Landbou

Pastaslaai
Foto: Neville Lockhart

Soortgelyk
Somer, son en slaai
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Italiaanse lensieslaai
1 blik (410 g) lensies, goed gedreineer 15 ml wit druiwe-asyn 45 ml olyfolie Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak 2 groen soetrissies, in dun repies gesny 1 rooi ui, in dun repies gesny 2 wiele fetakaas, grof gekrummel 60 ml gekapte, gemengde vars kruie Skeut vars suurlemoensap

Sit die lensies, asyn, olie, sout en peper saam in 'n bak. Voeg die dun gesnyde soetrissie, ui en fetakaas by en meng liggies. Verkoel in 'n lugdigte houer tot nodig en roer dan die kruie asook 'nskeut vars suurlemoensap by. Genoeg vir vier mense.

Oosterse hoenderslaai
Moenie skrik vir die geurkombinasies in dié slaai nie. Probeer dit gerus, dis heerlik.

Slaai
2 hoenderborsies, sonder vel of been Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak 250 ml boontjiespruite 2 wortels, in dun repies gesny 6 grasuie, gesnipper 45 ml vars kruisement, fyn gesny 60 ml vars basielkruid, fyn gesny 45 ml grondboontjies, fyn gekap

Slaaisous
90 ml suurlemoen- of lemmetjiesap
15 ml vissous (Nam pla)
30 ml bruinsuiker
2 rooi brandrissies, ontpit en fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyn gekap
3 cm vars gemmer, geskil en gerasper

Voorverhit die oondrooster en voer 'n klein bakplaatjie met foelie uit. Geur die hoenderborsies met sout en peper, sit op die bakplaat en rooster vir ongeveer 15 minute aan 'n kant (of korter, na gelang van die dikte van die filette) tot gaar. Haal uit die oond en laat afkoel. Meng die res van die slaaibestanddele saam. Klits al die bestanddele vir die slaaisous in 'n aparte bakkie tot die suiker opgelos is. Sny die hoender in repies en meng met die slaaibestanddele. Sprinkel slaaisous oor en laat staan vir ongeveer 1 uur sodat die geure kan ontwikkel voor die slaai voorgesit word. Genoeg vir 4 mense.

Pastaslaai
1 pak (500 g) spiraalpasta
1 eiervrug, in baie dun repies gesny en gesout
1 groen soetrissie, in repe gesny
250 ml songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
150 g salami, in repies gesny
80 ml vars basielkruid

Slaaisous
45 ml balsamiese asyn
45 ml suurlemoensap
60 ml olyfolie
30 ml vars basielpesto

Kook die pasta in 'n groot pot soutwater tot gaar, maar steeds ferm (al dente). Spoel die eiervrug onder koue water af en druk droog. Braai dit saam met die soetrissierepe in 'n pan met 'n klein bietjie olie tot gaar. Sodra die pasta gaar is, dreineer en meng die eiervrug, soetrissie, songedroogde tamaties, salami en basielkruid daarmee. Laat afkoel terwyl die slaaisous gemaak word.

Klits die balsamiese asyn, suurlemoensap en olyfolie saam. Roer die pesto by en sprinkel oor die pastaslaai. Meng goed deur en verkoel lugdig in die yskas tot benodig. Rond af met ekstra vars basielblare net voor opdiening. Genoeg vir ses tot agt mense.

Soet-suur spinasieslaai
15 ml botter
1 pakkie (100 g) gevlokte amandels
600 g (2 pakke) baba-spinasie
250 ml pitlose rosyne

Slaaisous
30 ml sesamsaad
15 ml papawersaad
80 ml strooisuiker
90 ml suurlemoen
1 ml paprika
80 ml wit wyn-asyn
60 ml olyfolie

Verhit die botter en braai die amandels tot goudbruin. Meng met die spinasie en rosyne in 'n slaaibak. Klits die sesamsaad, papawersaad, suiker, suurlemoensap, paprika, wynasyn en olyfolie saam en giet oor die slaai net voor dit bedien word. Meng liggies deur. Genoeg vir 8 mense.

Landbouweekblad, 19 Oktober 2007