Landbou

Roomystert
Foto: Neville Lockhart

Soortgelyk
Verkoelde weelde
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Dadel-en-klapper-vlatert
Kors
75 g sagte botter
15 ml olie
15 ml strooisuiker
1 groot eier, geklits
300 ml koekmeel
5 ml bakpoeier

Eerste laag
250 g dadels, fyn gesnipper
75 g botter
375 ml water
125 ml strooisuiker
10 ml suurlemoensap

Tweede laag
375 ml klapper
500 ml melk
250 ml wit suiker
30 ml vlapoeier

Geklopte room om mee voor te sit

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n tertbord van 24 cm met botter.

Vir die kors: Verroom die botter, olie en strooisuiker tot lig en romerig. Klits die eier by en sif die droë bestanddele bo-oor. Druk die deeg egalig in die tertbord vas en bak vir 10 minute tot ligbruin. Laat afkoel.

Vir die eerste laag: Verhit ál die bestanddele vir die eerste laag in 'n kastrol tot kookpunt en roer aanhoudend tot 'n gladde dik mengsel. Skep in die tertdop.

Tweede laag: Verhit ál die bestanddele vir die tweede laag, behalwe die vlapoeier, tot kookpunt. Maak 'n pasta van vlapoeier en 'n bietjie louwarm water, voeg by die warm mengsel en roer tot dik. Skep op die dadellaag en verkoel tot nodig. Sit voor met geklopte room.

Roomystert
Daar het oor die jare verskeie weergawes van resepte vir roomystert verskyn, maar dié een is beslis die maklikste. Jy kan talle variasies op dié resep maak, sorg net dat die geure van die roomys en kitspoeding by mekaar pas.

Kors
1 pak (200 g) karamelbeskuitjies (ek het Nuttikrust gebruik), fyn gekrummel
100 ml gesmelte botter
Vulsel
1 liter vanieljeroomys
250 ml volroommelk
2 pakkies (125 g elk) vanieljegeur kitspoedingpoeier

Meng die koekiekrummels en botter goed saam en druk dit in 'n tertbord van 30 cm vas. Sit in die yskas.

Maak die roomys met 'n houtlepel sag en klits die melk en kitspoedingpoeier by tot goed gemeng. Giet in die voorbereide kors en verkoel oornag. Lewer een groot tert.

Suurlemoensmeertert
Kors
1 pakkie (200 g) Tennisbeskuitjies, fyn gekrummel
15 ml strooisuiker
100 ml gesmelte botter

Suurlemoensmeer
250 ml witsuiker
70 ml gesmelte botter
Sap van 2 suurlemoene
2 eiers, geklits

Bo-laag
40 g (½ pakkie) suurlemoenjellie
125 ml kookwater
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
60 ml witsuiker
1 eiergeel
1 houer (250 g) ongegeurde roomkaas

125 ml geroosterde klapper

Smeer 'n tertbord van 25 cm met botter. Meng die koekiekrummels, suiker en gesmelte botter goed saam en druk in die tertbak vas. Verkoel tot nodig.

Vir die suurlemoensmeer:Verhit die suiker, botter en suurlemoensap saam tot kookpunt. Verwyder en laat effens afkoel. Voeg die eiers in 'n dun straaltjie by terwyl aanhoudend geklits word. Sit terug op die stoofplaat en verhit terwyl geroer word tot die mengsel verdik. Laat afkoel en skep in die tertkors. Smeer gelyk en verkoel weer.

Vir die bolaag: Maak die jellie met die kookwater aan en voeg die suurlemoen-skil en suiker by. Roer tot opgelos. Klits die eiergeel en voeg by die jelliemengsel. Klits goed terwyl jy dit byvoeg, sodat dit nie skif nie. Klop die roomkaas by en verkoel tot die mengsel net-net begin stol. Skep bo-op die suurlemoensmeer en smeer gelyk. Sprinkel geroosterde klapper oor en verkoel tot nodig. Lewer 1 middelslagtert.

Bessietert met haselneutkors
Kors 60 ml haselneute, gerooster en skille afgevryf
60 ml klapper
625 ml koekmeel
Knippie sout
175 g sagte botter
80 ml strooisuiker
1 eier, geklits

Vulsel 2 eiergele
60 ml strooisuiker
30 ml mielieblom
30 ml koekmeel
300 ml volroommelk
15 g botter
5 ml vanieljegeursel
60 ml dik room
250 g vars bessies

Versiersuiker om oor te sif.

Kors: Verwerk die geroosterde neute en klapper in 'n voedselverwerker tot fyn. Voeg twee eetlepels van die meel by en pols tot fyn. Meng met die res van die meel en hou eenkant. Verroom botter en suiker tot lig en romerig en voeg die eier by. Klits goed. Voeg die droë bestanddele by en maak aan tot 'n deeg. Draai in kleefplastiek toe en verkoel vir minstens 40 minute.

Voorverhit die oond tot 190 °C C en smeer 'n losboom-tertbord van 30 cm liggies met botter. Rol die deeg versigtig op 'n meelbestrooide oppervlak uit (of tussen twee velle waspapier of plasiek). Voer die tertbord daarmee uit, sny die rante netjies en prik met 'n vurk. Bak blind vir 15 minute. Haal die papier en bone (of gewigte uit) en bak oop vir 'n verdere 10 minute tot die deeg bros en gaar is.

Vir die vulsel: Klits die eiergele, strooisuiker, mielieblom, koekmeel en 60 ml van die melk saam tot glad. Verhit die res van die melk tot net onder kookpunt en voeg 'n deel daarvan by die eiermengsel. Roer goed en giet alles terug in die kastrol. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut liggies en hou aan roer vir ongeveer 2 minute. Verwyder van die hitte en roer die botter en vanieljegeursel by. Laat afkoel tot kamertemperatuur, klop die room en vou by die vulsel in. Giet in die tertkors en verkoel vir 30 minute. Pak die bessies bo-op en verkoel. Sif versiersuiker net voor opdiening oor. Lewer 1 groot tert.

Annemarie se cream cracker-tert

Ons vroueredakteur, Simona Sharp, se ma, Annemarie, is wyd bekend vir dié heerlike tert. Kors
375 ml fyngedrukte Cream Crackers
60 ml suiker
60 ml botter, gesmelt
5 ml kaneel

Vulsel
40 ml mielieblom
1, 5 liter melk
6 eiers, geskei
80 ml strooisuiker
Knippie sout
15 ml botter
5 ml vanieljegeursel

Meng al die bestanddele vir die kors saam. Druk dit in die boom van 'n plat tertbak vas en rangskik halwe cream crackers om die rand, indien verkies. Voorverhit die oond tot 180°C C.

Vir die vulsel: Meng die mielieblom met 250 ml van die melk. Klits die eiergele, helfte van die suiker (40 ml) en die sout by. Verhit die res van die melk (1,25 liter) tot kookpunt en voeg 'n bietjie daarvan by die eiermengsel. Roer deur en giet alles terug in die kastrol. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut liggies tot verdik en gaar. Voeg die botter en geursel by en roer deur. Giet in die voorbereide tertkors. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm. Voeg die res van die suiker (40 ml) bietjie vir bietjie by en hou aan klits tot al die suiker opgelos is. Stapel die eierwitmengsel op die vulsel en bak vir sowat 10-15 minute tot goudbruin. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel dan. Lewer 1 groot tert.

Sjokoladelagies-melktert
1 liter melk
180 ml vlapoeier
30 ml kakao
1 blik (397 g) kondensmelk
5 ml vanieljegeursel
1 eier, geklits
2 pakkies (200 g elk) Tennis-beskuitjies

Verhit 750 ml van die melk tot kookpunt. Meng die vlapoeier en kakao met die res van die melk en die kondensmelk tot glad. Voeg by die warm melk in die kastrol en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut tot verdik en gaar. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Voeg die vanieljegeursel en geklitste eier by en meng goed. Rangskik 'n laag Tennisbeskuitjies op die boom van 'n tertbord van 35 cm x 20 cm. Skep 'n dun lagie van die sjokoladevla oor en smeer gelyk. Rangskik nog 'n laag beskuitjies oor en volg op met nóg 'n laag vla. Herhaal dié lae en eindig met 'n laag sjokoladevla. Krummel die orige be-skuitjies bo-oor en verkoel oornag. Lewer 1 groot tert.

Landbouweekblad, 2 November 2007