Landbou

Foto: David Briers
Stilering: Bernice van der Merwe

Soortgelyk
Oor die kole
Versorg deur ARINA DU PLESSIS

Om te braai, is vir ons 'n nasionale ritueel. Hoe jy jou vuur maak en wat jy verkies om oor die kole te rooster, is vir menige man 'n ernstige saak. Huisgenoot se kosspan het onlangs 'n nuwe prag-resepteboek Braai die lig laat sien. Dis 'n boek wat geen ras-egte Suid-Afrikaanse braaier mag misloop nie. Kyk self ...

Spanspekslaai
Slaai
1 spanspek, geskil en in skywe of blokkies gesny
2 ryp avokadopere, geskil, ontpit en in skywe gesny
3 skywe peperfetakaas, grof gebreek
125 g rugspek, gebraai en in stukkies gesny
1 pak roket of slaaiblare

Mosterd-vinaigrette
80 ml olie
45 ml suurlemoensap of asyn
2-3 knoffelhuisies, fyn gedruk
5 ml - 15 ml heuning of suiker
5 ml - 15 ml heelkorrel- of Dijonmosterd

Pak al die slaaibestanddele op 'n groot slaaibord. Meng al die bestanddele vir die vinaigrette saam en sprinkel oor die slaai. Sit dadelik voor. Genoeg vir vier mense.

Weskussnoek
1 snoek, gevlek indien verkies
Sous
100 ml sonneblomolie
50 ml asyn of suurlemoensap
10 ml visspeserymengsel
30 ml fyngekapte knoffel
30 ml fyn appelkooskonfyt
30 ml blatjang
30 ml mayonnaise
2 ml vars gemaalde swartpeper

Was snoek mooi skoon af, druk droog en plaas op 'n rooster. Sous: Meng ál die sousbestanddele en mikrogolf 2 minute tot gesmelt. Braai snoek vir 10-15 minute aan elke kant tot net gaar. Smeer gereeld van die sous oor terwyl gebraai word. Sit voor met roosterkoek, patats in die kole gebak, braaibroodjies of varsgebakte brood. Genoeg vir 6-10 mense.

Camembert-lendesteak met uieringe
2 lendesteaks ("sirloin") van ongeveer 200g elk
60 g camembert-kaas, in skyfies gesny
30 ml Dijonmosterd
10 ml sojasous
10 ml olyfolie
25 ml gesmelte botter
15 ml suurlemoensap

Maak 'n horisontale snit in die steaks en vul dit met 'n skyfie camembert. Steek die openinge met peuselstokkies toe. Meng die mosterd, sojasous en olyfolie en smeer die steaks goed daarmee. Meng die botter en suurlemoensap. Braai die steak tot die verlangde graad van gaarheid en bedruip gereeld met die botter en suurlemoensapmengsel. Sit voor met 'n portsous en uieringe (sien resepte hieronder). Genoeg vir twee mense.

Portsous:
Verhit 250 ml hoenderaftreksel, 125 ml port, 5 ml balsamiese asyn en 3 ml groenpeperkorrels saam en kook af tot daar sowat 'n kwart van die sous oor is. Roer 25 ml room by. Lewer ongeveer 125 ml sous.

Uieringe:
Sny 4 uie in ringe van 5 mm. Bedek die ringe met yswater en plaas in die yskas vir 2 uur. Meng 500 ml bruismeel, 5 ml sout en 250 ml koue water goed tot 'n gladde beslag. Dreineer die uieringe en skud die water of. Plaas in 'n bietjie koekmeel in 'n plastieksak en skud die ringe daarin tot dit heeltemal met die meel bedek is. Verhit diep olie oor matige hitte. Doop die uie een vir een in die beslag en braai dan in die olie tot bruin. Dreineer op papierhandoeke en geur met sout na smaak. Genoeg vir vier tot ses mense.

Mosterdvarktjops met spanspekslaai
6-8 dik varktjops, vetrande afgesny
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1 ml fyn komyn
30 ml heelkorrelmosterd
30 ml bruinsuiker

Geur die tjops aan weerskante met sout, peper en komyn. Meng die mosterd en bruinsuiker en hou eenkant. Rooster die tjops oor matige kole tot gaar. Smeer die mosterdmengsel 'n paar minute voor die einde van die braaityd oor die een kant van elke tjop en braai tot dit effens begin borrel. Moenie omdraai nie. Sit dadelik voor met spanspekslaai (resep hieronder). Genoeg vir 6-8 mense.

Huisgenoot Braai
deur Carmen Niehaus, Human & Rousseau.

Dié boek is 'n alles-in-een-gids tot volmaak gebraaide lekkernye. Dis nie net propvol heerlike resepte en pragtige foto's nie, maar dit gee ook praktiese inligting oor gaarmaaktye, kole, brikette en gasbraaiers, asook watter souse, vryfmiddels of marinades by watter vleis of vis pas. Skaf dit gerus aan - dis 'n praktiese boek wat inspirasie bied vir van beginner-braaiers tot ou hande met die rooster.

Dis ook 'n ideale geskenk vir 'n man wat graag met nuwe resepte oor die kole eksperimenteer. Huisgenoot Braai is by alle goeie boekwinkels te koop teen R185.

  • Resepte: Carmem Niehaus en Daleen van der Merwe

    Landbouweekblad, 11 Januarie 2007