Landbou

Perskes met gemmerstroop
Stilering: Arina du Plessis
Foto: Neville Lockhart

Soortgelyk
Poeding met perskes
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Gevulde perskes
Vir dié resep kan jy nektariens, ferm lospitte of vaspitperskes gebruik. (Jy sal die vaspitperskes net eers vir 'n paar minute in kookwater moet laat lê.) Ek het koekies met 'n karamelgeur vir die vulsel gebruik, maar klapperkoekies of amaretti (meringue- en-neutekoekies) werk net so lekker.

60 ml sagte botter
1 pakkie (200 g) Nuttikrustkoekies, goed fyn gedruk
45 ml koekmeel
30 ml suiker
1 ml sout
1 groot eier, geklits
8 ferm perskes, gehalveer en pitte verwyder
Geklopte room, vla of vanieljejogurt, om mee op te dien

Voorverhit die oond tot 180°C . Smelt 15 ml van die botter en smeer 'n oondbak goed daarmee. Meng die koekiekrummels, die res van die gesmelte botter, meel, suiker, sout en eier goed saam. Hol elke halwe perske se pitholte effens dieper uit met 'n spanspeklepel en skep 'n groot lepel van die krummelvulsel daarin. Rangskik die perskes in 'n oondbak en bak tot die vulsel opgepof en bros is, ongeveer 40-50 minute. Sit warm of teen kamertemperatuur voor met room, vla of jogurt. Genoeg vir agt mense.

Krummelkoek met perskes
Bolaag
250 ml koekmeel
125 ml bruinsuiker
90 ml sagte botter
5 ml kaneel

Koek
125 ml sagte botter
160 ml suiker
2 groot eiers
250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
2 ml sout
3 groot perskes, goed gewas, ontpit en dun gesny

Verwerk al die bestanddele vir die bolaag in 'n voedselverwerker tot krummelrig. Hou eenkant. Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n losboom-koekpan van 20 cm met botter. Room die botter en suiker baie goed saam tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die meel, bakpoeier en sout by en meng deur. Skep in die koekpan en smeer gelyk. Pak die perskeskywe egalig bo-op die koek en sprinkel die krummelmengsel egalig bo-op. Bak vir ongeveer 1 uur of tot 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Sit die koek warm of teen kamertemperatuur voor met crème fraiche of geklopte room. Genoeg vir 10-12 mense.

Perskes in gemmerstroop
Nektariens of goed gewaste elbertas werk lekker vir dié nagereg.

180 ml droë witwyn
180 ml water
180 ml witsuiker
Stuk vars gemmer van 4 cm, geskil en gerasper
Ongeveer 8 lospitperskes, goed gewas en in kwarte gesny
30 ml suurlemoensap

Verhit die wyn, water, suiker en gemmer stadig saam tot die suiker gesmelt is. Kook vir ongeveer 10 minute tot daar sowat driekwart van die stroop oor is. Meng die perskestukke met die suurlemoensap en giet die kokende gemmerstroop daaroor. Laat staan so tot afgekoel. Verkoel tot benodig. Sit voor met roomys en vla. Genoeg vir 6-8 mense.

Nóg perskepoedings

  • Karamelperskes: Braai perskehalwes of -skywe in 'n mengsel van bruinsuiker en botter tot gekarameliseer. Voeg 'n skeut brandewyn by en kook af. Voeg 'n skeut room by en roer deur. Sit voor met roomys en geroosterde, gevlokte amandels bo-oor.

  • Perskemelba: Verhit 750 ml droë witwyn, 250 ml suiker en 125 ml heuning in 'n kastrol tot kookpunt. Voeg vier goed gewaste, heel geelperskes by die kokende stroop. Bedek en laat kook vir ongeveer 20 minute tot die skille loskom. Skep uit met 'n gaatjieslepel en trek die skille af. Sit die perskes terug in die stroop en kook verder tot die perskes sag is. Skep uit en laat afkoel. Verhit intussen 500 ml frambose, 125 ml water en 125 ml suiker saam en kook tot die bessies oopgebars het. Druk effens fyner met 'n vurk en laat eenkant afkoel. Sny die perskes in skywe en pak dit, afwisselend met bessiesous en roomys, in lang glase. Sit dadelik voor.

  • Perskebroskoek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Skil en sny ses perskes in skywe en sit die perskeskywe in 'n mengbak. Meng 125 ml koekmeel, 125 ml ligte bruinsuiker en 5 ml kaneel en sprinkel oor die perskeskywe. Meng deur en skep in 'n oondbak. In 'n ander mengbak, meng 250 ml koekmeel, 250 ml ligte bruinsuiker, 5 ml bakpoeier, 'n knippie sout en 5 ml kaneel. Vryf 125 ml sagte botter hierby en voeg genoeg karringmelk by om 'n stywe beslag te vorm. Skep die mengsel oor die perskes en versprei egalig. Bak vir 45 minute tot goudbruin. Sit warm voor met geklopte room of roomys.

    Landbouweekblad, 18 Januarie 2008