Landbou
Wurmweerstand ingevoer?
Dr. FAFFA MALAN

Vraag:
In 'n vorige uitgawe van Landbouweekblad het 'n artikel verskyn wat daarop neerkom dat diere wat op aangeplante weiding in Suid Afrika wei, kroniese wurmbesmetting opdoen. Soos ek dit verstaan is die afleiding dat die wurms weerstandig geword het teen huidige aktiewe bestanddele wat in doseermiddels gebruik word. My ondervinding hier in Namibië is dat die doseermiddels tans nog doeltreffend is teen neuswurm, lintwurm. ens. My vraag is of die weerstandbiedende wurms nie hierheen ingevoer kan word deur middel van gebaalde lusern wat tans deur ons koöperasie ingevoer word soos vanaf die Wes-Kaap nie? - Kallie van Greunen (callie@iway.na)

Antwoord:
Vir besmetlike wurmlarwes om in die gebaalde lusern teenwoordig te wees moes besmetlike diere wat eiers uitskei op die lusern gewei het en daar gemis het. Die eiers in die mis moes dan uitgebroei het en die larwes op die lusernplante migreer het. Die kanse is baie skraal dat boere wat lusern produseer, skape op hierdie weidings laat loop. Ek dink nie hulle kan dit bekostig dat skape hul profyt opeet nie.

Larwes kan alleen oorleef as daar genoegsame vog in die bale teenwoordig is want anders sal hulle gou uitdroog en doodgaan. Teoreties is dit seker wel moontlik dat 'n paar larwes kan oorleef maar ek dink nie u hoef u daaroor te bekommer nie. Ek het met my vriend, dr. Flip van Schalkwyk, gepraat, wat baie wurmproewe doen en gemaalde lusern voer en hy het nog nooit 'n probleem opgetel nie.

21 November 2005