Landbou

Wit anysbeskuit
Foto: Neville Lockhart
Stilering: Arina du Plessis

Soortgelyk
Bak beskuit
Deur ARINA DU PLESSIS (aduplessis@landbou.com)

Sorg vir iets te eet saam met die boeretroos en probeer een van ons toetskombuis se lekker beskuitresepte.

Karringmelkbeskuit
Ek het in 2004 dié resep by Barbara Joubert, ons sustertydskrif Sarie se kosredakteur, gekry. Dis haar staatmaker-beskuitresep en is altyd 'n sukses.

2 kg bruismeel
10 ml sout
1 kg botter
700 g suiker
1 liter karringmelk
4 ekstra-groot eiers

Voorverhit die oond tot 180°C. Sif die meel en sout saam. Vryf die botter in tot dit lyk soos broodkrummels. Roer die suiker by. Klits die karringmelk en eier saam. Voeg by die meelmengsel en meng goed. Verdeel tussen vier goed gesmeerde broodpanne en bak vir 50-60 minute op die middelrak van jou oond tot 'n toetspen skoon uitkom as dit in die hoogste deel van die beskuit gesteek word. Keer uit en laat effens afkoel. Sny in stukke en droog uit teen 50°C. Bêre in 'n lugdigte houer. Lewer 12 dosyn beskuit.

Wit anysbeskuit
380 g botter
400 ml suiker
1 liter melk
4 eiers
2 kg bruismeel
3 ml kremetart
7 ml sout
20 - 30 ml anyssaad

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer twee broodpanne goed. Smelt die botter, suiker en melk stadig saam tot die suiker gesmelt is en die mengsel net kook. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Sodra louwarm, klits die eiers by die melkmengsel. Sif die meel, kremetart en sout saam in 'n mengbak en roer die anyssaad by. Meng goed en maak 'n holte in die middel. Roer die melkmengsel by en maak aan tot 'n sagte deeg. Laat staan vir minstens 10 minute. Verdeel tussen die broodpanne en bak vir ongeveer 1 uur tot die beskuit goudbruin en deurgaar is. Laat effens in die panne afkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel. Breek of sny in stukke en droog uit teen sowat 50°C. Lewer ses dosyn beskuit.

Ekonomiese semelbeskuit
As jy een van baie ma's is wat koshuisbeskuitblikke moet vol hou, kan jy gerus hierdie resep op die proef stel. Dis vinnig en maklik om te maak en dit neem nie so 'n groot hap uit jou beursie nie.

800 ml kookwater
375 ml suiker
350 g botter of margarien
3 ekstra-groot eiers, geklits
1 kg (7 k) bruismeel
15 ml bakpoeier
10 ml sout
5 ml kremetart
500 ml semels

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n oondpan met margarien. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Meng die kookwater, suiker en margarien tot gesmelt. Laat afkoel en klits die eiers by. Sif die bruismeel, bakpoeier, sout en kremetart saam. Roer die semels by. Voeg die eiermengsel by en meng tot 'n dik beslag. Skep in die voorbereide panne en bak vir 1 uur tot gaar. (Dit sal hol klink as jy met jou kneukels teen die onderkant van die pan klop.) Laat 'n paar minute in die panne afkoel en keer dan uit op 'n draadrak. Wanneer afgekoel, sny in vingers. Laat oornag in 'n lou-oond uitdroog teen ongeveer 50°C. Lewer ses dosyn beskuit.

Landbouweekblad, 4 April 2008