
Brandewyn is lankal nie meer net 'n mengeldrankie nie. Dis sjiek, gesofistikeerd en ons plaaslike brandewyne kan stof in menige konjak se oë skop. Boonop is dié goue drankie ewe tuis in 'n kristalglas as in 'n kookpot. Proe 'n bietjie hier...
Donker brandewyn- en droëvrugte-truffels
Dié truffels maak 'n heerlike geskenk (as
jy dit oor jou hart kan kry om dit weg te
gee). Dit sal tot sewe dae hou as dit in 'n
lugdigte houer in die yskas gebêre word.
180 ml room
90 ml botter
45 ml heuning
350 g donker sjokolade
30 ml brandewyn
80 ml fyngesnipperde droë-appelkose
80 ml fyngesnipperde droëvye
Kakao, om in te rol
Verhit die room, botter en heuning oor lae hitte tot die mengsel kook. Verwyder van die hitte en voeg die sjokolade by. Roer tot gesmelt en glad. Roer die brandewyn en droëvrugte by en giet in 'n kleinerige, plat koekpan of plastiekbak. Verkoel tot die mengsel dik genoeg is om in balletjies te kan rol. Gebruik 'n spanspeklepel om ewe groot truffels te skep en rol dit met jou hande in bolletjies. Rol in kakao en pak in 'n enkellaag in 'n bak wat met kleefplastiek uitgevoer is. Verkoel tot benodig. Lewer ongeveer 3 dosyn klein truffels.
Brandewynkaramelpere
125 ml witwyn
125 ml brandewyn
125 ml water
90 ml heuning
1 vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
Sap van 1 suurlemoen
30 ml bruinsuiker
4-6 ferm pere
Verhit die witwyn, brandewyn, water, heuning, vanielje (saadjies en peul), suurlemoensap en bruinsuiker oor lae hitte tot die suiker gesmelt is. Skil die pere en laat sak versigtig in die vloeistof. Verhit tot dit liggies prut, bedek die pot en laat prut vir 15 minute (of tot die pere sag genoeg is om met 'n lepel gesny te kan word). Haal die pere versigtig uit die stroop en hou eenkant. Kook die stroop vinnig af tot 'n effens verdikte sous en verwyder van die hitte. Skep oor die pere en sit die nagereg warm voor met koue skinkroom. Genoeg vir 4-5 mense.
Vanieljegeursel
Tuisgemaakte vanieljegeursel is duur om
te maak, maar lyk só mooi dat dit amper
die geld werd is om net om daarna te kyk.
Ek het dit lank terug uit 'n oorsese kostydskrif
gemaak en het nou altyd daarvan
in my huis. Dit het 'n heel ander geur as
die swart geursel wat ons almal in die winkels
koop - daar is niks kunsmatig hieraan
nie.
500 ml goeie brandewyn
4 vet vanieljepeule, in die lengte
deurgesny
Giet die brandewyn in 'n gesteriliseerde fles. Skraap die saadjies uit die peule en voeg dit (saam met die peule) by die brandewyn in die .fls. Bedek lugdig (met 'n gesteriliseerde deksel en laat staan die fles vir minstens twee maande op 'n koel donker plek. Skud dit elke dag of twee (selfs ná die twee maande staantyd verby is). Bêre in 'n koel, droë plek en maak seker dis altyd lugdig geseël.
Gebakte patatskywe
4 groot patats
60 ml botter
125 ml ligbruinsuiker
15 ml esdoringstroop
80 ml brandewyn
Sap en fyngerasperde skil van 1
lemoen
Ekstra bruinsuiker en botter
Skil die patats en kook dit in 'n groot pot ligte soutwater tot net-net sag. Skep uit en laat effens afkoel. Sny in dik skywe en pak langs mekaar in 'n gesmeerde oondbak. Voorverhit die oond tot 180°C. Smelt die botter, bruinsuiker en esdoringstroop saam tot die suiker gesmelt is en die mengsel begin kook. Voeg die brandewyn by en verhit tot kookpunt. Laat prut vir 1 minuut en verwyder van die hitte. Roer die lemoensap by en giet die sous oor die patats. Sprinkel die lemoenskil en ekstra bruinsuiker bo-oor. Stip met 'n paar klein stukkies botter en bak vir 30-35 minute tot die patats goudbruin is en begin karameliseer. Laat effens afkoel en sit voor met 'n vleisgereg. Genoeg vir agt mense.
Steak met brandewynsampioensous
Genoeg beesfilet of steak vir 2-3
Mense
30 ml Dijon-mosterd
60 ml olyfolie
Sout en vars gemaalde swartpeper
na smaak
Brandewyn-sampioensous
45 ml botter
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
125 g (½ pakkie) wit sampioene,
baie fyn gesnipper
15 ml koekmeel
45 ml brandewyn
125 ml melk
125 ml room
Sout en vars gemaalde swartpeper
na smaak
Vryf die filet of steaks goed in met Dijonmosterd en pak in 'n nie-metaal bak. Giet die olyfolie oor en draai die steaks om sodat elkeen met 'n olielagie bedek is. Bedek en verkoel vir minstens 1 uur. Haal die steaks uit die yskas en laat terugkeer tot kamertemperatuur. Maak intussen die sous: Sit die botter en knoffel saam in 'n pan en verhit tot die botter begin borrel. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Sprinkel die meel oor en roer goed deur. Verhit weer tot kookpunt en voeg die brandewyn by. Kook af tot daar ongeveer 15 ml vloeistof in die pan oor is en voeg die melk en room by. Verhit tot kookpunt terwyl geroer word en prut liggies tot die sous dik genoeg is na jou smaak. Geur met sout en peper en hou eekant warm. Sodra die steaks kamertemperatuur bereik het, maak 'n riffelpan baie warm en braai die steak (sonder om olie in die pan te gooi, daar is genoeg op die vleis) tot goudbruin en geseël aan elke kant voor jy dit omdraai. Braai tot gaar na smaak en laat rus die vleis vir 'n paar minute voor dit voorgesit word met die brandewyn-sampioensous en groente van jou keuse. Genoeg vir 2-3 mense.
Brandewyndrankies
Waterloo
1 sopie brandwyn
4 sopies vars lemoensap
Fyn ys
Reep lemoenskil, om af te rond
Skep die fyn ys in 'n lang glas en giet die brandwyn bo-oor. Giet die lemoensap oor die agterkant van 'n lepel oor die brandewyn en rond af met 'n repie lemoenskil. Genoeg vir een drankie.
French connection
Paar ysblokkies
1 sopie brandewyn
1 sopie Amaretto of Frangelico
(amandel- of haselneutlikeur)
Skep die yskblokkies in 'n glas en giet eers die brandewyn en dan een van die likeurs oor. Genoeg vir een drankie.
Brandy smash
2 takkies kruisement
5 ml strooisuiker
60 ml fyn ys
1 sopie brandewyn
Skeut sodawater
Druk die kruisement en suiker saam fyn en vryf die binnekant van die glas met die kruisement uit. Gooi die takkies kruisement weg en skep die ysblokkies in die glas. Giet die brandewyn oor. Rond af met 'n skeut sodawater. Genoeg vir een drankie.
Brandewynboek
Die pas gepubliseerde koffietafelboek Fire
Water: South African Brandy deur Quivertree
bied 'n fassinerende oorsig oor die skep
en genieting van brandewyn. Wendy Toerien
se teks en Craig Fraser se atmosfeerryke
foto's skets die boeiende verhaal
van die geskiedenis
van Suid-Afrikaanse
brandewyn. Dit verduidelik
hoe brandwyn gemaak word
en wys hoe die ware gees
daarvan ten beste geniet
kan word.
Fire Water: South African Brandy plaas ook die kollig op Suid-Afrika as 'n brandewynprodusent, met klem op die verskillende streke, terroir, kelders en die kultivars wat vir brandewynproduksie gebruik word. Dit kos R330,60 en is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar.
Brandewynfees
Die heel eerste fees toegewy aan dié vurige voggies vind van 28-30 Mei in die Sandton
Sun in Johannesburg plaas. Die fees word deur die SA Brandewynstigting aangebied en
vanjaar se tema is Die goeie lewe - die waardering van keurbrandewyn . Daar
is 'n wye verskeidenheid te geniet en te besigtig by dié fees. Vir meer inligting, stuur 'n
e-pos aan info@sabrandy.co.za of besoek die werwerf www.sabrandy.co.za.
18 April 2008