Vraag:
Ek het 'n klompie ou dragtige dorperooie (75) by 'n boer in die Kalahari gekoop. Toe die ooie afgelaai is, was dit asof party lam in die bene is en moeilik vind om te staan of te loop. Ek het die ooie saam met my ander skape in 'n voerkraal geplaas op lusern, mielies en byvoeding, maar hulle wei ook soms in 'n kampie. Die boer het my verseker dat die skape ingeënt was teen bloednier en pasteurella en gedoseer is teen wurms. Meer en meer van die skape het begin lam raak in hulle bene en moes opgetel word. Sommige loop net 'n paar tree en val dan weer. Van hulle val soms op hulle sye en vrek dan binne 'n uur of wat. Van hulle het eenvoudig ophou eet en water drink. Hulle toon dus 'n algehele swakheid en vrek uiteindelik. Die skape raak ook baie vinnig vatbaar vir wurmbesmetting, veral haarwurms. Om te doseer help ook nie aangesien die diere so swak is dat baie van hulle vrek na dosering. By ander hervat besmetting weer baie vinnig. Ek het hulle al weer gespuit vir bloednier, pasteurella, lamsiekte en gee ook vitamiene - aanvullings, lekke, malasse ens. My ander skape toon geen probleme nie, maar is ek bang dat hierdie probleem na hulle kan versprei. Ek het nou reeds 45 van hierdie skape verloor. Kan u my help asseblief? - Hanri Maritz (hanrim@lantic.net)
Antwoord:
Ek dink jy som jou probleem in die eerste sin op: "Oud" en "dragtig" en dan is die diere nog gestres ook as gevolg van die vervoer. Hier is heel moontlik twee sindrome ter sprake. Ou ooie wat swaar dragtig is, kan baie maklik vervoerverlamming ontwikkel. Dit is 'n kalsiumtekort wat veroorsaak dat die diere verlam word.
Dit is eitlik 'n noodgeval en die diere moes dadelik kalsium binneaars gekry het. In diere wat nie so erg aangetas is nie, kan die kalsium onderhuids toegedien word. Indien hierdie ooie dan nie genoeg kos vreet met genoeg energiewaarde nie, sal hulle nog 'n energietekort ook ontwikkel. In die kort termyn is al wat so 'n ooi dan kan red, binneaarse glukose. Oor die langer termyn sal die byvoeding van mielies help om die energievlakke aan te vul.
Wat die ontwurming betref, sal u moet seker maak dat u nie met 'n middel doseer waarteen daar weerstand is nie. Veral die witmiddels is geneig om in sekere gevalle nie te werk nie. Probeer iets soos "Nemasol NF" (G3312) wat levmisool bevat.
7 September 2005