Landbou

Dom Pedro
Foto: Neville Lockhart
Stilering: Arina du Plessis

Soortgelyk
Sewe sondes
Deur ARINA DU PLESSIS

Verlei jou Valentyn met een van hierdie sewe sensasionele sjokoladeskeppings.

Sjokolademousse
Ek geur sjokolademousse graag met heuning of esdoringstroop (wat ek vir 'n paar minute geprut het om 'n donkerder kleur te kry). 'n Mens sou dink dit maak die mousse nóg soeter, maar dit gee inteendeel 'n dieper, meer intense geur daaraan.

200 g donker sjokolade
400 ml room (verkoel 200 ml daarvan)
60 ml heuning of esdoringstroop

Kap die sjokolade en smelt dit saam met 200 ml van die room tot glad. Prut intussen die heuning of esdoringstroop tot dit 'n donkerder kleur het (maar nie brand nie) en voeg by die sjokoladesous. Laat afkoel tot byna kamertemperatuur (maar nie gestol nie). Klits die 200 ml koue room styf en vou by die sjokolademengsel in. Giet in 'n mooi bakkie of glase en verkoel tot nodig. Sit voor met bessies of beskuitjies om in die mousse te doop. Genoeg vir 2-4 mense.

Sjokolade Dom Pedro
Volgens my is dié drankie strate lekkerder as die een wat met vanieljeroomys gemaak word. Gebruik goeie roomys, anders mors jy jou tyd.

50 g donker sjokolade
60 ml room
4 groot skeppe sjokoladeroomys
30 ml whisky, koffielikeur of Amarula
60 ml melk
60 ml room, geklop

Smelt die sjokolade en room saam tot glad. Laat effens afkoel en drup dit aan die binnekant van twee rooiwynglase sodat die sjokolade teen die kant kan afloop. Hou eenkant. Verwerk die roomys, whisky (of likeur) en melk saam tot glad en giet in die glase. Skep twee eetlepels geklopte room op elkeen en gebruik 'n mes of toetspen om marmerpatrone op die bokant te maak. Genoeg vir twee mense.

Gebakte sjokolade-koffiekaaskoek
Kaaskoek bly 'n verleiding - dié een is donker en bittersoet.

2 houers (230 g elk) roomkaas
30 ml koekmeel
30 ml kakao
20 ml koffiepoeier
30 ml kookwater
160 ml sagte bruinsuiker
10 ml vanieljegeursel
30 ml room
3 eiers
½ pakkie (60 g) vingerbeskuitjies
60 ml brandewyn of soetwyn

Voorverhit die oond tot 160 °C en smeer 'n losboomkoekpan van 20 cm goed met botter. Bestuif met kakao en hou eenkant. Klits die roomkaas glad. Sif die koekmeel en kakao oor. Los die koffiepoeier in kookwater op en voeg dit saam met die suiker, vanieljegeursel, room en eiers by die roomkaasmengsel. Klits alles saam tot glad. Pak die vingerbeskuitjies onder in die koekpan en besprinkel met brandewyn of soetwyn. Laat dit intrek en skep dan 'n dun lagie van die kaaskoekmengsel oor die beskuitjies. Laat staan sodat dit kan intrek en skep die res van die mengsel versigtig in die pan. Bak vir ongeveer 1 uur tot ferm. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verkoel tot benodig. Sif kakao oor en sit voor met roomys of geklopte room. Lewer 1 middelslagkoek.

Sjokolade-en-neutskywe
Dié lekkerny is so ryk, daar's min wat vir hom sal kans sien. Maar ware sjokoliste sal in die nag opstaan om daarvan te gaan eet.

1 pakkie (200 g) sjokoladekoekies (ek het Romany Creams gebruik)
Ongeveer 100 ml gesmelte botter
400 g donker sjokolade
180 ml room
100 g ongesoute makadamianeute, gerooster en grof gekap

Voer 'n broodpan van 30 cm x 10 cm met waspapier uit en smeer goed. Verwerk die koekies in 'n voedselverwerker of druk dit goed fyn. Meng die krummels met net genoeg gesmelte botter om aanmekaar vas te sit. Skep dit in die uitgevoerde pan en gebruik die agterkant van 'n lepel om dit egalig op die basis van die pan vas te druk. Verkoel tot later. Smelt die sjokolade en room saam tot glad en roer die makadamianeute by. Giet in die pan bo-op die beskuitjiekors en smeer gelyk. Verkoel tot benodig. Haal ongeveer 10 minute voor bediening uit die yskas en sny in skywe. Sit voor met sterk koffie. Lewer ongeveer 15 snye.

Sjokoladepavlova
'n Hemelse kombinasie van brosmeringue, fluweelgladde roomys en sappige frambose.

5 eierwitte, teen kamertemperatuur
250 ml strooisuiker
30 ml kakao
10 ml rooi druiwe-asyn

Bolaag
750 ml donker sjokoladeroomys
250 ml bessies of vrugte
125 ml geroosterde, gekapte neute

Voorverhit die oond tot 150 °C. Voer 'n bakplaat met foelie uit en bespuit liggies met kleefwerende kossproei. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tot ál die suiker bygevoeg en opgelos is en die meringue dik en blink is met stywe punte. Sif die kakao oor en voeg die asyn by. Vou versigtig met 'n metaallepel by die meringue in. Stapel die mengsel op die bakplaat en vorm 'n sirkel van ongeveer 25 cm in deursnee. Maak 'n effense holte in die middel en bak vir 1 1½ uur of totdat die meringue droog voel aan die buitekant. Maak die oonddeur oop en laat dit heeltemal in die oond afkoel.

Om voor te sit: Stapel bolle sjokoladeroomys op die meringuebasis en sprinkel bessies en gekapte neute bo-oor. Sit dadelik voor. Genoeg vir 10-14 mense.

Sjokolade cr`me brulee
As jou weerstand nie verkrummel wanneer die karamellaag van 'n cr`me brulee kraak nie, het jy waarlik buitengewone selfdissipline.

250 ml volroommelk
20 ml kakao
250 ml room
5 eiergele
60 ml strooisuiker
Ekstra strooisuiker, vir bo-op

Voorverhit die oond tot 150 °C. Verhit die melk in 'n kastrolletjie tot net onder kookpunt. Terwyl die melk warm word, meng die kakao met 'n bietjie van die room tot 'n pasta. Voeg die res van die room by en klits tot glad. Klits nou die eiergele en suiker ook by. Voeg die warm melk hierby, roer tot glad en giet alles terug in die kastrol. Verhit stadig oor lae hitte, terwyl jy roer, tot die vla verdik. Giet in 2-3 oondvaste koppies of bakkies en sit dit in 'n groter bak. Giet warm water in die groot bak en sit in die oond. Bak die eiervla vir ongeveer 45 minute of tot ferm. Haal uit die oond en laat afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel dan tot yskoud. Wanneer reg om te bedien, sprinkel 'n egalige lagie strooisuiker bo-oor elkeen en karameliseer die suiker met 'n gasvlam of onder 'n oondrooster. Laat hard word en sit voor. Genoeg vir 2-3 mense.

Onweerstaanbare sjokoladebruintjies
Ek beskou myself as 'n bietjie van 'n kenner op die gebied van sjokoladebruintjies ? net omdat ek waarskynlik al honderd weergawes daarvan geë et het. Ek het voorheen my gunsteling-bruintjieresep (wat met suurroom gemaak word) gegee, maar dié een (propvol neute en met 'n bros kors) is kort op sy hakke!

350 g donker sjokolade, gekap
250 g botter
3 eiers
250 ml bruinsuiker
5 ml bakpoeier
100 g koekmeel
50 g okkerneute, gekap
50 g pekanneute, gekap

Voorverhit die oond tot 160 °C en voer 'n vierkantige koekpan van 20 cm met bakpapier uit. Smeer goed en bestuif met kakao. Smelt die sjokolade en botter saam oor lae hitte tot glad. Klits intussen die eiers en bruinsuiker baie goed saam (vir ongeveer 10 minute) tot lig en donsig. (As jy die klitser oplig moet die mengsel wat a.oop 'n dik "lint" vorm wat 'n rukkie bo-op die eiermengsel lê voor dit wegsak.) Sif die bakpoeier en meel bo-oor en voeg die sjokolademengsel en neute by. Vou versigtig in en giet in die voorbereide pan. Bak vir ongeveer 45-50 minute of tot die bokant krakies vorm en net-net ferm voel. Laat afkoel en sny in blokke. Lewer ongeveer 20 bruintjies.

Landbouweekblad, 8 Februarie 2008