Landbou
Skaapbestuur: Hoe gemaak?
FAFFA MALAN

Vraag:
Ek woon naby Cullinan, en elke oggend as ek by die kraal kom, is daar 'n skaap dood. Teen watter siektes moet ek hulle inent en wanneer? Hulle word gereeld ontwurm en ek het hulle ook teen bloednier geënt. Hoe gereeld moet ek hulle teen ander siektes inent? Dankie vir 'n puik rubriek. - Stanly Ehlers (sehlers@postino.up.ac.za)

Antwoord:
Belangrike punte wat onthou moet word:
Die entstof wat toegedien word beskerm nie die dier nie, maar wel die immuniteit wat die dier se liggaam teen die agent (bv. dooie kiem, gifstof, makgemaakte virus) wat in die entstof is, opbou. Hierdie teenliggame is proteïene en as diere nie in 'n goeie kondisie is nie, of siek is tydens inenting, mag hulle dalk nie 'n goeie immuniteit ontwikkel nie.

As diere vir die eerste keer ingeënt word met 'n dooie entstof, bv. bloednier, moet hulle 'n skraagdosis ná 4 weke ontvang en daarna jaarliks. Daar is wel entstowwe met 'n olie-adjuvant bv. Pulpyvax-1-shot (Reg. No. G2642 Wet 36/1947), Intervet, wat nie 'n skraagdosis nodig het nie.

Sekere plase is "bloednierplase" waar 'n oormag kieme voorkom, of waar bestuurspraktyke toegepas word wat aanleiding tot bloednier gee (bv. geilweidings, gereelde doserings, temperatuurskommelings). Op sulke plase moet diere meer gereeld geënt word.

Lees die aanwysigings sorgvuldig en voer dit stiptelik uit en maak seker dat die koueketting nie verbreek is nie en dat die entstof nie verval het nie.

Gedurende die somermaande kan haarwurm- en lewerslakbesmettings ook boere bekruip soos 'n dief in die nag. Die wurms het op baie plase weerstand teen baie van die wurmmiddelgroepe.

Stel vas watter wurmmiddel groepe nog werk en kyk na die kleur van die oogslymvlies (moet rooi wees) om vas tel stel of alles in orde is. Hierdie toets moet veral 4-7 dae na dosering gedoen word om vas te stel of die dosering suksesvol was. Onthou om altyd 'n nota te maak van watter middelgroep nog werk op jou plaas. Daar is op elke wurmmiddelkan 'n nommer (1-9) met 'n sterretjie langsaan wat die groep aandui. 'n Kaart (FAMACHA®) is beskikbaar om jou te help om die oogslymvlieskleur te bepaal.

Haarwurms, haakwurms en lewerslakke suip bloed en diere kan a.g.v. 'n suurstof te kort (rooiselle dra suurstof) skielik vrek.

Daar is nog baie ander oorsake soos bv. hartwater, bloedderm (Klostridiale besmettings) blousuurvergiftiging, asidose (oorvreet aan mielies) gifplante (bv. gifblaar, gousiekte) en ander siektes soos longontsteking wat skielike vrektes kan veroorsaak. Sabotasie, soos 'n speek wat deur die hart gedruk word, is ook al gevind.

9 Februarie 2005