
Die intense, soet geur van dadels is ideaal vir gebak en ander lekkernye. Boonop proe dit vir my of dit gemáák is om in die herfstyd te eet.
Warm dadelkoekies
125 g sagte botter
125 ml strooisuiker
4 eiers
5 ml bakpoeier
280 ml koekmeel
5 ml kaneel
3 ml neutmuskaat
1 ml gemaalde naeltjies
125 ml melk
5 ml vanieljegeursel
175 g sagte dadels, baie fyn
gesnipper
Voorverhit die oond tot 170°C en smeer 'n muffinpan se holtes goed met botter. (As jy 'n groot koek wil bak, gebruik 'n losboomkoekpan van 20 cm.) Verroom die botter en suiker baie goed tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Sif die bakpoeier, meel en speserye bo-oor en voeg die melk en vanieljegeursel by. Roer tot net gemeng en voeg dan die dadels by. Meng goed en skep in die gesmeerde pan. (Maak die holtes driekwart vol.) Bak vir 12-15 minute tot die koekies gaar is of 'n toetspen skoon uit die middel daarvan kom. Sit louwarm voor met botterkaramelsous, vla of dik room.
Lewer ongeveer 10 koekies.
Anoniem se
dadelbrood
Dié resep is al in 2005 deur 'n leser ingestuur,
maar sy (of hy) het ongelukkig vergeet
om 'n naam of adres by te skryf.
1 pakkie (250 g) dadels, fyn
gesnipper
5 ml koeksoda
200 ml ligbruinsuiker
125 ml sagte botter
300 ml kookwater
5 ml vanieljegeursel
610 ml koekmeel
7 ml bakpoeier
5 ml sout
5 ml kaneel
3 ml gemengde speserye
Fyngerasperde skil van 1 lemoen
½ pakkie (50 g) pekanneute, grof
gekap
1 ekstra-groot eier
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n broodpan van 28 cm x 10 cm goed met botter. Sit die dadels, koeksoda, suiker en botter saam in 'n mengbak en giet die kookwater oor. Roer tot die suiker opgelos is en laat staan vir 10 minute tot die dadels sag is. Voeg die vanieljegeursel by. Sif die meel, bakpoeier, sout, kaneel en gemengde speserye saam in 'n ander mengbak. Voeg die lemoenskil en neute by. Klits die eier en voeg dit saam met die dadelmengsel by die droë bestanddele. Meng goed, skep in die pan en bak vir sowat 45 minute of tot broodjie deurgaar is. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer dan uit op 'n draadrak. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met botter of roomkaas.
Lewer een middelslagteebrood.
Griekse
dadelrolletjies
375 ml fyngesnipperde dadels
125 ml okkerneute, baie fyn gekap
2 ml kaneel
45 ml heuning
Sap en fyngerasper
de skil van
1 lemoen
Ongeveer 6 velle filodeeg
125 ml gesmelte botter
Verhit die dadels, neute, kaneel, heuning, lemoensap en -skil saam oor lae hitte en roer tot die dadels sag is en die mengsel 'n dik pasta vorm. Laat heeltemal afkoel. Voorverhit die oond tot 180°C en voer 'n bakplaat met bakpapier uit. Sny elke vel filodeeg in die lengte in ongeveer ses repe (na gelang van hoe lank jy die rolletjies wil maak). Verf elke reep goed met gesmelte botter en skep 'n teelepelvol van die dadelmengsel aan die bo-punt van elke reep.
Vou die buiterante om die vulsel en rol op. Herhaal met die res van die deeg en vulsel. Smeer die rolletjies op die bakplaat bo-op ook met gesmelte botter en bak vir ongeveer 15-20 minute tot goudbruin. Sit louwarm of teen kamertemperatuur voor met dubbelroom-jogurt waarby 'n lepel vanieljegeursel en heuning geroer is.
Lewer ongeveer 36 rolletjies.
Dadelroomtert
Vulsel
250 g dadels, fyn gesnipper
75 g botter
250 ml water
125 ml melk
125 ml strooisuiker
10 ml suurlemoensap
1 eier, geklits
1 x gaar brosdeeg-tertdop van 20 cm
375 ml room
30 ml versiersuiker
5 ml vanieljegeursel
Kaneel, om oor te sprinkel
Verhit ál die bestanddele vir die vulsel stadig oor lae hitte tot kookpunt en roer aanhoudend tot 'n gladde, dik mengsel. Skep in die tertdop. Smeer egalig en laat afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel. Klits die room, versiersuiker en vanieljegeursel tot sagte punte vorm en skep op die dadelvulsel. Sprinkel 'n bietjie kaneel oor en sit voor met tee of as nagereg.
Lewer een middelslagtert.
Landbouweekblad, 28 Maart 2008