
Smelt-in-die mondkoekies
Ek maak dié deeg altyd in 'n voedselverwerker aan, dit werk lekker vinnig. As jy nie 'n koekiemaker of spuitsak het nie, vorm die deeg in netjiese rolle, verkoel goed en sny dit dan in skyfies voor dit gebak word.
500 g sagte botter
250 ml versiersuiker
750 ml koekmeel
250 ml mielieblom
Voorverhit die oond tot 200°C C en voer 'n paar bakplate met bakpapier uit. Verroom (of verwerk) die botter en versiersuiker saam tot lig en romerig. Voeg die meel en mielieblom by en meng baie goed tot 'n sagte deeg vorm. Plaas in 'n koekiemaker met 'n blompunt en druk vorms uit op die uitgevoerde bakplate. Verkoel vir 'n rukkie, indien nodig. Bak vir ongeveer 10-15 minute tot strooikleurig. Laat word hard op die bakplate en sit dan op draadrakke om verder af te koel. Sit net so voor of plak die koekies opmekaar met gesmelte sjokolade of 'n vulsel van jou keuse (sien nota).
Lewer ongeveer vier dosyn koekies.
NOTA: Vir die blomkoekies op die foto is 'n karamelvulsel gebruik. Die staafkoekies (op die foto onder), waarvan die ente in gesmelte sjokolade gedoop is, is presies dieselfde resep, maar ek het die koekies met 'n spuitsak en plat rosetpunt gevorm. Dis met 'n koffievulsel gevul voor dit in die sjokolade gedoop is.
Karamel-vlavulsel
Verroom 120 g sagte botter en 500 ml versiersuiker saam tot lig en romerig.
Voeg 30 ml vlapoeier en 10 ml karamelgeursel by. Meng baie goed en smeer
'n dun lagie op die helfte van die koekies. Plak 'n ongesmeerde koekie bo-op.
Koffievulsel
Verroom 15 ml sagte botter en 15 ml roomkaas saam. Voeg 375 ml gesifte versiersuiker by en meng goed. Maak 5 ml kitskoffiepoeier met 5 ml warm water aan. Voeg by die versiersuiker en meng baie goed. Smeer 'n dun lagie op die helfte van
die koekies. Plak 'n ongesmeerde koekie bo-op.
Hawermout-en rosyntjiekoekies
Hoewel dié koekies redelik baie botter bevat, is dit steeds 'n gesonder opsie as brosbrood of ander soetgoed met 'n soortgelyke fyn tekstuur omdat dit so baie vesel en vitamiene bevat. Saam met 'n glas melk is dit voedsame peuselkos vir aktiewe kinders.
250 ml botter
250 ml ligte bruinsuiker
250 ml strooisuiker
2 eiers
125 ml vanielje-geur jogurt
5 ml vanieljegeursel
500 ml koekmeel
5 ml koeksoda
5 ml sout
125 ml klapper
500 ml hawermout (effens fyner
gekap)
500 ml pitlose rosyne of sultanas
Voorverhit die oond tot 180°C en voer 'n paar bakplate met bakpapier uit. Smeer die papier liggies. Verroom die botter, bruinsuiker en strooisuiker saam. Klits die eiers, jogurt en vanieljegeursel by. Sif die meel, koeksoda en sout saam en voeg die klapper, hawermout en rosyne by. Meng deur. Voeg die droë bestanddele by die bottermengsel en meng goed. Skep teelepelsvol op die bakplate (laat spasie, want die koekies sprei effens) en bak vir 10-12 minute. Laat op die bakplate afkoel en bêre in 'n lugdigte houer. Lewer ongeveer vyf dosyn koekies.
Griekse brosbrood
Nóg 'n resep wat soos 'n droom in 'n voedselverwerker werk.
225 g sagte botter
80 ml versiersuiker
5 ml vanieljegeursel
15 ml brandewyn
560 ml koekmeel
375 ml versiersuiker, om oor te sif.
Voorverhit die oond tot 180°C en voer 'n paar bakplate met bakpapier uit. Verroom die botter en versiersuiker goed saam. Voeg die vanieljegeursel en brandewyn by en meng goed. Voeg die koekmeel in lotte by en meng goed ná elke byvoeging. Hou aan meng tot 'n sagte deeg vorm. Verkoel die deeg vir 'n rukkie as dit te sag is om te hanteer. Vorm halfmaan- of ovaalvormige koekies en rangskik op die bakplate. Bak vir 20 minute tot die koekies 'n ligte sandkleur het (dit sal nog sag wees). Laat koel op die bakplate af tot hard genoeg om te hanteer en sif versiersuiker oor. Skud liggies tot al die koekies met 'n versiersuikerlagie bedek is. Sodra dit heeltemal afgekoel het, bêre in 'n lugdigte houer en sif nog versiersuiker oor.
Lewer ongeveer 7-8 dosyn.
Amandelbiscotti
200 g gepelde amandels
3 eiers (teen kamertemperatuur),
geskei
250 ml strooisuiker
Knippie sout
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
750 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer twee uitgevoerde bakplate met botter. Rooster die amandels baie liggies en oor lae hitte in 'n droë pan tot dit begin verkleur. Laat afkoel.
Klits die eiergele en suiker goed saam. Hou eenkant. Klits nou die eierwitte en sout saam tot stywe punte vorm. Voeg die eiergeel- en-suikermengsel bietjie vir bietjie by die eierwitmengsel en hou aan klits tot goed gemeng. Voeg die suurlemoenskil by neute by en klits deur. Sif die meel en bakpoeier saam en voeg by die eiermengsel. Maak aan tot 'n stywe deeg. Verdeel die deeg in vier dele en vorm rolle (ongeveer 2 cm dik). Bak tot goudbruin aan die kante (ongeveer 15 minute). Haal uit die oond en sny dadelik in skywe van 1 cm breed. Rangskik op bakplate en droog dit vir 'n paar minute teen 60°C uit. Laat afkoel en bêre in 'n lugdigte houer.
Lewer ongeveer vyf dosyn koekies.
Klapper-en sjokoladeballetjies
375 ml klapper
60 ml versiersuiker
45 ml kakao
Ongeveer ½ blik kondensmelk
100 g donker sjokolade
Meng klapper, versiersuiker, kakao en kondensmelk saam. As die mengsel te dun is, voeg nog klapper by. Laat staan 'n rukkie, rol in balletjies en laat hard word in die yskas. Smelt die sjokolade tot glad en skep lepelsvol oor elke balletjie. Bêre in die yskas. Lewer drie dosyn balletjies.
Graanvlokkiekoekies
125 g botter
80 ml suiker
1 ekstra-groot eier
250 ml bruismeel
680 ml graanvlokkies, liggies
fyngedruk.
Voorverhit oond tot 180°C en smeer 'n paar bakplate. Verroom botter en suiker goed tot lig en romerig. Voeg eier by en klits goed. Sif bruismeel oor bottermengsel en meng graanvlokkies by. Vorm bolletjies en pak op bakplate. (Laat ruimte toe, want die koekies sprei effens) Bak 10 - 15 minute tot gaar. Lewer sowat vier dosyn.
Landbouweekblad, 7 Desember 2007