
Spesery-koeksisterstokkies
Dié lekkernye is doodgewone koeksisters, maar in plaas daarvan om die deeg
dik uit te rol en te vleg, het ek dit baie dun uitgerol, in dun repies gesny en
in 'n braaipan gebraai. Daarna is dit in 'n stroop, wat met gemmer, kaneel en
vanieljepeul gegeur is, gedompel.
Stroop
4 x 250 ml suiker
375 ml water
3 ml kremetart
5 ml fyn gemmer
3 kaneelstokke
1-2 vanieljepeule, saadjies uitgeskraap en peul behou
5 ml gliserien
Deeg
4 x 250 ml koekmeel
3 ml sout
15 ml bakpoeier
60 ml botter of margarien
1 eier
250-375 ml melk
Olie, vir diepbraai
Verhit die suiker en water oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Voeg die kremetart, gemmer, kaneelstokke en vanielje (die vanieljesaadjies én peule) by en verhit tot kookpunt. Prut vir vyf minute. Verwyder van die hitte en voeg die gliserien by. Laat afkoel tot kamertemperatuur en verwyder die kaneelstokke en vanieljepeule. Verkoel tot yskoud.
Meng die droë bestanddele en vryf die botter met jou vingerpunte by die meel in. Klits die eier en voeg ongeveer 180 ml melk by. Voeg by die droë bestanddele en maak aan met nog melk tot 'n sagte deeg. Knie die deeg goed tot glad en elasties en draai dig toe in kleefplastiek. Laat rus vir minstens drie uur. Rol die deeg baie dun uit, sny in dun repies en lê die repies versigtig in 'n braaipan met diep, warm olie. Braai tot goudbruin en dompel in die koue stroop. Dreineer en verkoel. Lewer ongeveer 200 stokkies.
Karringmelkkoeksisters
Stroop
4 x 250 ml suiker
500 ml water
30 ml heuning
30 ml suurlemoensap
Deeg
625 ml koekmeel
2 ml sout
15 ml bakpoeier
45 ml botter
250 ml karringmelk
Olie vir diepbraai
Vir die stroop:
Verhit ál die bestanddele vir die stroop saam in 'n kastrol tot
die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut vir vyf minute. Verwyder van
die hitte en laat afkoel tot kamertemperatuur voor die stroop verkoel word.
Deeg:
Meng die meel, sout en bakpoeier saam. Vryf die botter daarby in en
voeg die karringmelk by. Maak aan tot 'n deeg en knie tot glad en elasties.
Bedek en laat rus vir minstens drie uur. Rol die deeg uit in stroke en sny in
blokke. Sny vir elke blok drie bene en vleg koeksisters. Braai ongeveer ses op
'n slag in warm olie en dompel in yskoue stroop. Dreineer op draadrakke en
verkoel. Lewer ongeveer 66 koeksisters.
Klapperbollas
Stroop
800 ml suiker
625 ml water
1 kaneelstok
Dik reep suurlemoenskil
Deeg
500 g bruismeel
2 ml bakpoeier
10 ml fyn kaneel
Knippie sout
2 eiers, geklits
100 g gesmelte botter
Ongeveer 250 ml melk
Olie, vir diepbraai
500 ml klapper, vir rol
Verhit ál die bestanddele stadig oor lae hitte saam tot die suiker gesmelt is. Roer gereeld. Verhit tot kookpunt en prut vir 5-10 minute. Verwyder van die hitte en laat afkoel voor die kaneelstok en suurlemoenskil verwyder word. Verkoel tot yskoud voor gebruik.
Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Voeg die geklitste eiers en gesmelte botter by en maak met net genoeg melk aan tot 'n sagte deeg. Vorm klein bolletjies en braai die deeg in warm olie tot goudbruin. Skep uit met 'n gaatjieslepel en dompel vir 'n paar tellings in die yskoue stroop. Dreineer en rol in klapper. Lewer ongeveer 30 bollas.
Churros
Churros is die naaste wat jy in Spanje
aan 'n koeksister gaan kom. Die deeg
is basiese choux-pasta wat ook in warm
olie gebraai word. Maar in plaas van
koue suikerstroop word churros eers in
kaneelsuiker gerol en dan, met die eetslag,
in warm sjokoladesous gedoop.
250 ml water
½ ml botter
2 ml sout
250 ml koekmeel
4 eiers
Olie, vir diepbraai
125 ml kaneelsuiker
Sjokoladesous
120 g donker sjokolade
500 ml melk
10 ml mielieblom
30 ml strooisuiker
Verhit die water, botter en sout in 'n kastrol tot dit vinnig kook. Voeg die meel alles gelyk by en roer vinnig tot dit 'n bol vorm wat van die kante van die kastrol wegtrek. Verwyder van die hitte. Klits die eiers een vir een by. Klits goed tot heeltemal gemeng. Skep die beslag in 'n spuitsak met 'n groot sterpunt en spuit stukke van 5 cm in warm olie. Braai tot liggoudbruin en deurgaar.
Skep uit en dreineer. Sprinkel met kaneelsuiker en sit as nagereg voor met sjokoladesous.
Vir sjokoladesous: Verhit die sjokolade en 375 ml van die melk saam tot die sjokolade gesmelt is. Meng die mielieblom en strooisuiker met die res van die melk tot glad. Voeg by die warm sjokolademelk in die kastrol en prut, terwyl geroer word, tot gaar. Lewer ongeveer 60 churros.
Spitsroken
Dié lekkernye se stroop word gewoonlik
met amandelgeursel gegeur, maar ek
het rooswater gebruik. Dit gee dit 'n effense
Turkse gevoel.
Stroop
750 ml suiker
750 ml water
5 ml egte rooswater (of meer as jy
'n sterker geur verkies)
Deeg
310 ml melk
100 ml botter
2 ml sout
350 ml koekmeel
4 eiers
Olie, vir diepbraai
Maak die stroop die vorige dag:
Verhit die water en suiker stadig oor
lae hitte tot die suiker gesmelt is. Roer
gereeld. Verhit tot kookpunt en prut
vir 10-15 minute. Laat afkoel, voeg die
rooswater by en verkoel tot yskoud.
Vir die deeg:
Verhit die melk, botter en
sout saam tot dit vinnig kook. Voeg die
meel by en roer tot dit 'n bal vorm wat
van die kante van die kastrol af wegtrek.
Verwyder van die hitte en laat effens
afkoel. Klop die eiers een vir een
by tot goed gemeng. Braai teelepelsvol
van die mengsel in warm olie tot goudbruin.
Dompel in die yskoue stroop en
dreineer.
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008