Vraag:
Sekere vee- en wild-lekblokke op die mark bevat aalwyn. Dit help teen bosluise op vee en wild. Ek het 'n ruk terug begin om so vyf aalwyn blare (spesie onbekend) saam met 'n half sak mielies te maal en aan so 20 beeste een maal per week te voer. Daar is nou byna geen bosluise aan die beeste nie. Ek neem aan dat aangesien aalwyn as byvoeging geregistreer is, dit veilig is. Wat behoort die dosis te wees? - Daan Eramus (daan.erasmus@kumbaresources.com)
Antwoord:
Prof. Leon Fourie, voorheen van die departement Dierkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en wat nou 'n geakkrediteerde laboratorium, Clinvet bedryf, het aan my die volgende mededeling gemaak:
Sy laboratorium het 'n wetenskaplik beheerde proef gedoen om vas te stel of aalwyn 'n effek op bosluise het. Hulle het 5 keer die aanbevole dosis aalwyn vir beeste gegee. Die bevinding was dat hulle geen effek van bosluisbeheer met aalwyn kon kry as die behandelde diere met onbehandelde kontrole diere vergelyk is nie. Die bevindings word binnekort in 'n erkende wetenskaplike joernaal gepubliseer.
Daar word baie aansprake gemaak van produkte wat parasiete beheer, sonder enige wetenskaplike bewyse. Boere moet maar ligvoets loop en bewyse aanvra.
25 Januarie 2006