Landbou
Beeste blaas op van lusern
FAFFA MALAN

Vraag:
Wat doen 'n mens as jou beeste lusern op die land gevreet het en dan opblaas? - André (AndreCr@nissan.co.za)

Antwoord:
Opblaas veroorsaak deur lusern
Gasvorming in die grootpens van herkouers is 'n normale proses. Om winde te kan opbreek, trek die grootpens gereeld saam. Jong, vinniggroeiende lusernweidings bevat saponiene en oplosbare proteïene wat verlaging van die oppervlaktespanning van die vloeistof in die grootpens veroorsaak. Die oplosbare proteïene stabiliseer die skuim. Die gevolg is dat die gas klein skuimerige blasies vorm. Hoe laer die oppervlaktespanning is, hoe kleiner is die blasies en hoe moeiliker bars hulle. Hierdie toestand moet nie verwar word met blousuurvergiftiging wat die grootpens verlam nie. Hierdie toestand word deur sekere verlepte of rypbeskadigde plante veroorsaak soos kweekgras, graansorgum, hawer en rog.

Sekere diere blaas ook makliker as ander op en mense dink dit het te doen met die samestelling van hulle speeksel.

Behandeling
As die dier skuimopblaas het, het dit min waarde om 'n trokar te gebruik omdat die gas vasgevang is en nie vrygelaat kan word nie. Deur 'n skuimopbreekmiddel te gee, word die gas opgebreek en vrygelaat. Aptekersterpentyn (30-60ml) met roulynolie, kasterolie of aptekersparaffien gemeng, sal help om die gas op te breek. Kommersiële middels soos bv. Bloat Guard Drench (Pfizer AH) kan gegee word.

Voorkoming
Bloat Guard Feed Top Dressing (Phibro) is beskikbaar en kan ook voordat diere op lusern gaan wei, toegedien word in hulle voer. Diere is dan vir ongeveer 12 ure beskerm. Daar is ook bolusse en voerblokke beskikbaar. Dit sal ook help as diere opdraande staan sodat die gas wat vrykom, makliker kan ontsnap.

Voer die diere ruvoer, veral droë hooi, voordat hulle toegelaat word om op gevaarlike weidings te wei. Die diere is dan nie so gulsig nie en speekselvloei word ook geprikkel, wat opblaas verhoed.

Wanneer groen lusern in 'n krip gevoer word, is dit wenslik dat die lusern eers goed verlep voordat die diere gevoer word.

Bronne
Handboek oor veesiektes, 1972, Mönnig H.O. en Veldman F.J., Tafelberg Uitgewers Beperk, ISBN 0624003590
Prof. Neil Fourie, Intervet

15 Februarie 2005