
Gebruik die konfyt wat jy in die somermaande gekook het om hierdie liplekker terte en poedings te maak.
Mooiste konfytkoekies
125 ml koekmeel
375 ml gesifte versiersuiker
250 ml gemaalde amandels
4 eierwitte, teen kamertemperatuur
180 g botter, gesmelt
5 ml vanieljegeursel
15 ml appelkooskonfyt
15 ml aarbeikonfyt
15 ml ryp vyekonfyt
15 ml bessiekonfyt
Voorverhit die oond tot 180 C. Meng die meel, suiker en gemaalde amandels in 'n bak. In 'n aparte bak, klits die eierwitte liggies tot skuimerig en voeg gesmelte botter en vanieljegeursel by. Voeg bydroë bestanddele en meng deur. Skep in gesmeerde kolwyntjiepannetjies of tertpannetjies met 'n mooi, gekartelde rant (net half-vol) en skep 'n bietjie konfyt bo-op elkeen. Bak vir ongeveer 15 minute tot goudbruin. Laat effens afkoel, sif versiersuiker oor en sit voor.
Lewer 20 koekies.
Konfyt-klappertert
Dié tert is beslis vir suikertande. Dis baie soet - sit dit dus voor met 'n skeppie mascarpone, geklopte room of roomys.
Deeg
180 g sagte botter
250 ml strooisuiker
2 eiers
500 ml bruismeel
30 ml vlapoeier
Vulsel
Half pakkie vingerbeskuitjies (boudior-beskuitjies)
250 ml appelkoos- of vyekonfyt
375 klapper
30 ml vars suurlemoensap
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n tertpan van 22 cm liggies. Verroom die botter en suiker goed saam en klits die eier by. Voeg die meel en vlapoeier by en maak aan tot 'n deeg. Sny 'n derde van die deeg af en draai dit in kleefplastiek toe. Druk die deeg eweredig op die basis en teen die kante van die pan vas. Verkoel vir 10 minute. Bak 15 minute en laat afkoel vir 10 minute. Terwyl die tertkors afkoel, verwerk die vingerbeskuitjies tot fyn krummels. Meng dit met die konfyt en voeg die helfte van die klapper en die suurlemoensap by. Smeer konfytmengsel egalig oor die deeglaag. Sprinkel die res van die klapper bo-oor. Rol 'n derde van die deeg dun uit en sny in repies. Pak of vleg die repies bo-op die tert en bak vir ongeveer 15 - 20 minute tot die bolaag goudbruin is en die konfyt teen die kante borrel. Laat in pan afkoel. Sit voor met geklopte room of roomys.
Lewer 1 middelslagtert.
Bessie-rolpoeding
Deeg
500 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
1 ml sout
2 ml kaneel
45 g koue botter, in klein blokkies gesny
1 ekstra-groot eier
100 ml melk
Vulsel
250 ml bessiekonfyt
250 ml vars of bevrore bessies, effens fyn gedruk met 'n vurk
Sous
250 ml ligte bruinsuiker
45 ml botter
500 ml kookwater
Sif die meel, bakpoeier, sout en kaneel saam. Vryf die botter met jou vingerpunte by die droë bestanddele in tot die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Klits die eier en melk saam en voeg geleidelik by die droë bestanddele. Meng tot 'n deeg.
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak van 30 cm x 20 cm met botter. Rol die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak uit tot 'n reghoek van 5 mm dik. Smeer met 'n lagie bessiekonfyt en skep die bessies egalig oor die deegblok. Rol in die lengte op en sny in skywe van 150 mm. Pak die skywe (nie té na aanmekaar nie, want dit rys taamlik baie) in die oondbak.
Roer die bestanddele vir die stroop saam tot die suiker opgelos is en giet versigtig oor die poedingskywe. Bak vir 40 minute tot goudbruin en uitgerys. Laat staan vir 15 minute en sit voor met vla of skink-room.
Genoeg vir agt mense.
Nog konfyt-idees
Landbouweekblad, 14 Maart 2008