As jy so gelukkig is om 'n vrieskas vol wildsvleis te hê, probeer een van dié lekker resepte.
Vlakvarkbredie
2 kg vlakvark, in blokkies gesny
250 ml koekmeel (gegeur met sout, peper en gemengde, droë kruie)
45 ml olie
45 ml botter
1 pak (250 g) repiespekvleis, gesnipper
2 groot uie, in wiggies gesny
4 knoffelhuisies, in stukkies gesny
500 ml wildsaftreksel
10 middelslag baba-aartappels, gehalveer
250 ml port
2 lourierblare
2 takkies vars roosmaryn
1 pak (250 g) knopiesampioene, grof gesnipper
125 ml - 250 ml suurroom
Vars pietersielie, vars gerasperde suurlemoenskil, sout en peper na smaak.
Druk die vlakvarkblokkies deeglik droog en bestuif dan met die gegeurde meel. Verhit die botter en olie saam in 'n pot en braai die vleis in lotte tot goed bruin. Skep uit met 'n gaatjieslepel en hou eenkant.
Braai die spek, uie en knoffel in die orige botter-en-olie-mengsel tot die uie sag is. Sit die vlakvarkblokkies terug, voeg die aftreksel by en verhit tot kookpunt. Bedek en prut vir ongeveer 1 ½ uur of tot die vleis sag is. Voeg die aartappels, port, lourierblare en roosmaryn by en prut oop vir nog 30 -45 minute. Voeg die sampioene by en prut tot gaar. Roer die suurroom, pietersielie, suurlemoenskil, sout en peper by. Sit voor op krummelpap.
Genoeg vir 10 mense.
Springboksosaties
2 kg springbokboud, ontbeen
2 - 3 uie, gehalveer en geblansjeer
Ongeveer 40 sagte, droë appelkose
Marinade
15 ml mosterdpoeier
125 ml tamatiesous
15 ml donker sojasous
45 ml perskeblatjang
5 ml appelkooskonfyt
30 ml wit druiwe-asyn
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
Sout en peper na smaak
Sny die vleis in ewe groot blokkies. Week 'n handvol houtsosatiestokkies vir 30 minute in kookwater. Sny die uie in stukkies. Gooi die appelkose en uie vir die laaste 10 minute by sodat dit effens kan uitswel. Ryg die springbokblokkies, afwisselend met appelkose en stukkies ui, op die stokkies. Meng ál die bestanddele vir die marinade saam en marineer die sosaties vir minstens een dag daarin. Oondrooster of braai oor die kole tot die sosaties gaar is na jou smaak. (Dit neem ongeveer 6 - 10 minute).
Genoeg vir 10 - 12 mense.
Mediterreense springbokskenkels
Olyfolie
Ongeveer 10 heel springbokskenkels
3 uie, in wiggies gesny
3 knoffelhuisies, gekap
500 ml rooiwyn
1 hoenderaftrekselblokkie
1 blik (410 g) gekapte tamaties
2 ansjovisfilette, gekap
Handvol vars oreganum
Sout, peper en bruinsuiker na smaak
Handvol ontpitte calamata-olywe, gesnipper
Handvol vars kruie, gesnipper
Vars gerasperde suurlemoenskil na smaak
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n groot oondbak goed met olyfolie. Pak die skenkels bo-op 'n bed van uiewiggies en gekapte knoffel in die oondbak. Meng die rooiwyn en aftrekselblokkie en voeg die tamaties en ansjovisfilette by. Gooi oor die skenkels. Sprinkel die oreganum, sout, peper en bruinsuiker oor en bedek die bak met 'n dubbele laag foelie. Bak vir 3 - 4 uur tot die vleis sag is en van die bene begin afval. Draai die skenkels om in die sous en voeg die olywe, kruie en suurlemoenskil by. Bak onbedek verder tot die sous afgekook, dik en geurig is. Sit voor op fynaar-tappel of polenta.
Genoeg vir 8 - 10 mense.
Gestopte gemsbokfilet
1 gemsbokfilet (ongeveer 1 kg)
1 ryp, ferm avokado
½ (50 g) brie-kaas
1 pak (250 g) repiespekvleis
Vlek die filet in sy lengte oop en vul met skyfies avokado en brie-kaas. Vou toe. Lê die spekvleisrepies op 'n werkoppervlak en laat lê die filet bo-op. Draai elke repie spek om die filet en vou na binne. Bind vas met tou. Braai in 'n pan of rooster in die oond tot die spek goudbruin en bros is. As die filet dun is, sal die vleis ook nou gaar wees. As dit egter 'n dik filet is, sit dit vir 10 - 15 minute in die oond by 180 °C. Laat rus vir 2 - 03 minute en sny. Sit voor met 'n brandewyn- of groenpeper-roomsous, aartappels en groente.
Genoeg vir ses mense.
Variasie: Probeer ook 'n kombinasie van bloukaas en gesnipperde groenvyekonserf of fetakaas met pikantrissies vir dié filet se vulsel.
Wenk: As jy filet in 'n pan gaan braai, sny die vleis voor dit gevul word in kleiner stukke sodat dit maklik in die pan sal pas.
23 Junie 2006