Landbou

Biefstuk met uiesous.
Foto: Neville Lockhart

Ode aan uie
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Al laat dit so maklik die trane loop, is die ui se suksesverhaal alles behalwe 'n tranetrekker. Dink 'n bietjie hoe onmisbaar uie in jou kombuis is en jy sal besef daar is maar min groentesoorte waarsonder jy so moeilik sal klaarkom as uie.

Biefstuk met uiesous
4 biefstukke van jou keuse
45 ml Dijon-mosterd
30 ml olyfolie
45 ml balsamiese asyn
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Uiesous
30 ml olyfolie
2 groot uie, in ringe gesny
15 ml koekmeel
15 ml Bisto
15 ml worcestersous
30 ml tamatiesous
410 water
60 ml port
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Vryf die biefstukke goed in met die Dijon-mosterd en sprinkel olyfolie oor. Bedek en laat marineer in die yskas vir ten minste 1 uur.

Vir die sous: Verhit die olie in dieselfde pan en braai die uie daarin tot sag en goudbruin. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die port, by en verhit tot kookpunt. Prut tot die sous gaar en afgekook is, roer die port deur, en geur met sout en peper.

Haal die biefstukke uit die yskas, sprinkel die balsamiese asyn oor en sodra die biefstukke weer kamertemperatuur bereik, geur liggies met sout en peper. Braai dadelik in 'n warm riffelpan of oor kole tot gaar na jou smaak. Sit die biefstukke voor met skyfies en die warm uiesous. Lewer vier porsies.

Bros uieringe
750 ml karringmelk
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
4 uie
750 ml koekmeel
5 ml sout
5 ml vars gemaalde swartpeper
45 ml fyn gerasperde parmesaan
1 liter olie, vir braai

Giet die karringmelk in 'n nie-metaalbak en roer die fyngedrukte knoffel by. Sny die uie in wiele en haal dan die ringe versigtig uitmekaar. Laat die uieringe in die karringmelkmengsel marineer vir minstens 1 uur.

Meng die meel, sout, peper en Parmesaan in 'n ander bak. Verhit die olie in 'n groot, vlak kastrol. Lig 'n paar uieringe op 'n slag uit die karringmelk, skud oortollige karringmelk af en rol in die meelmengsel.

Braai in die warm olie tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en sit voor as versnapering met knoffelmayonnaise of by gebraaide biefstuk. Lewer 8 porsies.

Salot-en-kaastert
Deeg:
410 ml koekmeel
100 g koue botter
2 ml sout
30-45 ml yswater

Vulsel
500 g salotte, geskil en halveer
45 ml botter
15 ml olyfolie
125 ml gekapte pietersielie
125 ml gerasperde, beleë cheddar
125 ml gerasperde parmesaankaas
125 ml room
1 eier
2 eiergele
Knippie neutmuskaat
Sout en vars gemaalde swartpeper

Verwerk die meel, botter en sout in 'n voedselverwerker (of vryf die botter by die meel in met jou vingers) tot die mengsel soos growwe krummels lyk. Voeg die yswater bietjie vir bietjie by en pols tot klam krummels vorm. Druk die krummels bymekaar en bedek met kleefplastiek. Verkoel vir 30 minute.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Rol die deeg dun uit en voer 'n losboomtertpan van 30 cm daarmee uit. Prik die basis van die deeg met 'n vurk en verkoel tot die oond warm is. Voer die tertkors met bakpapier uit en vul met droë bone. Bak vir 10-15 minute tot die deeg droog lyk. Haal die papier en bone uit en laat afkoel. Draai die oondtemperatuur af tot 160 °C.

Vir die vulsel: Braai die salotte stadig oor lae hitte in 'n mengsel van botter en olie tot goudbruin en sag. Voeg die pietersielie by en roer deur. Meng die kase saam en sprinkel in die voorbereide tertkors. Skep die salotte bo-op. Klits die room, eiers, neutmuskaat en geurmiddels saam en giet oor die uie in die tertkors. Bak vir ongeveer 30 minute tot ferm. Sit louwarm voor met slaai. Lewer 10 porsies.

Landbouweekblad, 17 Augustus 2007