Landbou
Naweek-hoender
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Hoender-natchos
Wat is dan nou beter as 'n ete waarin daar skyfies én gesmelte kaas kom?

45 ml olie
500 g hoenderborsies, in repies gesny
2 rooi brandrissies, ontpit en fyn gekap
10 ml komyn
10 ml koljander
1 blik (410 g) rooi nierboontjies, gedreineer
1 blik (410 g) heelpitmielies, gedreineer
250 ml tamatiesalsa (sien wenk)
Sout en peper na smaak

1 pak tortillaskyfies
250 ml gerasperde cheddarkaas
125 ml suurroom
1 avokado, in blokkies gesny
Vars koljanderblare, om af te rond.

Voorverhit die oond tot 200°C en smeer 'n oondvaste dienbord met olie. Verhit die olie en braai die hoenderrepies, rissie, komyn en koljander daarin tot die hoender gaar is. Voeg die boontjies en mielies by en braai tot deurwarm. Voeg die tamatiesalsa by en verhit tot kookpunt. Geur na smaak met sout en peper. Rangskik die tortillaskyfi.es in 'n dubbele laag op die dienbord en skep die hoendermengsel versigtig boop. Sprinkel die kaas oor en oondrooster vir ongeveer 15 minute tot warm en die kaas gesmelt is. Haal uit die oond en skep suurroom en avokado bo-op. Rond af met gekapte, vars koljanderblare en sit dadelik voor. Genoeg vir vier mense.

Wenk: Tamatiesalsa is by die Mexikaanse produkte, soos tortillas en tacos, in supermarkte te kry. As jy wil, kan jy tuisgemaakte tamatiesmoor in plaas daarvan gebruik.

Veelsydige hoender
Dié geurige hoendermengsel kan vir so baie disse gebruik word. Ek draai dit graag in tortillas toe, gebruik dit op 'n pizza-basis of in slaai, of sit dit op Oosterse noedels voor.

30 ml olie
1 kg hoenderborsies, in repies gesny
1 houer (250 g) sampioene, gesnipper
Sout en peper na smaak
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
5 cm vars gemmerwortel, geskil en gerasper
Gerasperde skil van 1 lemoen
1 soetrissie, in dun repies gesny
1 houer baba-mielies, in stukkies gesny
1 ui, gekap
45 ml Hoisin-sous
30 ml sojasous
30 ml heuning

Verhit die olie in 'n groot wok of pan en braai die hoender daarin tot gaar. Voeg sampioene, sout en peper, knoffel, gemmer, lemoenskil, soetrissie, babamielies en uie by en braai tot sampioene gaar is. Voeg Hoisin- en sojasous en heuning by en braai deur. Geur na smaak en sit dadelik voor in roti's, pasta, slaai of op noedels. Genoeg vir ses mense.

Hoender-tetrazini
Toe ek op skool was, het ons altyd Saterdagmiddae pasta geë et en Saterdagaande gebraai. Daarom gaan daar nou nog nie 'n Saterdag verby dat ek nie lus is vir pasta en braaivleis nie! Dié hoenderpasta is een van my gunstelinge en ek maak altyd te veel, want dis die volgende dag selfs nóg lekkerder.

90 ml botter
30 ml olyfolie
4 hoenderborsies, in dun repies gesny
10 ml sout
5 ml vars gemaalde swartpeper
250 g (1 houer) sampioene, gesnipper
1 ui, fyn gekap
5 knoffelhuisies, fyn gedruk
15 ml tiemieblaartjies, gekap
125 ml witwyn
80 ml koekmeel
1 liter volroommelk
125 ml room
250 ml hoenderaftreksel
500 g lintnoedels
180 ml bevrore ertjies
45 ml gekapte pietersielie
375 ml gerasperde parmesaankaas
250 ml droë broodkrummels

Voorverhit oond tot 220°C. Verhit 15 ml botter en 15 ml olie in 'n pan. Geur die hoender met die sout en peper en braai tot gaar. Skep uit, sny kleiner en hou eenkant. Verhit nóg 15 ml botter en 15 ml olie in die pan en braai die sampioene, uie, knoffel en tiemie tot die groente gaar is. Voeg wyn by en prut tot dit verdamp het. Voeg groentemengsel by hoender. Smelt 45 ml botter in dieselfde pan. Voeg die meel by en verhit tot kookpunt. Voeg die melk, room en aftreksel by en verhit, terwyl aanhoudend geroer word, tot kookpunt. Prut, sonder 'n deksel, tot die sous effens verdik is en gaar proe. Voeg die hoender-en-groentemengsel by die sous. Kook die pasta in 'n groot pot soutwater tot gaar, maar steeds ferm ( al dente ). Voeg die ertjies 'n paar minute voor die einde van die kooktyd by. Dreineer en meng met die sous. Voeg die pietersielie by en meng goed. Skep in 'n oondbak en sprinkel die kaas en krummels oor. Stip met die orige botter en bak vir ongeveer 25 minute. Sit voor met slaai. Genoeg vir agt mense.

Vinnige pesto-schnitzels
Al neem dit net 'n paar minute om dié hoender-schnitzels te maak, lyk dit of jy baie moeite gedoen het in die kombuis. Sit dit voor met aartappels en mengselslaai en jy het 'n heerlike ete.

4 hoenderborsies
Sout en peper na smaak
125 ml basielpesto
250 ml koekmeel
2 eiers, geklits
375 ml vars witbroodkrummels
Olie en botter vir braai

Rangskik die hoenderborsies tussen dubbele lae kleefplastiek en kap liggies met 'n vleishamer tot plat. Geur met sout en peper en smeer 'n dun lagie basielpesto egalig oor elke schnitzel. Bestuif elk met koekmeel en doop in geklitste eier. Rol in krummels totdat elke schnitzel goed bedek is en verkoel vir minstens 15 minute. Braai in 'n mengsel van olie en botter tot goudbruin en deur gaar. Dreineer op kombuispapier en sit dadelik voor. Genoeg vir vier mense.

Landbouweekblad, 9 November 2007