Landbou

Aarbeiroomnageregte
Stilering: Arina du Plessis
Foto: Neville Lockhart

Pak 'n piekniek
Deur ARINA DU PLESSIS

Garnaalpasteitjies
Jy kan die garnale in dié resep met gevlokte hoender of gevlokte skelvis vervang. Jy kan ook skilferkorsdeeg of filodeeg pleks van brosdeeg gebruik.

40 g botter
1 groot aartappel, geskil en gerasper
1 groot ui, gekap
150 ml bevrore ertjies, ontdooi
100 ml room
50 ml witwyn
500 g gaar garnaalvleis, gekap
15 ml gekapte pietersieli e
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
Sout en vars gemaalde swartpeper
1 kg klaarbereide brosdeeg
1 eier, geklits

Verhit die botter en braai die uie en aartappel daarin tot sag. Voeg die ertjies by en braai vir nog vyf minute. Voeg die room en wyn by en kook vir vyf minute. Voeg die garnaalvleis, pietersielie, suurlemoenskil en geurmiddels by en laat afkoel.

Voorverhit die oond tot 200°C en voer twee bakplate uit met bakpapier.

Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak en druk sirkels van 10 cm met 'n skondrukker daaruit. Rol bo-oor elke sirkel met die koekroller om dit 'n effens ovaalvorm te gee. Skep 'n groot lepelvol van die garnaalmengsel op die deeg en bring die langer kante na bo bymekaar. Druk die rant met jou vingerpunte in 'n kartelvorm. Herhaal met die res van die deegsirkels en vulsel. Bak pasteitjies vir 25-30 minute of tot goudbruin. Lewer 20 pasteitjies.

Knoffel-en-uiebrood
4 x 250 ml koekmeel
10 ml sout
5 ml suiker
1 pakkie (10 g) kitsgis
1 ui, gekap
30 ml botter
4 knoffelhuisies, fyn gedruk
60 ml gekapte pietersielie
375 ml louwarm water
45 ml olyfolie

Meng die meel, sout, suiker en gis in 'n groot bak. Braai die ui in die botter tot sag en voeg die knoffel by. Braai tot geurig. Voeg die pietersielie by en laat effens afkoel. Voeg by die meelmengsel en meng deur sodat al die uiestukkies met meel bedek is. Maak 'n holte in die middel. Meng die water en olie en voeg by die droë bestanddele. Maak aan tot 'n deeg.

Keer uit op 'n meelbestrooide oppervlak en knie vir ongeveer 10 minute tot glad en elasties. Vorm die deeg in 'n bal en sit in 'n geoliede bak. Bedek en laat rys op 'n warm plek tot dubbel die grootte. Terwyl die deeg rys, voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n bakplaat goed met olie. Knie die deeg af en vorm 'n plat brood van jou keuse. Pak op die bakplaat en laat rys weer tot goed uitgerys. Bak vir 20-30 minute tot deurgaar. Sit voor met botter en kaas. Genoeg vir 10-12 mense.

Piekniekterrien
Ongeveer 500 g repiespek
25 ml olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
80 ml gemarineerde, songedroogde tamaties, fyn gesnipper
300 g spinasie, goed gewas en dik are verwyder
4 eiers, geklits
250 ml suurroom
250 g spaghetti
250 ml gerasperde cheddarkaas
125 ml gekrummelde fetakaas
60 ml vars pietersielie of basielkruid, gekap

Smeer en voer 'n broodpan van 14 cm x 21 cm met met foelie. Smeer die foelie ook liggies. Voer die boom en kante van die pan uit met spek. Verhit die olie in 'n groot pan en braai die uie, knoffel en songedroogde tamatie daarin tot die uie sag is. Voeg die spinasie by en braai tot gaar. Laat effens afkoel, skep dié mengsel in 'n voedselverwerker en voeg die eiers en suurroom by. Verwerk tot glad. Breek die spaghetti in kleiner stukkies en kook tot net-net gaar. Dreineer goed en meng met die spinasiemengsel, kase en kruie. Skep in die uitgevoerde pan en bedek met nog ham.

Bedek die pan stewig met foelie en sit die pan in 'n groter oondbak. Giet kookwater in die groter bak tot dit halfpad teen die broodpan opkom. Bak vir ongeveer 1¼ uur. Haal die pan uit die oondbak met water en bak op sy eie vir nog 30 minute. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel oornag. Keer uit, sny in skywe en sit voor met slaaie. Genoeg vir agt mense.

Aarbeiroomnageregte
Stol dié sagte mousse in klein plastiekkoppies (met deksels) en gebruik hout- of plastiekteelepels om mee te eet.

500 g aarbeie, skoongemaak en in stukke gesny
250 ml room
3 eiergele
45 ml strooisuiker
7 ml gelatien
250 g roomkaas of cr`me fraîche

Verwerk die aarbeie in 'n voedselverwerker tot glad en hou eenkant. Giet die room in 'n kastrol en verhit tot kookpunt.

Klits die eiergele in 'n mengbak en giet die warm room in 'n dun straaltjie by die eiergele terwyl jy aanhoudend klits. Giet terug in die kastrol, voeg die strooisuiker by en verhit oor baie lae hitte terwyl geroer word tot die vla begin verdik. Verwyder van die hitte, los die gelatien daarin op en laat afkoel. Roer die aarbeipuree by die afgekoelde vla. Voeg 'n bietjie daarvan by die roomkaas of crème fraîche en klits tot glad. Voeg dié mengsel by die res van die aarbei-en-vlamengsel en meng goed.

Skep in geskikte koppies of houertjies en verkoel tot gestol. Bedek, hou in die yskas, en pak in 'n koelhouer wanneer vervoer moet word. Lewer 8-10 nageregte.

Landbouweekblad, 25 Januarie 2008