Vraag:
My tweelingooie lam hoofsaaklik op lusernweidings. Nadat die lammers op 3 maande gespeen word, gaan die ooie na die veld terwyl die lammers nog op lusernweidings aanbly. As gevolg van die lusern blaas die ooie en lammers soms op wat tot vrektes lui. Wat kan ek doen? - Karel Jordaan (kgjordaan@absamail.co.za)
Antwoord:
Opblaas is 'n algemene probleem by diere op lusernweidings. Faktore wat hier 'n rol speel, is die groeistadium van die lusern, die tyd van die jaar (verlepte plante), besmetting van lusern, die hoeveelheid ruvoer beskikbaar en die weidingspatrone van die diere.
Dié peulgewas is ryk aan proteïene, saponiene en pektiene. Hierdie komponente veroorsaak dat daar 'n dik skuim in die grootpens vorm. Die skuim keer dat gas, wat normaalweg in die grootpens gevorm word, uitgeskei kan word. Gevolglik blaas die diere op en vrek.
Jong lusern - in die aktiewe groeistadium - het 'n lae veselinhoud. Gevolglik herkou die diere minder, en minder speeksel word gevorm. Speeksel keer dat skuim gevorm word. Verlepte plante is ook meer geneig om opblaas te veroorsaak. Hoë vlakke van besmetting verhoog ook die kanse vir opblaas.
Opblaas kan verhoed word deur goeie gehalte ruvoer (hooi) vir die skape te voer vir 'n paar uur voordat hulle op die lusern gaan wei. Daar is kommersiële produkte op die mark beskikbaar vir diere wat opgeblaas is. Raadpleeg u plaaslike veearts. Kookolie ('n halwe koppie) of bietjie skottelgoedseep (2 teelepels) kan ook in die bek gegee word vir skape wat reeds opgeblaas is. Indien dit nie vinnig werk nie, moet 'n steriele mes in die grootpens (linker sy) gesteek word. Hierdie is 'n noodprosedure om die dier se lewe te red, maar u behoort eers u veearts te raadpleeg.
Teenskuimmiddels kan ook in lekblokke of in bolusse geplaas word. Weidings kan selfs met groente-olies bespuit word voordat hulle bewei word. Hoë drukbeweiding kan ook geïmplementeer word om die diere sodoende te verplig om die hele plant te vreet en nie net die sappige blaartjies nie.
Verlepte lusern kan ook kroniese blousuurvergiftiging veroorsaak. Deur skape 'n teelepel swael in te gee voor hulle die lusern bewei, kan die probleem verminder word.
Party skape is meer vatbaar vir opblaas en hulle moet uitgeklas word.
Sekere kultivars van lusern is ook meer geneig om opblaas te veroorsaak. Vind meer uit hieroor by 'n voorligtingsbeampte.
5 Mei 2005