Landbou

Somerse suurlemoentert
Foto: Rex

Soortgelyk
Sitrus vir die somer
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Suurlemoenhoender met skyfies
Hoender
4 groot porsies hoender
1 suurlemoen
Sout en varsgemaalde swartpeper en neutmuskaat na smaak
4 snye Parma-ham OF dun skaafsels gerookte ham
15 ml olyfolie
150 ml kokende hoenderaftreksel
60 ml suurroom

Skyfies
1 kg aartappels, geskil en in dun wiggies gesny
30 ml olyfolie
1 suurlemoen, in wiggies gesny
2 heel knoffelhuisies, ongeskil
4 takkies oregano of tiemie

Voorverhit oond tot 190°C . Sny agt baie dun skyfies van die suurlemoen en sit eenkant. Rangskik die hoender in 'n oondbak. Vryf die hoender goed met die res van die suurlemoen en druk die sap oor die vel uit. Geur goed met sout, peper en neutmuskaat. Sit 'n stukkie ham en twee skyfies suurlemoen bo-op elke hoenderporsie en bak onbedek vir sowat 30 minute. Voeg die aftreksel by en bak vir nog 30 minute tot die hoender gaar is.

Vir die skyfies: Kook die aartappelwiggies vir 5 minute in soutwater. Dreineer en druk droog. Sit die skyfies in 'n oondbak en sprinkel die olie oor. Meng deur tot al die skyfies met 'n olielagie bedek is. Druk die suurlemoenwiggies oor die skyfies uit en meng deur. Geur goed met sout en voeg die knoffel en kruietakkies by. Rooster saam met die hoender tot goudbruin en gaar.

Sodra die hoender gaar is, skep uit op 'n opdienbord en klits die suurroom by die pansouse om 'n romerige sous te maak vir opdiening. Genoeg vir vier mense.

Persiese lamsbredie met suurlemoenrys
Bredie
750 g ontbeende lamsnek, kleiner gesny
Sout en vars gemaalde swartpeper
1 groot ui, gekap
60 g pitlose rosyne
1 groot kaneelstok
300 ml warm lam- of groenteaftreksel
Sap van 1 suurlemoen
Handvol droë appelkose, gekap
45 ml dennepitte, gerooster
Handvol vars pietersielie, gekap

Rys
30 ml botter
1 ui, in dun ringe gesny
2 lourierblare
3 ml fyn kaneel
5 ml komyn
5 ml borrie
300 g basmati-rys
300 ml warm lam- of groente-aftreksel
Sap van 1 suurlemoen

Sny die lam in stukkies en geur met sout en peper. Verhit 'n groot pan en braai die lam droog tot goudbruin. Skep uit met 'n gaatjieslepel en hou eenkant. Braai die ui in dieselfde pan saam met die rosyne en kaneel tot sag. Voeg die aftreksel by en verhit tot kookpunt.

Voeg nou die gebraaide lamsvleis, suurlemoensap en appelkose by en bedek met 'n styfpassende deksel. Prut oor baie lae hitte vir ongeveer 1 ½ uur tot die vleis baie sag en die sous verdik en geurig is.

Sodra jy reg is om te eet, roer die dennepitte en pietersielie by. Maak die rys terwyl die vleis prut. Smelt die botter en braai die ui, lourierblaar en speserye daarin tot die ui gaar is. Voeg die rys by en roer deur. Voeg die aftreksel by, bedek en kook vir 15-20 minute tot al die aftreksel geabsorbeer is. Voeg die suurlemoensap en geurmiddels by en sit voor by die lamsvleis. Genoeg vir ses mense.

Somerse suurlemoentert
Brosdeeg
200 g (420 ml) koekmeel
Knippie sout
100 g koue botter, in blokkies gesny
Ongeveer 45 ml yswater

Vulsel
6 groot eiers
150 ml strooisuiker
Fyngerasperde skil en sap van 3 suurlemoene
90 g botter, gesmelt
Ligbruinsuiker, om oor te sprinkel
Bessies en geklopte room om mee voor te sit

Deeg: Verwerk die meel, sout en botter in 'n voedselverwerker tot krummelrig. (Jy kan ook die botter met jou vingerpunte by die droë bestanddele invryf.) Voeg die yswater bietjie vir bietjie by en hou aan meng tot 'n deeg vorm. Draai in kleefplastiek toe en verkoel vir 30 minute. Voorverhit die oond tot 200°C. Rol die deeg dun uit en voer 'n losboomtertpan van 24 cm daarmee uit. Prik die basis met 'n vurk, voer uit met bakpapier en vul met droë bone of rys. Blindbak vir 15 minute.

Haal die papier en bone of rys uit en bak vir nog sewe minute. Haal uit die oond en verlaag die oondtemperatuur na 120°C.

Vulsel: Klits die eiers en suiker goed saam tot lig en donsig. Voeg die suurlemoenskil en -sap en gesmelte botter by, klits deur en giet in die tertkors. Bak vir 35-40 minute tot net gestol. Haal uit die oond en laat afkoel tot kamertemperatuur. Besprinkel liggies met ligbruinsuiker en sit voor met bessies en geklopte room. Genoeg vir 10-12 mense.

Ligte suurlemoenmousse
45 ml koue water
30 ml gelatien
3 groot eiers, geskei
125 ml strooisuiker
Sap en fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
150 ml room

Giet die water in 'n bakkie en sprinkle die gelatien in 'n egalige lagie bo-oor. Laat staan vir 10 minute tot gespons.

In 'n groot bak, klits die eiergele en suiker tot lig en donsig. Voeg die suurlemoensap en -skil by. Sit dié bak oor 'n kastrol met kookwater (wees versigtig dat die bak nie aan die water raak nie) en klits die mengsel, terwyl die water liggies kook, tot lig en dik. Smelt die gelatien oor kookwater of in die mikrogolf tot glad en voeg by die eiermengsel terwyl aanhoudend geklits word.

Verwyder van die hitte en laat afkoel en effens verdik. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou by die afgekoelde mengsel in. Klits nou die room ook styf en vou versigtig in.

Verdeel tussen 6-8 glase of bakkies en verkoel tot benodig. Rond af met 'n lepel geklopte room, crème fraiche of jogurt en 'n paar repies suurlemoenskil. Genoeg vir ses tot agt mense.

Landbouweekblad, 30 November 2007