
Varkvleisroerbraai
500 g varkfillet, in dun repies gesny
15 ml mielieblom
45 ml sojasous
250 ml hoenderaftreksel
30 ml olie
1 ui, in wiggies gesny
Groot handvol broccoli
1 rooi soetrissie, in dun repe gesny
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
30 ml gerasperde, vars gemmer
100 g kasjoeneute, gekap
Meng die varkvleisrepies, mielieblom, sojasous en 50 ml van die aftreksel in 'n nie-metaalbak. Laat staan vir ongeveer 10 minute. Verhit intussen die helfte van die olie in 'n wok of groot pan. Skep die varkrepies uit die marinade. Voeg die res van die aftreksel by die marinade en hou eenkant. Braai die varkrepies vinnig in die warm wok of pan tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant. Verhit die res van die olie en roerbraai die ui en broccoli, soetrissie en knoffel tot die groente gaar, maar steeds bros is. Skep die vark terug in die wok en voeg die gemmer by. Giet die marinade oor en roerbraai tot die sous verdik is. Sprinkel die neute oor en sit dadelik voor. Genoeg vir vier mense.
Sojasous-varktjops
100 ml sojasous
45 ml olie
30 ml vars suurlemoensap
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
5 ml bruinsuiker
5 ml heuning of appelkooskonfyt
6 varktjops
Verhit die sojasous, olie, suurlemoensap, knoffel, suiker en heuning of appelkooskonfyt tot die suiker gesmelt en die sous glad is. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Pak die tjops in 'n enkellaag in 'n nie-metaalbak en giet die marinade daaroor. Marineer vir minstens 20 minute. Oondrooster of braai die tjops in 'n pan of oor matige kole vir ongeveer 3-4 minute aan 'n kant. Sit voor met aartappels en groente of slaai. Genoeg vir 4-6 mense.
Gevulde varkrol
1,5 kg ontbeende varkrib
Sout en vars gemaalde swartpeper
na smaak
60 ml heelkorrelmosterd
2 wiele fetakaas, gekrummel
1 pak spinasieblare
2 pakke repiespek
Voorverhit die oond tot 200°C . Lê die ontbeende rib oop op 'n werksoppervlak en geur mildelik aan albei kante met sout en peper. Vryf die geurmiddels goed met jou hande in die vleis in. Smeer aan die een kant met heelkorrelmosterd en sprinkel fyngekrummelde fetakaas bo-oor. Pak 'n dik laag spinasieblare oor die kaas en rol die rib versigtig op. Bedek die rol met repiespek en bind op met tou (of gebruik 'n vleisnet om die rol se vorm te behou). Oondrooster vir 25?30 minute per 500g plus 'n ekstra 25 minute (vir die 1,5 kg gerolde rib dus 'n gaarmaaktyd van 2 uur). Laat vir 10 minute rus voor die vleis gesny word. Sit voor met aartappels of rys en groente of slaai. Genoeg vir 6-8 mense.
Varkfillet met
mosterd-roomsous
Dié sous smeek om met vark bedien te
word. Die kombinasie van heuning en
mosterd by varkvleis is altyd 'n wenner en
die romerigheid van die sous is ideaal by
fillet.
Mosterdroomsous
375 ml room
30 ml heelkorrelmosterd
15-25 ml heuning
Sout en peper na smaak
Ongeveer 600 g heel varkfilllet
Sout, peper en mosterdpoeier
30 ml olie
Verhit die room, mosterd en heuning saam tot kookpunt. Laat prut tot afgekook en dik genoeg sodat dit die agterkant van 'n lepel met 'n dik lagie sous kan bedek. Geur na smaak met sout en peper en hou eenkant warm. Geur die fillet met sout, peper en mosterdpoeier. Verhit die olie in 'n swaarboompan en braai die fillet tot net-net deurgaar. Laat rus vir 'n paar minute, sny in skywe en sit voor met die mosterdroomsous, kapokaartappel en groente. Genoeg vir drie tot vier mense.
Landbouweekblad, 25 April 2008