Landbou

Vanieljekaaskoek
Foto: Neville Lockhart
Stilering: Arina du Plessis
Assistent:Christien Badenhorst

Soortgelyk
Sny die koek
Deur ARINA DU PLESSIS

Gunstelingwortelkoek
Daar's geen tekort aan resepte vir gunstelinge, soos wortel-, sjokolade- en lemoenkoek in tydskrifte of resepteboeke nie. Die meeste van ons eksperimenteer en pas aan tot ons een kry wat onfeilbaar is en nét soos ons daarvan hou. Dié wortelkoek is my gunsteling - dis 'n verwerking van 'n hele paar resepte en is nou, volgens my, perfek.

500 ml koekmeel
10 ml koeksoda
5 ml sout
5 ml kaneel
500 ml suiker
310 ml olie
4 eiers
750 ml wortels, fyn gerasper
310 ml okkerneute, fyn gekap
310 ml pekanneute, fyn gekap
30 ml gemmerstukke in stroop, fyn gekap

Versiersel
80 ml sagte botter
500 ml versiersuiker, goed gesif
300 g roomkaas
60 ml esdoringstroop

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer twee koekpanne van 20cm of 'n groot ringkoekpan en voer uit met bakpapier of bestuif met meel. Meng die meel, koeksoda, sout en kaneel. Klits die suiker, olie en eiers baie goed saam tot lig. Roer by die droë bestanddele. Voeg wortels, neute en gemmer by en meng goed. Gooi in voorbereide pan(ne) en bak vir 40-60 minute tot gaar. Laat vir 10 minute in die pan(ne) afkoel en keer uit op 'n draadrak om heeltemal af te koel.

Maak die versiersel:Klits die roomkaas en botter saam. Voeg die versiersuiker bietjie vir bietjie by terwyl jy aanhou om stadig te klits, en heel laaste die esdoringstroop. Verkoel die versiersel vir minstens 3 uur voor die koek versier word. Lewer 1 groot koek.

Piesang-sjiffonkoek
In 2005 het ons 'n bakkompetisie gehou. Dié koek van Grieta Pretorius, 'n leser van Griekwastad, was onder die top-drie. Dit bly een van my gunstelinge en het 'n heerlike geur.

560 ml koekmeelblom
375 ml strooisuiker
5 ml sout
15 ml bakpoeier
125 ml olie
5 eiergele
80 ml koue water
250 ml piesang, fyn gedruk
5 ml vanieljegeursel
7 eierwitte
3 ml kremetart

Versiersel
100 g botter
500 ml versiersuiker
Dubbel-room jogurt
Paar druppels gouestroop
Geroosterde klapper en gekapte pekanneute om af te rond

Voorverhit die oond tot 180°C. Sif die meel, bakpoeier, sout en strooisuiker drie keer saam. Maak 'n holte in die middel en voeg die olie, ongeklitste eiergele, water, piesangmoes en vanieljegeursel in daardie volgorde by. Klop tot glad. Klits die eierwitte in 'n groot bak tot stywe punte vorm en voeg die kremetart by. Voeg 'n lepelvol eierwit by die koekbeslag en roer deur. Vou nou die beslag versigtig by die eierwit in. Skep die beslag in 'n sjiffonpan van 24 cm en bak vir 70-75 minute tot gaar. Keer die pan versigtig om en laat so onderstebo afkoel. Wanneer die pan koud genoeg is sodat jy daaraan kan vat, maak die koek se kante met 'n mes los en keer uit op 'n draadrak. Laat heeltemal afkoel. Maak intussen die versiersel: Verroom die botter, versiersuiker, jogurt en gouestroop goed saam en smeer oor die koek. Strooi geroosterde klapper en neute oor, indien verkies. Lewer 1 groot koek.

Vanieljekaaskoek
Dié resep is 'n bewys dat eenvoud dikwels beter is. Moet dit nie versier nie - dié kaaskoek is nét so op sy lekkerste. Ek het die resep aangepas uit Landbouweekbladse eerste resepteboek, Wenners uit die plaaskombuis, wat in 1989 verskyn het.

½pakkie gemaalde amandels
125 g botter
185 ml strooisuiker
1 houer roomkaas
60 ml suurlemoensap
5 eiers, geskei
30 ml mielieblom
30 ml koekmeel

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 'n losboom-koekpan van 20 cm goed met botter. Gooi die gemaalde amandels in die pan en skud die pan liggies sodat die boom en kante met 'n lagie gemaalde amandels bedek is. Sit die pan in die yskas tot nodig. Verroom die botter en strooisuiker goed saam tot lig. Voeg die roomkaas, suurlemoensap en eiergele by en klits goed. Sif mielieblom en koekmeel oor en roer tot gemeng. Klits eierwitte styf en vou dit versigtig met 'n metaallepel by die mengsel in. Giet in pan en bak vir 15 minute. Verlaag die temperatuur tot 150°C en bak vir 'n verdere 40-45 minute of tot die kaaskoek goudbruin en ferm is. Laat in die pan afkoel tot louwarm en maak dan die kante versigtig los voor jy die koek op 'n dienbord sit. Lewer 1 klein kaaskoek.

Marsepein-en witsjokolade-ringkoek
225 g botter
100 ml strooisuiker
250 g koekmeel
5 ml bakpoeier
5 eiers, geklits
100 g wit sjokolade, gekap
100 g marsepein, klein gesny
100 g gepelde amandels, gekap
Versiersuiker om oor te sif

Smeer 'n ringkoekpan van 22 cm goed en bestuif met meel. Verroom die botter en strooisuiker goed tot lig en donsig. Klits eers die meel en bakpoeier by die bottermengsel en dan die eiers. Roer sjokolade, marsepein en amandels by en meng goed. Giet in pan en smeer gelyk. Bak vir ongeveer 35 minute. Laat vir 'n rukkie in die pan afkoel en keer dan uit op 'n draadrak om verder af te koel. Sif versiersuiker oor die koek.

Variasie: Jy kan die koek ook, soos op die foto,met gesmelte, wit sjokolade en geroosterde amandels, versier. Lewer een middelslagringkoek.

Landbouweekblad, 2 Mei 2008