
Geroosterde eiervrug en-
roket-slaai
3 middelslag, jong eiervrugte, in die
lengte gehalveer
Ongeveer 125 ml olyfolie
30 ml basielpesto
1 rolletjie (100 g) sagte bokmelkkaas
Handvol jong groenboontjies, gestoom
3 hande vol bronkors en roket OF
gemengde slaaiblare
Paar vars basielblare
Slaaisous
15 ml appelasyn
5 ml Dijon-mosterd
45 ml olyfolie
Knippie suiker
Sout en peper na smaak
Verhit die oondrooster. Verf die gesnyde kante van die eiervrug met olie en geur goed met sout en peper. Oondrooster vir ongeveer vyf minute tot die eiervrugte begin verkleur. Draai om en rooster vir nóg vyf minute. Haal uit, maak insnydings op die vleis en smeer dadelik 'n lagie pesto op die vleiskant van die eiervrugte. Sit skyfies bokmelkkaas op en rooster tot dit borrel. Haal uit die oond en laat afkoel. Rangskik blare en gestoomde groenboontjies op bord/opdienbord. Sny die afgekoelde eiervrugte in hapgroottestukke en rangskik bo-op. Klits alles vir slaaisous saam en sprinkel bo-oor. Sit voor met geroosterde Italiaanse brood. Sprinkel bros gebraaide uie bo-oor. Genoeg vir vier mense.
Pastaslaai
5 eiers
250 g pasta
4 stele seldery, gesny
1 bossie grasuie, gekap
1 komkommer, gesny
2 hande vol kersietamaties
180 ml mayonnaise
Sap en skil van 1 suurlemoen
(sien wenk)
Baie sout en varsgemaalde
swartpeper
5-10 ml kondensmelk
1 fyngedrukte knoffelhuisie
Brosgebraaide spekvleis
Pietersielie
Kook eiers halfsag, spoel met koue water af en hou eenkant. Kook pasta, dreineer en sprinkel liggies met olyfolie. Laat heeltemal afkoel. Meng seldery, grasuie, komkommer en tamatie met afgekoelde pasta. Meng mayonnaise, sap, suurlemoenskil, geurmiddels, kondensmelk en knoffel. Meng pasta, groente en sous. Dop eiers af. Sny in halwes of kwarte en sit versigtig by slaai. Rond af met bros spek, pietersielie en ekstra swartpeper. Genoeg vir ses mense.
Wenk: Om meer sap uit 'n suurlemoen te kry en om die waslaag van die skil te verwyder, dompel suurlemoen vir een minuut in kookwater.
Somerse
Hoenderslaai
Gebruik oorskiet geroosterde
hoender - of hoender wat oor
kole gebraai is - vir 'n heerlike
geroosterde geur. Die slaai
maak maklik meer. Gebruik
as basis een porsie hoender
per persoon vir 'n ete.
Marinade
Sap en skil van 1 suurlemoen
45 ml olyfolie
1 knoffelhuisie, baie goed fyn gedruk
10 ml tiemie of oreganum, baie fyn
gekap
Sout en peper
4 hoenderporsies
1 sak (300 g) gemengde blaarslaai
1 middelslag komkommer, gesny
1 houer (200 g) kersietamaties,
gehalveer
Skaafsels parmesaan
Sous
45 ml mayonaisse
45 ml jogurt, maas of karringmelk
2 knoffelhuisies
Knippie suiker
Sout en peper
5 ml peperwortelsous of geroomde
peperwortel
Meng al die bestanddele vir die marinade. Laat marineer die gevlokte hoender daarin. Rangskik die blare, komkommer, tamatie en parmesaan op 'n dienbord. Skep hoender in marinade bo-oor. Meng alles vir die slaaisous. Drup 'n bietjie booor en bedien res in klein bakkie met slaai en brood. Genoeg vir vier mense.
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008