daarby en dit word met die res van die Paasmaal (wat gewoonlik bestaan uit vleis, kaas en gekookte eiers) geëet.

250 ml volroommelk
125 ml suiker
180 ml botter
60 ml louwarm water
2 ml amandelgeursel
6 x 250 ml koekmeel
10 ml sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
4 groot eiers
Ongeveer 45 ml melk

Verhit die melk, suiker, botter en water in 'n pot tot die botter gesmelt en suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en voeg die geursel by. Meng die meel, sout en gis saam in 'n bak en maak 'n holte in die middel. Klits drie van die eiers en voeg by die melkmengsel. Voeg bietjie vir bietjie by die meelmengsel - terwyl jy meng - tot 'n sagte deeg vorm. Keer uit op 'n meelbestrooide oppervlak en knie goed vir ongeveer 10-15 minute tot die deeg glad en elasties is. Smeer 'n mengbak met botter en sit die deeg daarin. Bedek met 'n klam doek of botterpapier en laat op 'n warm plek rys tot dubbel in volume. Knie die deeg af en verdeel in twee dele. Breek 'n derde van elke stuk af. Vorm die twee groot bolle deeg en sit in twee goed gesmeerde broodpanne. (Die broodpanne moet omtrent halfvol wees.) Rol die orige twee stukke deeg elk in 'n rol (effens langer as die lengte van die broodpan). Sny die rol in drie bene en vleg soos 'n koeksister. Druk die los punte teen die kante van die brood in die pan en laat lê die vlegsel bo-op. Laat rys tot die pan vol is en die vlegsel bo die pan uitstaan.
Voorverhit die oond tot 180 °C. Klits die orige eier met 'n bietjie melk. Verf 'n dun lagie van die eiermengsel bo-oor die brode. Bak vir ongeveer 1 uur of tot die panne hol klink as jy met jou kneukels daarteen klop. Laat effens in die pan afkoel en keer uit op 'n teedoek. Draai die brood liggies toe en laat só afkoel. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor.
Lewer twee middelslagbrode.

Simnelkoek
Dié bekende Paasfeeslekkerny het sy oorsprong in Frankryk. Dit word nie, soos die meeste vrugtekoeke, ryp gemaak voor dit geëet word nie. Inteendeel, dis warm uit die oond die heel lekkerste. Simnelkoek word tradisioneel met 'n lagie marsepein versier en kry dan elf marsepeinballetjies bo-op. Dié elf balletjies verteenwoordig die elf getroue dissipels (die twaalfde een, wat Judas verteenwoordig, word uitgelaat.) Dié variasie is aangepas uit die resepteboek Sarie soetgoed.

750 g marsepein
80 ml botter
200 ml strooisuiker
4 groot eiers
375 ml koekmeel
3 ml bakpoeier
10 ml gemengde speserye
500 g luukse vrugtekoekmengsel

Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer 'n hoë losboomkoekpan van 18 cm en voer die bodem en kante met bakpapier uit. Deel die marsipein in drie gelyke dele. Draai die een in kleefplastiek toe en hou eenkant. Rol die ander ongeveer so groot soos die pan uit en sny 'n sirkel so groot soos die pan se bodem uit elkeen. Verroom die botter en suiker goed. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Sif die meel, bakpoeier en speserye bo-oor. Voeg die vrugtekoekmengsel by en roer tot gemeng. Skep die helfte van die beslag in die pan. Sit een van die marsepeinsirkels op die beslag en skep die res van die beslag bo-op. Maak gelyk en bak vir 2 uur tot gaar. Deel intussen die orige stuk marsipein in elf ewe groot stukkies en rol in bolletjies. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en verhit intussen die oondrooster. Keer die koek uit. Plaas die tweede marsepeinsirkel bo-op die koek en pak die marsepeinbolletjies op. Druk die koek vinnig onder die oondrooster tot die marsepeinlaag en -bolletjies ligbruin is. Laat afkoel en bêre in 'n lugdigte houer.

Lemoenskilkoekies
Sagte Griekse koekies (Koulourakia) met 'n ligte sitrusgeur. Kies tussen anyssaad of sesamsaad om die koekies te geur.

215 ml sagte botter
60 ml olie
30 ml fyn gerasperde lemoenskil
250 ml suiker
1 eier
5 ml vanieljegeursel
4 x 250 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml koeksoda
60 ml lemoensap
1 ekstra eier, geklits
125 ml anyssaad of sesamsaad

Drupversiersel
375 ml gesifte versiersuiker
45 ml lemoensap

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n paar bakplate met bakpapier uit. Klits die botter, olie, lemoenskil, suiker en vanieljegeursel baie goed saam. Sif die meel, bakpoeier en koeksoda bo-oor en voeg die lemoensap by. Maak aan tot 'n deeg. Deel die deeg in vier stukke en vorm in rolle van 10 cm dik. Druk elkeen effens plat. Verf elke rol bo-op met geklitste eier en druk die geverfde deel in anys- of sesamsaad. Sny die rolle in kleiner stukkies en pak op die bakplate. Bak vir ongeveer 15-20 minute tot liggoudbruin. Laat afkoel. Meng die versiersuiker en lemoensap saam en drup van die lemoendrupversiersel oor die koekies. Laat hard word en bêre in 'n lugdigte houer. Lewer 60 koekies.

Sout platbrode
250 ml hawermout
500 ml koekmeel
7 ml bakpoeier
2 ml koeksoda
10 ml suiker
10 ml sout
125 ml botter
160 ml karringmelk
1 eier
30 ml anyssaad
Grof gemaalde sout

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer 'n bakplaat uit met bakpapier. Maak die hawermout in 'n voedselverwerker fyn. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, suiker en sout by en pols tot gemeng. Voeg die botter by en pols tot krummelrig. Voeg die karringmelk en eier by en pols tot 'n deeg vorm. Deel die deeg in vier dele. Rol elke bol deeg dun uit op 'n meelbestrooide oppervlak. Klits die eier en verf oor elke platbrood. Sprinkel 'n bietjie anyssaad en grof gemaalde sout oor elkeen. Druk die saadjies en sout liggies met jou hand op die deeg vas. Bak vir sowat 20 minute tot gaar.
Sny in repe en sit voor met drankies. Lewer 24 repe.

Italiaanse Paasbrood
Moenie dié resep aanpak as jy nog nooit brood gebak het of as jou geduld aan die min kant is nie. Omdat die brood baie botter en eiers kry, moet dit 'n paar keer rys en neem dit amper 'n volle dag om te maak. Die eindresultaat is wél die moeite werd - 'n ryk en soet, geurige gisbrood vol sultanas en sitrusskil wat baie soos panettone proe en boonop lank vars bly. Die Italianers noem dit Pinza en bak dit graag gedurende Paastyd. Hulle sit dit met koffie of tee vir ontbyt voor, of vir nagereg met mascarpone en bessies bo-op.

375 ml sultanas
125 ml rum
250 ml melk
250 ml suiker
4 pakkies (10 g elk) kitsgis
9 x 250 ml koekmeel
3 eiers
6 eiergele
125 ml sagte botter
125 ml soetwyn
Fyn gerasperde skil van 2 lemoene en 2 suurlemoene
7 ml sout
10 ml vanieljegeursel
30 ml water
Ekstra sagte botter

Gooi die sultanas in 'n vlak bak uit en giet die rum oor. Hou eenkant. Verhit die melk en 125 ml van die suiker saam tot taamlik warm en ál die suiker opgelos is. Meng die gis en 250 ml (1 k) van die meel. Maak 'n holte in die middel en giet die melkmengsel daarin. Roer goed om te meng. Bedek die bak met 'n klam doek en laat staan op 'n warm plek tot skuimerig. Roer met 'n vurk tot die borrels weg is en herhaal die proses nog twee maal. Klits nou twee van die heel eiers en twee van die eiergele saam met die orige 125 ml suiker tot liggeel en donsig. Voeg 60 ml van die botter by en klits tot gemeng. Voeg die soetwyn, sitrusskil, sout en vanieljegeursel by en klits tot goed gemeng. Gooi uit in 'n groot mengbak en voeg 5 x 250 ml (5 k) van die orige koekmeel geleidelik by terwyl aanhoudend gemeng word. Hou aan meng tot 'n deeg. Sit in 'n gesmeerde mengbak, bedek liggies en laat rys op 'n warm plek tot dubbel in volume. Knie die deeg goed af. Voeg nou die orige vier eiergele en 60 ml sagte botter by en werk met jou hande deur tot goed gemeng. Voeg ook genoeg van die orige meel by om 'n effens klewerige deeg te vorm. Voeg die sulatanas en rum by en meng goed. Keer die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak uit en knie goed vir ongeveer 15 minute tot die deeg sag, glad en elasties is. Smeer die hele bol deeg met sagte botter, sit in 'n groot bak en bedek liggies. Laat rys weer tot dubbel in volume.
Knie die deeg weer af en deel in vier ewe groot stukke. Vorm die deeg in vier bolle en bak twee-twee op bakplate. Knip 'n diep kruis met 'n skêr in elke bol deeg. Smeer ál vier bolle deeg liggies met gesmelte botter en laat rys weer vir ongeveer 1 uur.
Voorverhit nou die oond tot 160 °C. Bak die brode vir 40 minute. Haal uit die oond. Klits orige eier en verf die brode daarmee. Bak vir 'n verdere 20 minute tot goudbruin en gaar. Laat goed afkoel voor die brode gesny word. Lewer 4 middelslagbrode.

7 April 2006