
Dit voel of dié tyd elke jaar net vinniger vlieg. As die feestyd jou dus (ook) vanjaar onverhoeds betrap het en daar nie Kerskoek in die huis is nie ... ontspan en lees hier.
Vrugtebroodjie
Met die proeslag ná die fotosessie was dié broodjie die Landbouweekblad-redaksie se gunsteling.
180 ml gemmerstukke in stroop, gekap
60 ml rooi of groen glanskersies,gekap
125 ml vrugtekoekmengsel
80 ml versuikerde sitrusskil
80 ml brandewyn of lemoenlikeur
125 g sagte botter
125 ml strooisuiker
2 eiers
310 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
45 ml brandewyn of likeur, om oor te
smeer
250 ml versiersuiker
Paar druppels suurlemoensap
Paar druppels water
Voorverhit die oond tot 150°C en smeer 'n broodpan van 8 cm x 26 cm goed en voer uit met bakpapier. Smeer weer. Meng die gemmer, kersies, vrugtekoekmengsel, skil en brandewyn of likeur in 'n bak. Laat staan vir sowat 15 minute.
Klits intussen die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Voeg die meel, bakpoeier en vrugte (in brandewyn) by en klits tot gemeng. Skep in die voorbereide pan en bak vir sowat 1½-2 uur of tot 'n toetspen skoon uit die broodjie kom. Smeer die brandewyn of likeur met 'n kwassie oor die brood sodra dit uit die oond kom en laat die brood dan heeltemal in die pan afkoel. Keer uit en versier met 'n drupversiersel van versiersuiker, suurlemoensap en water. Versier bo-op met silwer balletjies, indien verkies. Bêre in 'n lugdigte houer. Lewer ongeveer 15 snye.
Okkerneutstroopkoek
'n Heerlike koek vir nagereg of teetyd.
Beslag
500 g okkerneute
4 dik snye witbrood, korsies afgesny
125 g sagte botter
125 ml strooisuiker
4 eiers, geskei
7 ml bakpoeier
15 ml kaneel
150 ml brandewyn
Stroop
400 ml witsuiker
600 ml water
2 kaneelstokke
Dun repe skil van 1 suurlemoen
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n koekpan van 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Verwerk die okkerneute in lotte in 'n voedselverwerker tot fyn. Hou eenkant. Verwerk die brood ook tot fyn krummels. Hou eenkant saam met die neute. Verroom die botter en strooisuiker, voeg die eiergele by en klits goed. Sif die bakpoeier en kaneel oor en roer deur. Voeg die broodkrummels, neute en brandewyn by en meng. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou by die beslag in. Skep in die pan, smeer gelyk en bak vir 1 uur of tot 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Maak die stroop terwyl die koek bak: Verhit al die bestanddele saam oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en kook vinnig vir vyf minute. Verwyder van die hitte en laat staan 'n paar minute. Haal die kaneelstokke en suurlemoenskil uit. Giet die warm stroop oor die koek sodra dit uit die oond kom. Laat vir 'n rukkie in die pan afkoel en keer dan uit op 'n diep bord. Skep enige stroop wat uitloop weer oor die koek. Genoeg vir 12 mense.
Kersfeeskaaskoek
Ek moet nog die mens ontmoet wat nie van kaaskoek hou nie. Dié een lyk én proe feestelik. Pas die bolaag na jou en jou gesin se smaak aan. Gebruik regte, volvetroomkaas en nie maaskaas nie, anders is
die vulsel te dun en sal die bo-laag afsak.
Kors
1 pakkie (200 g) Tennisbeskuitjies
100 ml gesmelte botter
2 ml kaneel
Vulsel
3 houers (200 g elk) roomkaas
30 ml koekmeel
30 ml brandewyn
125 ml suurroom
3 eiers, teen kamertemperatuur
180 ml strooisuiker
10 ml vanieljegeursel
Bolaag
250 ml luukse vrugtekoekmengsel
125 ml rooi glanskersies
60 ml brandewyn
30 ml bruinsuiker
Handvol gevlokte amandels
Verwerk die Tennisbeskuitjies in 'n voedselverwerker en voeg die botter en kaneel by. Pols tot goed gemeng en druk dié krummels dan op die boom en halfpad teen die kant van 'n losboom-koekpan van 24 cm vas. Voorverhit die oond tot 150°C. Klits die roomkaas, meel, brandewyn en suurroom liggies saam. Voeg die eiers, strooisuiker en geursel by en klits tot glad. Laat staan vir 10 minute. Terwyl die vulsel staan, berei die bolaag: Verhit alles, behalwe die amandels, oor lae hitte tot kookpunt. Prut tot die vrugte uitgeswel en die vloeistof afgekook is. Giet vulsel in die kors en skep die bolaag versigtig en egalig boop (want dit sal afsak). Sprinkel die amandels egalig bo-oor. Bak vir 1-1 ¼ uur tot net ferm. Laat teen kamertemperatuur afkoel. Sodra heeltemal afgekoel, verkoel vir minstens 4 uur. Genoeg vir 14-16 mense.
Lebkuchen
Dié heuning-en-spesery-koekies is tradisionele Duitse Kersgebak.
250 ml heuning
180 ml sagte bruinsuiker
1 eier, geklits
15 ml suurlemoensap
15 ml fyngerasperde suurlemoenskil
560 ml koekmeel
5 ml fyn kaneel
3 ml elk pimento, fyn naeltjies, neutmuskaat, sout en bakpoeier
50 g versuikerde sitrusskil, fyn gekap
50 g gepelde amandels, fyn gekap
Glanskersies en gepelde amandels
250 ml versiersuiker, gesif
Ongeveer 30 ml rum
Verhit die heuning tot kookpunt. Verwyder van die hitte en voeg die suiker, eier, suurlemoensap en -skil by. Klits goed. Laat staan eenkant. Sif die meel, speserye, sout en bakpoeier saam. Voeg by die heuningmengsel saam met die skil en gekapte amandels en meng goed. (Die mengsel sal soos 'n swaar beslag lyk). Laat staan die bak in die yskas vir minstens ses uur of verkieslik oornag. Voorverhit die oond tot 190°C, voer 'n paar bakplate met bakpapier uit en smeer liggies. Smeer jou hande liggies met olie en rol balletjies. Pak ver uitmekaar op bakplate en druk effens platter. Versier met glanskersies en amandels. Bak vir sowat 10-15 minute. Maak die glasiersel aan deur rum met versiersuiker te meng. Sodra die koekies uit die oond kom, verf elkeen liggies met dié mengsel. Laat heeltemal afkoel en bêre in 'n lugdigte koekblik. Lewer 2 dosyn koekies.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007