Vraag:
So rukkie terug was daar gesprekke oor vratte op beeste (op Landbouweekblad se gespreksforum). Een van die oplossings wat aangebied is, was om stroop/melasse op die vratte
te smeer. Ek neem aan die diere lek daaraan en immuniseer hulself op die een of ander manier.
Ek hou nogal van die idee - eerder dít as om die vratte met 'n knyptang te knyp. Kan hierdie behandelde diere saam met die "gesondes" loop of moet hulle afgekamp word? Ek wonder maar net, want as hulle saam met die ander diere gaan loop, gaan hulle (die gesondes) mos ook aan die vratte lek. Kan hulle nie dan aansteek nie? Louise Mouton -(llmm@webmail.co.za)
Antwoord:
Basies word die vratte veroorsaak deur 'n papiloma-virus wat wel aansteeklik is en lank in die omgewing kan oorleef. Dit tas gewoonlik net jonger diere aan en die vratte verdwyn (krimp en val af) gewoonlik binne een jaar.
Dit dring die vel gewoonlik deur 'n wond in soos wat veroorsaak word deur 'n doringdraad of vreetbakke met skerp punte.
Indien dit baie erg is of baie diere aantas, kan van die vratte na Onderstepoort Biologiese Produkte gestuur word om 'n entstof vir jou plaas te maak, maar dit is gewoonlik nie nodig nie - die vratte word opgemaal, die virus dan met formalien doodgemaak en dit word dan gefiltreer en in 'n enstof gesit.
Soos ek geskryf het, is dit meestal nie nodig nie want ons sien die vratte redelik gereeld. En dan, skielik, as ons eendag weer daardie dier soek, is dit gesond.
Die teorie agter die knyp van vratte met 'n tang is om die bloedvate binne die massa te breek in die hoop dat daar van die virus in die bloedstroom gaan beland sodat die liggaam immuniteit daarteen kan opbou. So, jy hoef nie te probeer om elk vrat af te trek of af te draai nie maar 'n paar moet net goed gekneus word. Die prosedure is ook nie baie seer nie want die vrat self is 'n onnatuurlike weefselgroei en is nie vol senuweepunte nie. As jy dit probeer aftrek is dit wel pynlik omdat dit moet afskeur daar waar die vrat en die normale vel bymekaar kom.
Melasse of stroop sal nie veel help nie - dit help net in gevalle wat in elk geval self binne 'n maand of wat sou herstel het.
Hou die aangetaste diere eenkant as dit enigsins moontlik is.
Omtrent alle diere herstel self (bou immuniteit op) in minder as een jaar.
19 Oktober 2005